Estimated reading time: 4 minutes
Suid-Afrika het vanjaar wonderlike reën gekry en selfs op die mees onwaarskynlike plekke, staan die gras heuphoogte. Die geil veld beteken natuurlik ook ’n oorvloed van potensiële brandmateriaal. Die wintermaande is hier en teen Augustus kan produsente regoor die land weer kwaai veldbrande verwag, selfs in gebiede waar veldbrande nie gereeld voorkom nie.
ARF donates firefighting equipment worth more than R400 000
Volgens die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, 1998 (Wet 101 van 1998) is elke grondeienaar of -gebruiker verantwoordelik vir die beheer van veldbrande op sy plaas. Dit is dus belangrik dat produsente paraat moet wees vir probleme wat kan opduik. Elkeen is daarvoor verantwoordelik om alles in sy vermoë te doen om te keer dat ’n veldbrand wat op sy plaas ontstaan, na ander plase versprei.
Die beginpunt van goeie voorbereiding, is om vroegtydig die nodige brandpaaie te maak en dit in stand te hou. Brandpaaie moet ’n minimum van 4m breed wees langs die grensdraad van die plaas. Daar moet ook met die buurman ooreengekom word oor die maak van brandpaaie. Daarby moet die nodige brandbestrydingstoerusting altyd gereed en in perfekte werkende toestand wees.
Waar om te begin
Ongelukkig is almal nie altyd voorbereid op veldbrande nie. Frikkie Ströh, direkteur van bemarking en uitvoer by Safequip, sê elke produsent behoort die regte toerusting te hê waarop hy in ’n noodsituasie kan staatmaak. Volgens hom is die belangrikste toerusting wat op elke plaas behoort te wees, ’n mobiele brandbestrydingseenheid, vuurslaners, ’n drupfakkel (drip torch), rugsaksproeiers en brandblussers op elke voertuig.

Verder is standaard tipe grawe en harke ook nodig om brande te help bestry, en vir die mense wat die werk moet doen, moet beskermende klere en houers vir drinkwater beskikbaar wees. Die Wet op Veld- en Bosbrande bevat ’n lys van minimumvereistes vir toerusting wat per eiendomsgrootte voorgeskryf word.
Klik hier vir meer oor die voorgeskrewe minimumvereistes en wenke vir brandvoorkoming.
Koop slim
Frikkie se raad is om toerusting van ’n betroubare fabrikaat aan te skaf, en vanaf ’n handelaar wat goeie naverkopediens en tegniese ondersteuning kan waarborg. Jou toerusting moet jou allermins nie op die uur van nood in die steek laat nie.
“Baie boere kyk na die goedkoopste opsie vir hierdie toerusting,” sê hy, “maar dit is belangrik dat jy betroubare handelsmerke gebruik waarvoor onderdele geredelik beskikbaar is. Om die toerusting in stand te hou, moet dit ook voor elke brandseisoen getoets word, en die enjins en pompe moet gereeld aangeskakel word om seker te maak alles werk nog en is gereed as die noodlot sou toeslaan.”
Hy voeg by dat dit noodsaaklik is om die brandbestrydingseenhede met water gevul te hou, sodat dit dadelik gelaai kan word as ’n brand uitbreek. Dit is ook wenslik om ekstra brandstof naby die toerusting te stoor, sodat daar nie ’n geskarrel is wanneer jy vinnig moet optree nie. “Stoor die brandtoerusting op ’n plek waar dit maklik toeganklik is,” sê hy.
Wenke vir die beheer van brande
Frikkie sê ’n mens kan nooit die paraatheid om veldbrande te beheer, genoeg beklemtoon nie. Sy goue wenke vir die voorkoming en beheer van veldbrande sluit in:
- Wees voorbereid en proaktief, en maak brandpaaie waar ook al daar ’n redelike kans vir veldbrande is.
- Maak seker jy het die nodige en voorgeskrewe brandtoerusting, beskermde klere en opgeleide werkers in plek om ’n veldbrand te beheer.
- Bly op hoogte van aanduidings van veldbrandrisiko’s in jou omgewing, deur byvoorbeeld www.weathersa.co.za/home/fireindex dop te hou.
- Hou brandslaners gereed om veldbrande vinnig te stuit.
- Sorg dat noodnommers asook jou bure se kontaknommers beskikbaar is as ’n brand sou uitbreek.
- Bly bewus van die moontlikheid dat ’n brand op jou plaas of naburige plase, vinnig kan uitbrei. – Koos du Pisani, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Frikkie Ströh by 011 397 7723.
