Suid-Afrika staan sy wolskoene vol by 2025 IWTO-kongres

Estimated reading time: 4 minutes

’n Suid-Afrikaner, Paul Lynch, is onlangs tot die uitvoerende raad van die Internasionale Wol- en Tekstielorganisasie (IWTO) verkies. Só het Deon Saayman, uitvoerende hoof van Cape Wools SA (CWSA) vertel tydens die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se onlangse algemene jaarvergadering. Lynch is ’n direkteur van CWSA en Standard Wool.

Dié verkiesing het tydens die 94ste Internasionale Wol en Tekstiel-organisasie (IWTO)-kongres plaasgevind wat 20 tot 22 Mei in Lille, Frankryk, gehou is. Saayman het oor die kongres uitgebrei waar hy gesê het dat ’n geleentheid soos die IWTO-kongres ’n geweldige belangrike platform vir die hele wolwêreld skep om wol-spesifieke aangeleenthede te bespreek.

Saayman beskryf die verkiesing as ’n baie positiewe gebeurtenis vir die Suid-Afrikaanse wolbedryf en dat dit as ’n groot pluimpie vir Suid-Afrikaanse wolprodusente kan dien. “Alhoewel Suid-Afrika as die klein boetie van Australië beskou word in terme van wolproduksie,” sê hy, “is Suid-Afrika op hierdie stadium steeds die grootste verskaffer van gesertifiseerde wol in die wêreld. Dit is eintlik merkwaardig as ’n mens in ag neem hoe vinnig ons land se produsente by sertifisering aangepas het om aan die mark se behoeftes te voldoen.”

Die kongres het uit verskeie werksgroepe bestaan en ook ’n ‘enjinkamer’ waar al die moeilike gesprekke plaasgevind het wat deur die IWTO se uitvoerende komitee goedgekeur word alvorens dit by die IWTO se algemene vergadering (general assembly) uitkom.

Dr George de Kock, Cape Wools SA-voorsitter en Deon Saayman, Cape Wools SA-uitvoerende hoof tydens ’n pouse by die onlangse IWTO-kongres.

SA-China-vergadering

Buiten die magdom ander sake wat aandag by die kongres geniet het, het die Suid-Afrikaanse delegasie ook ’n vergadering met die Chinese werksgroep belê waartydens handelsbetrekking, sowel as wolinvoere en -uitvoere bespreek is.

Nog iets wat by die kongres uitgestaan het, was ’n gesprek oor die sogenaamde ‘golden thread’ wat na die wolwaardeketting verwys en die feit dat die meeste produsente regoor die wêreld, wolprodusente ingesluit, ekonomies swaar trek. Die bespreking het gewentel rondom die behoefte wat daar is om vir produsente ekstra waarde in die wolwaardeketting te probeer skep sonder dat die implementering daarvan enige kostes vir wolprodusente teweeg sal bring.

Die IWTO-kongres wat vandeesmaand in Frankryk gehou is, is deur ongeveer 300 mense van oor die hele wêreld bygewoon.

Groen gevaar of geleentheid?

Daar het ook lang gesprekke plaasgevind oor wetgewing in Europa en die Europese Kommissie wat die ‘EU Green Deal’ wil instel op produkte se omgewingsvoetspoor (PEF), wat ‘n baie groot impak op alle vesel tot gevolg gaan hê. Saayman is van mening dat die verantwoordelikheid om hierdie wetgewing te probeer verander om meer in die guns van wolprodusente te tel, vierkantig op die skouers van die IWTO en Cape Wools SA rus.

Veranderende verbruikers

“Iets wat baie opvallend by die kongres was, was die ‘Young Professionals Programme’ waar die wyse waarop kommunikasie met die verbruiker plaasvind, en hoe die verbruiker se voorkeure oor die tyd heen verander het, onder die soeklig geplaas is,” sê Saayman. “Dit is iets wat ons as die wolbedryf ernstig moet bejeën, veral omdat die jonger generasies anders as die ouer generasie kommunikeer.

Ons wil graag meer fokus op hoe die wol-boodskap aan verbruikers oorgedra word en ook kyk hoe bemarking van die produk by veranderende tye aanpas. Dus, om vanjaar se kongres op te som, was daar regtig baie goeie en positiewe gesprekke wat die onderskeie lande na hul wolprodusente kan uitdra.” – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Cape Wools SA by 041 484 4301 of capewool@capewools.co.za.

Related

Government and ARC gives update on FMD vaccine numbers

Estimated reading time: 3 minutes The Agricultural Research Council (ARC) confirmed on 1 April that it has released another 20 000 doses of locally produced foot-and-mouth...

26th AFSTA Congress: Empowering Africa’s future, one seed at a time

Estimated reading time: 6 minutes Seeds are not just agricultural inputs; they embody our future, the promise of a resilient Africa in the face of...

Meet the new NAMC board

The minister of agriculture, John Steenhuisen, recently announced the appointment of ten new members to the National Agricultural Marketing Council (NAMC). These members will...