Verlede jaar is Simpson & Son Farming as algehele wenner en nasionale kuilvoerkoning gekroon in Plaas Media se Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie. Dié erkenning was egter bittersoet vir die Simpson-gesin, ná die afsterwe van Shane se seun, St John Simpson, in ’n veldbrand, enkele weke voor die aankondiging.
Hulle wenkuilvoerbunker is deur Meadow Feeds Natal ingeskryf en het ’n algehele telling van 87,6 behaal. Volgens prof Robin Meeske van die Outeniqua-navorsingsplaas en voorsitter van die kompetisie se protokolkomitee, het verskeie aspekte van hierdie kuilvoer uitgestaan. Dit was egter die algehele kompaksie, bolaagkompaksie, kuilvoerstabiliteit, hoë styselinhoud, hoë energie-inhoud en uitstekende bewaring, wat dié inskrywing kop en skouers bo die res laat troon het.
Die Simpsons het in 2019 die eerste keer aan die kompetisie deelgeneem en daardie jaar die tiende plek behaal. Prof Meeske sê dit is ’n duidelike aanduiding van die waarde van die kompetisie ten opsigte van verbeterde kuilvoerpraktyke.
Goeie benutting van weiding
Shane is die vierde geslag Simpson wat in die Kokstad-omgewing boer. Dit was sy idee om die boerdery se fokus na ’n weiveldgebaseerde melkery te verander. Hulle melk tans in twee stalle: 450 koeie op Misty Hill Farm en 1 200 koeie op hul tuisplaas, Cooperdale. Hulle het altesaam 80ha mielielande onder besproeiing en 37ha droëland vir mielies.
Afgesien van die melkkudde, bedryf hulle ’n Angusbeeskudde van sowat 350 koeie om die veld op die plaas te benut. “Die Nieu-Seelanders het ons geleer hoe om met gras vir melkkoeie te boer. Hulle het ’n baie komplekse onderneming doeltreffend gestruktureer om die beste uit gras te haal,” sê Shane.
“Ons produksiestelsel is op raaigras, droëland-kikoejoe, mielie- en graskuilvoer, en suiwelkonsentrate gebaseer. Die doel is om die koeie se dieet met 55 tot 60% weidingsgras te vul, en die res met kragvoer en kuilvoer op te maak.
Gepaste genetika
“Ons het besluit om die tipe koei te verander sodat dit beter by ons stelsel inpas. Die Nieu-Seelandse Fries is ’n heel ander dier as die Noord-Amerikaanse Holstein. Ons gebruik al byna 20 jaar Nieu-Seelandse genetika en ek glo dat ons naby aan die ideale koei vir ons omstandighede en behoeftes is.”
Die eienskappe waarop hulle die meeste klem lê is melk, langslewendheid en vrugbaarheid. “Waar ons vroeër bulle aan die hoër kant van melkproduksie geselekteer het, soek ons nou na ’n gemiddelde bul. Dieselfde geld vir kapasiteit, aangesien jy nie sommer fyn Nieu-Seelandse bulle kry nie.
“Ons selekteer ook nie spesifiek vir melkvastestowwe nie, omdat die hele Nieu-Seelandse melkbedryf op vastestowwe gebaseer is. Die implikasie is dat hul genetika in hierdie opsig as ’n reël hoog is. Ons gemiddeld is sowat 4,01% vet, wat ’n ekonomiese teiken is.”
Tans is die gemiddelde koeigrootte in die kudde 507kg. Hulle verwag van hul koeie om meer as 6 000ℓ per laktasie te produseer en die verse meer as 4 500ℓ – die huidige gemiddeld is 7 126ℓ.
Hulle bestuur twee kalfseisoene met sowat 70% van die kudde wat in die vroeë lente kalf – van einde Julie tot September– terwyl die res in Februarie en Maart kalf.
“Hierdie ekstra kalfseisoen was aanvanklik om aan die vereistes van die melkkoper, Dairy Group, te voldoen, maar ons het gesien dat dit ’n paar ekstra voordele inhou. Die uitdaging is egter om elke koei in haar groep te hou, wat beteken dat ons ’n tussenkalfperiode van ongeveer ’n jaar moet handhaaf. Slegs hoë produserende koeie mag oorslaan, en dít net een keer. Dit is ook handig om haar na die volgende groep, wat in die herfs kalf, te kan skuif.”
