Maksimum wins mag ’n algemeen aanvaarde beginsel wees, maar as dit by melkproduksie kom het produsente elk hul eie opinie oor hoe om daarby uit te kom. Een manier is met die seleksie van melkrasbulle.
Bepaling van genetiese meriete
Die genetiese meriete van ’n melkkudde word beraam deur die amptelike melkaantekeningskema wat deur die Landbounavorsingsraad en SA Stamboek bedryf word. Elke deelnemende kudde ontvang jaarliks ’n lys van tien datums waarop die produksie van melk van al die lakterende koeie meer as vyf dae in melk, aangeteken moet word.
Op dieselfde dag word melkmonsters van dié koeie versamel en by ’n sentrale laboratorium ontleed vir die vet-, proteïen- en laktosepersentasie daarvan. Ander ontledings sluit die somatiese seltelling (SST) in die melk en melkureum-stikstofinhoud in.
Saam met die identifikasie-inligting van koeie en hul ouers, hul laaste kalfdatums en laktasienommers, asook die melkproduksie- en -samestellingrekords, word genetiese parameters vir produksie-eienskappe en die teelwaardes van koeie beraam.
’n Kuddeprofiel word opgestel met die teelwaarde-inligting van al die bulle, koeie en verse in die kudde en word met soortgelyke inligting vir die ras vergelyk. Dié beraamde teelwaardes word ook deur middel van genetiese tendense van die produksie-eienskappe in vergelyking met die ras in die kuddeprofiel aangedui.
Die kuddeprofiel dui verder aan watter koeie en verse bo en onder die rasgemiddelde is. Die voorspelde teelwaardes vir verse kan in ’n seleksieprogram gebruik word. Verse met negatiewe of lae teelwaardes vir die produksie van melk, kan op ’n vroeë ouderdom uitgeskot word om genetiese vordering te verbeter en op versgrootmaakkoste te bespaar.
Hoe word bulle geselekteer?
Ongeag die feit dat meer as 90% van die inkomste van ’n melkkudde uit melkverkope kom, word die genetiese meriete van bulle vir hul melk-, vet- of proteïenproduksie nie as primêre seleksie-eienskappe gebruik nie. Die beskrywing van seleksiedoelwitte is dikwels vaag en sluit ’n aantal bouvormeienskappe soos hoewe en bene, uiereienskappe, goed aangehegte uiers wat hoog bo die hakke is en liggaamsgrootte in.
Die semenverkope van ’n spesifieke semenmaatskappy is hier gebruik om die bulseleksiepatroon vir ’n groep melkboere te verkry. Vir ’n spesifieke jaar het nege Holsteinbulle, wat 75% van alle semenverkope verteenwoordig, ’n proporsionele, gemiddelde beraamde teelwaarde vir melk van 560kg gehad. Die gemiddelde teelwaarde vir melkproduksie van die vyf bulle waarvan die meeste strooitjies verkoop is, was egter slegs 390kg.
Deur die gebruik van ander seleksiedoelwitte, byvoorbeeld die hoogste Net Merit-waarde, die hoogste melkinkomste of die laagste semenprys, was die gemiddelde teelwaarde vir melkproduksie vir die vyf bulle binne elke seleksiedoelwit, onderskeidelik 1 114, 1 195 en 660kg.
’n Randwaarde-indeks kan vir kunsmatige inseminasie (KI)-bulle beraam word deur hul teelwaarde vir melkproduksie deur die semenkoste (in rand) te deel. Vir die nege Holsteinbulle was die randwaarde-indeks vir Net Merit, hoogste melkproduksie en laagste semenprys onderskeidelik 4,7, 6,2 en 6,9kg/rand. Hierteenoor was die randwaarde-indeks van die bulle wat deur boere gekoop is, net 3,4kg/rand.
Dit beteken dat die vyf bulle waarvan die meeste strooitjies gekoop is, die laagste teelwaarde vir melkproduksie asook die minste genetiese waarde in terme van geld bestee, gehad het.
Sou die goedkoopste bulsemen van dié groep van nege bulle gekoop gewees het, sou die genetiese meriete vir melkproduksie van die bulle hoër gewees het. Dit toon dat bulle om ander redes as vir die melkopbrengspotensiaal van hul dogters gekoop is.
