Smithfield kraai koning in unieke loks 3-kompetisie

Estimated reading time: 4 minutes

Die Smithfield-distrikslandbou-unie het koning gekraai tydens die eerste loks 3-kompetisie wat vroeër vandeesmaand in die Suid-Vrystaat afgeskop het.

Dié kompetisie is die breinbaba van die Bitterbos-studiegroep in Smithfield. OVK, die landboumaatskappy met sy hoofkantoor in Ladybrand, het sy korporatiewe steun vir die kompetisie gegee om sodoende produsente te help om hul wolgehalte te verbeter.

Die doel van die kompetisie is dat elke produsent – as deel van sy boerevereninging – sy of haar loks 3-baal na OVK stuur om die gewig en gehalte van die verskeie boereverenigings se bale teen mekaar op te weeg.

Hoekom loks 3?

Die kompetisie is die inisiatief van die boeregemeenskap en boereunies wat deelgeneem het. Daar is besluit om op loks 3 wol te fokus omdat dít ’n tipe wolklas is wat alle produsente kan lewer en dus nie net diegene met die mooiste wol insluit nie.

Nadat skaapwol geskeer is, word dit in verskillende tipes geklas na gelang van die gehalte. So word die beste tipe wol byvoorbeeld as vagwol geklas, en die ‘swakste’ tipe word as die lokswol geïdentifiseer en in vier verdere klasse onderverdeel.

Terwyl die beste wol van die skeersel gewoonlik al die aandag kry, bied hierdie kompetisie nou ’n geleentheid om ook op ’n manier erkenning aan die swakker wol van die skeersel te gee.

’n Interessante feit is dat net 25 tot 30% van die gewig van ’n baal lokswol doeltreffend gebruik kan word. Die res van die baal bestaan uit bossies, sade, grond, en ander onsuiwerhede.

‘n Netwerkgeleentheid

Hierdie kompetisie bied nie net geleentheid vir gesonde kompetisie onder die produsente en boereverenigings nie, maar skep ook ’n netwerkgeleentheid waar produsente en wolkopers nou een keer per jaar in Port Elizabeth bymekaar kan kom en skouers kan skuur.

Skaapboere het ook in die proses die geleentheid gekry om OVK se wolstoor van nader te beskou en die prosesse te besigtig en beter te verstaan.  Die loks 3-veiling wat vir doeleindes van die kompetisie aangebied was, was die laaste veiling van die seisoen.

Die wolkopers was goed verteenwoordig by die geleentheid, met onder andere verteenwoordigers van Stucken & Co., G Modiano SA, Pinnacle Fibres, Standard Wools SA, Lempriere SA en Segard Masurel wat die geleentheid bygewoon het. Die interaksie tussen die wolagente, wolkopers, en produsente verseker dat die onderskeie rolspelers mekaar beter verstaan.

Kompetisiewenners

Die uitslag van OVK se eerste loks 3-kompetisie is op Dinsdag, 10 Junie, tydens ’n saamkuier-geleentheid bekendgemaak.

Die kompetisie bestaan uit twee afdelings: Die boereunie wat die swaarste bale ingeskryf het, en die boereunie wat die skoonste wol ingeskryf het.

Die wenners van die eerste afdeling (hoogste gewig) was Smithfield se distriksboere-unie, met 1 823kg wol. Wim Steenkamp het die prys namens die unie ontvang.

Trompsburg-distriksboere-unie was tweede en Hendri van Schalkwyk het die trofee ontvang. Hulle totaal was 1 819kg wol. Daar was net 4kg verskil tussen die twee boereunies se inskrywings!

Rouxville-distrikslandbou-unie was in derde plek met 897 kg wol en Dick du Plessis het die toekenning namens sy unie ontvang.

In die tweede afdeling waar die unie met die skoonste bale vereer is, het Trompsburg-boereunie met die louere weggestap vir hul 1 645kg wol. Smithfield-boereunie was tweede en Rouxville-boereunie derde.

Die Smithfield-distrikslandbou-unie is as die algehele wenner aangewys en hulle het ’n prys van R5 000 kontant, geborg deur OVK, asook ’n wisseltrofee ontvang. Die trofee is in die vorm van ’n skaapskêr wat spesiaal vir die kompetisie gemaak is. Dit sal by OVK se kantoor in die Baai uitgestal word. – Illa Hugo, Plaas Media

Isane Botha, junior wolbemarker by OVK se wolmonster-uitstalarea waar kopers die wol voor ’n veiling waardeer.

Enige boereunies of -verenigings wat wil deelneem of inligting wil hê, kan Jan Marais, tegniese veldbeampte van OVK, by 079 511 5087 skakel.

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...