Goeie bestuur = winsgewendheid
Die bestuur van ’n winsgewende suiwelonderneming hang grootliks van die stelsel af. Redes waarom die een melkboer beter as die volgende vaar, word deur verskeie faktore bepaal, maar elkeen het met bestuur te make. Noukeurige aandag aan elke faset van die besigheid is noodsaaklik en volgens Shane is daar geen kortpaaie na sukses nie.
“Een van die faktore wat winsgewendheid bepaal, is die aantal verse wat jy in jou kudde gebruik. Dit hou direk verband met die langslewendheid van jou koeie. Die persentasie van die rantsoen wat uit kragvoer bestaan, speel eweneens ’n groot rol.”
Shane verduidelik dat ’n mens ’n hoë-inset, goedkoop stelsel kan hê – dit hang alles van die opbrengs af. “Jy kan agt ton droëmateriaal (DM) per hektaar mielies vir kuilvoer opkerf sonder baie insette. Aan die ander kant kan jy 20 ton DM per hektaar kry met hoër insette. Laasgenoemde kos dikwels minder per ton as die lae-inset-scenario.
“In weiding én kuilvoer speel tonnemaat die belangrikste rol. Daar is egter ook iets soos die vermindering van marginale opbrengste, wat beteken dat jy op ’n punt kom waar verdere insette nie proporsioneel genoeg sal wees om dit die moeite werd te maak nie. Die kuns is om die perfekte balans te vind.”
Resep vir wen-kuilvoer
Shane dring daarop aan om altyd oortollige kuilvoer te hê wat as ’n voerbank gebruik kan word. Hulle het tans ’n jaar se voorraad kuilvoer as buffer.
“Ons kuilvoerproduksie het ’n nuwe vlak bereik nadat kuilvoerkonsultant Richardt Venter ons in 2018 kom adviseer het. Hy het spesifieke swakhede uitgewys, soos onvoldoende kompaksie, te veel heel pitte en oormatige bederf aan die bolaag. Op een van die putte het die oppervlaktebederf ’n berekende verlies van sowat R110 000 beloop.”
Shane sê hul kuilvoerkontrakteur, Jed van Niekerk, het dadelik ingespring om hierdie probleme reg te stel. Vir die kompaksie het hy ’n swaar Bell-sleeptrekker begin gebruik. Hulle het ook ander veranderinge gemaak, soos om ’n bufferoplossing uit ’n mengsel van organiese sure, wat op propioniensuur gebaseer is, op die oppervlak van die kuilvoer te spuit voordat dit bedek word.
Kuilvoerbedekkings word só geplaas dat die seile mekaar oorvleuel en dit word saamgerol om digtheid te bevorder en te keer dat lug die kuilvoer binnedring. Bande word bo-op gepak om seker te maak dat alles lugdig bly.
Hierdie veranderinge het soveel vrugte afgewerp, dat die Simpsons binne een jaar van die tiende na die eerste plek in die kuilvoerkompetisie gespring het. Shane sê dit was absoluut die moeite werd: “Ek het die laagste kuilvoerkoste in ons studiegroep!”
Bittersoet sege
Simpson & Son Farming was nog altyd ’n spanpoging, met Shane, sy vrou Louise, hul seun St John, en hul skoonseun en dogter, Byron en Shanlee Smit, wat elkeen hul rol gespeel het. St John se ontydige dood het ’n groot leemte gelaat.
Shane gee Rachel, St John se vrou, die laaste woord: “Hy was altyd lief vir boerdery en hy het baie in die wetenskap daaragter belanggestel,” sê sy. “Hy sou so opgewonde gewees het oor hierdie toekenning. Hy het dit geniet om stelsels te verfyn en dinge beter te doen. Hy het in alles na uitnemendheid gestrewe en was bereid om hárd daarvoor te werk.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Shane Simpson by 083 674 2244.