Monday, December 8, 2025
HomeMagazinesSpaanse en fluitjiesriet: Verskille, gebruike en beheer

Spaanse en fluitjiesriet: Verskille, gebruike en beheer

Estimated reading time: 6 minutes

Charlie Reinhardt, professor in agronomie en onkruidwetenskap by die Noordwes-Universiteit, het ’n ruk gelede op Plaas TV met Lise Roberts gesels oor Spaanse riet (Arundo donax), wat regoor die land voorkom en veral by damme probleme veroorsaak. As ’n kenner van onkruid- en onkruiddoder, lei prof Reinhardt ook tans ’n navorsingsprogram oor onkruidweerstandigheid by die Universiteit van Pretoria.

Eienskappe van Spaanse riet

Dié meerjarige plant, wat tot sewe meter hoog kan groei, kom natuurlik in Europa en Asië voor en hou van klam eerder as nat gebiede. Dit is ’n aggressiewe indringer in Suid-Afrika en gedy veral in die oostelike dele van die land.

Spaanse riet blom selde en indien wel, gebeur dit slegs waar dit 1 000m bo seevlak groei. Die feit dat dit selde en slegs in sekere omgewings blom, is een van die eienskappe wat dit van twee ander bekende rietspesies – gewone fluitjiesriet (Phragmites australis) en Laeveld-fluitjiesriet (Phragmites mauritianus) – onderskei. Die riete wat ons in die sentrale, hoërliggende dele van ons land sien blom, is uitsluitlik fluitjiesriet.

Nog ’n onderskeidende eienskap van Spaanse riet is die groter blaarlobbe (waar blare by die stam aansluit) teenoor dié van ons eie gewone fluitjies- en Laeveld-fluitjiesriet, wat onopvallende blaarlobbe het.

Rietspesies vergelyk

Anders as Spaanse riet, floreer fluitjiesriet in nat plekke. Die riete het sterk ondergrondse wortelstokke en kan weer wortel skiet wanneer die stamme afgesny word om as pale gebruik te word, en selfs nadat plante bolangs deur onkruiddoders of brande gedood is.

Fluitjiesriet wat in rivierbeddings groei, kan daartoe lei dat water wat vinnig afkom, opdam en die natuurlike infrastruktuur beskadig. Nes Spaanse riet, kan dit nuttige plantspesies verdring waar dit aan rivieroewers, in vleilande en by damme groei.

Spaanse riet is ’n indringerplant in Suid-Afrika wat maklik met die twee tipes inheemse fluitjiesriet verwar word.

In Clive Bromilow se boek Probleemplante van Suid-Afrika skryf hy dat die gewone en Laeveld-fluitjiesriet van water hou, en tot op ’n diepte van tussen 1,5 en 3m kan groei. Behalwe dat die riete ontspanningsgeriewe kan belemmer, waterweë kan verstop en stagnasie bevorder, meld hy dat die plant tóg nuttig kan wees wanneer dit vir die beheer van gronderosie aangewend word, om te keer dat modderige vloedwater die walle wegspoel.

Verder is dit geen geheim nie dat die verdigting van riete gewoonlik ook ’n groot aantrekkingskrag vir natuurlewe is.

Beheer met onkruiddoders

Omdat fluitjies- en Spaanse riet maklik met mekaar verwar word, is dit belangrik om eers ’n positiewe identifikasie te maak, voordat drastiese beheer met chemikalieë of onkruiddoders toegepas word.

“Spaanse riet is gewoonlik baie stewig in die grond geanker, wat dit moeilik maak om fisies te verwyder,” sê prof Reinhardt. “Die plante se sterk wortelstelsel is ook een van die redes waarom dit so maklik versprei. As ’n mens dit fisies wil verwyder, moet die hele wortelstok onderwater of ondergronds uitgehaal word, anders sal hergroei plaasvind.

“Die gemak en ekonomie van doeltreffende chemiese beheer met onkruiddoders is ’n maklike opsie en algemene praktyk vir die beheer van Spaanse riet. Op ’n mikrovlak is daar egter ’n ekostelsel wat afhanklik van die riete is en chemiese behandeling kan nadelige gevolge vir die omgewing inhou as dit nie korrek en verantwoordelik gebruik word nie.”

Prof Reinhardt waarsku dat die grootskaalse, vinnige doodmaak van riete met onkruiddoders noodsaaklike plantspesies, voëls wat in die riete nesmaak en watervoëls kan benadeel. “As ’n onkruid- of enige ander plaagdoder nie reg aangewend word nie, kan dit ’n bedreiging vir mens en dier inhou.

“In dié stadium is min onkruiddoders geregistreer om Spaanse en fluitjiesriet te beheer. Die aktiewe bestanddeel in die middels is glifosaat, wat nie werklik ’n beduidende uitwerking op die omgewing het nie, danksy die geweldige verdunningsfaktor en vinnige afbreking deur mikrobes. Nog ’n onkruiddoder is imasipir.”

Albei onkruiddoders is onder verskeie handelsname in Suid-Afrika geregistreer, maar nie al die produkte is vir lugtoediening en toediening in wateromgewings geregistreer nie.

Korrekte toediening is krities

Die korrekte dosis van enige onkruiddoder is die spil waarom alles draai. Gewoonlik beland ’n gedeelte van die onkruiddoder in water en as dit oor ’n lang tydperk gebruik word, hou dit ’n groter risiko vir sensitiewe organismes in, veral wanneer voorgeskrewe dosisse oorskry word.

“As water wat vir besproeiingsdoeleindes aangewend word, deur onkruiddoder besmet sou raak,” verduidelik hy, “kan dit ’n produsent se gewasse beskadig. Die korrekte dosis moet op die voorgeskrewe wyse aangewend word om te voorkom dat sensitiewe organismes daaraan blootgestel word. Die middels moet ook vinnig kan afbreek in die omgewing, sodat dit slegs die riete sal affekteer en nie ander organismes nie.”

Die stamme van fluitjiesriet word dikwels afgesny en as paaltjies gebruik, maar hierdie riete dien ook ’n belangrike doel om gronderosie te bestry.

Hy beveel aan dat slegs middels wat volgens die Wet op Misstowwe, Veevoer, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet 36 van 1947) geregistreer is, gebruik word en dat daar by die voorgeskrewe dosisse gehou word. Daar moet te alle tye verantwoordelik en beskermend teenoor die omgewing opgetree word.

Prof Reinhardt stel voor dat die riete rondom damme of langs riviere stuk-stuk behandel word, in plaas daarvan om alles op een slag te probeer verwyder. Dit is ongelukkig ’n tydsame en duurder proses wat nougesette bestuur vereis en waarvoor nie almal kans sien nie.

Benutting van riet vir veevoer

As veld- en weidingskonsultant, sê prof Chris Dannhauser dat Spaanse riet oor die algemeen nie ’n gewilde plantspesie is nie, maar dat dit tog in sekere lande as veevoer gebruik word. Die riet vergelyk goed met fluitjiesriet wat, hoewel dit nie algemeen vir weiding gebruik word nie, plaaslik tog soms as veevoer gebruik word.

“As dit bewei word, moet dit in ’n jong stadium van die plant gebeur, voordat dit ’n hoogte van 60 tot 70cm bereik, omdat die voedingswaarde daarvan dan nog aanvaarbaar is. Plante wat hoër as dit groei, raak baie veselagtig en minder smaaklik.”

Behalwe dat die klam of nat gebiede waar die riete voorkom, beweiding kan bemoeilik, is die oes daarvan nie ’n eenvoudige taak nie. Die hooi wat gesny word, moet oopgesprei word om uit te droog, om te verhoed dat swamme daarin groei en tot verrotting lei.

Fluitjiesriet word wel as ’n goeie bron van noodvoer vir beeste en skape beskou. Die riete se blare bevat soveel as 19% proteïen en het ’n veselinhoud wat tussen 17 en 35% wissel. Die verteerbaarheid daarvan is egter laag, omdat ’n groot gedeelte van die vesel uit onverteerbare lignien bestaan, wat die inname daarvan kan belemmer.

Voerpille word ook van fluitiesriet gemaak. As dit nog ’n jong plant is, het dit ’n totale verteerbare voedingstofinhoud van sowat 58%, waarvan 12% ruproteïen is. “Daarom word dit in ’n jong stadium gesny vir hooi om kuilvoer van te maak,” sê prof Dannhauser. “Dit produseer nie ’n graan nie; dus sou ek aanbeveel dat dit saam met mieliegraan en melasse ingekuil word.” – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak prof Charlie Reinhardt by 083 442 3427 of prof Chris Dannhauser by 082 873 4736.

Must Read

SAPPO Retail Price Statistics: November 2025

The monthly SAPPO Retail Price Statistics Report provides detailed statistics and trends on the retail prices of various meat products, including pork, chicken, beef, and lamb. Monthly Price...