Teeldoelwitte vir maksimum wins
Die belangrikste teeldoelwit behoort die melkproduksiepotensiaal van die bulle se dogters te wees. Ander eienskappe wat in gedagte gehou moet word is die vrugbaarheid en produktiewe leeftyd van koeie. Hierdie eienskappe was vroeër nie vir bulle beskikbaar nie.
Melkboere is huiwerig om baie klem op melkproduksie te plaas, omdat dit matig negatief gekorreleer is met vrugbaarheid. Dit is ook positief gekorreleer met liggaamsmassa. Vir hierdie rede sou dit beter wees om die eienskappe wat geneties gekoppel is, saam in ’n indeks in te sluit.
Semenmaatskappye maak dit maklik vir produsente deurdat hulle spesifieke seleksie-indekse vir bulle beraam. So bestaan die Amerikaanse Net Merit-indeks uit 14 eienskappe, insluitend melk-, vet- en proteïenproduksie, produktiewe leeftyd, somatiese seltelling, liggaamsgrootte, uier, voete en bene, dogter-dragtigheidskoers, kalwingsgemak, versbesettingskoers en koeibesettingskoers.
Produsente kan ook self ’n seleksie-indeks beraam deur beraamde teelwaardes vir verskillende eienskappe te gebruik. Die ekonomiese waarde van elke eienskap kan as riglyn gebruik word. Gebruik jaarliks dieselfde bulseleksiemetode vir volgehoue genetiese vordering.
Indien produsente nie aan melkaantekening deelneem nie, sal genetiese vordering nie waargeneem kan word nie.
Wetenskaplike bulseleksie
Bulseleksie deur produsente word dikwels gebaseer op die menings van ander produsente, semenagente en konsultante. Bulle word ook een-een uitgesoek of ge-cherrypick.
Bulseleksie behoort as volg gedoen te word:
- Kry ’n lys van al die beskikbare bulle vanaf die semenmaatskappy. Daar is gewoonlik drie lyste naamlik al die bulle van ’n spesifieke semenmaatskappy, al die bulle wat ingevoer is, en die aantal bulle wat op daardie stadium in die semenagent se sementenk is.
- Met al die bulle in ’n Excel-sigblad aangeteken, kan bulle van hoog tot laag gerangskik word vir spesifieke eienskappe soos melkproduksieparameters. Teelwaardes vir vet- en proteïenproduksie kan gekombineer word volgens die melkprys, byvoorbeeld R41/kg vir vet en R59/kg vir proteïene.
- Kies die boonste vyf tot ses bulle vir gebruik in die kudde.
- Beraam die gemiddelde teelwaardes vir die geselekteerde bulle om hul genetiese bydrae tot die kudde vas te stel.
Die gebruik van kuddebulle
Kan ’n kuddebul gebruik word in die teelprogram? Verkieslik nie, maar kuddebulle word algemeen gebruik op koeie met reproduksieprobleme en soms, weens praktiese redes, op verse. In sulke gevalle sou dit beter wees om ’n kuddebul by ’n verkoper wat aan die amptelike melkaantekeningskema deelneem te koop, sodat ’n voorspelde teelwaarde vir melkproduksie verkry kan word.
Om kuddebulle sonder genetiese inligting te gebruik, is ’n baie groot risiko. Selfs vir kuddebulle met voorspelde teelwaardes vir melkproduksie-eienskappe, is geen inligting oor eienskappe soos die kalwingsgemak van die bul se dogters beskikbaar nie. In die Holsteinras kan dit probleme veroorsaak wanneer ’n kuddebul op verse gebruik word.
Kuddebulle, veral Jerseybulle, kan oor tyd aggressief raak en hanteerders beseer. Die dekkoste van kuddebulle is ook hoër as normaal en behels nie net die aankoopkoste van die bul nie, maar ook voer-, behuisings- en arbeidskoste. Die enigste voordeel van kuddebulle is dat dit makliker is om koeie beset te kry.
Die grootste probleem is egter dat enige negatiewe uitwerking eers drie tot vier jaar later waargeneem word, met laer melkproduksie in eerste laktasies of verhoogde kalwingsprobleme.
Die effek van die gebruik van onbeproefde kuddebulle kan gedemonstreer word aan die hand van ’n Jerseykudde wat ’n afname in melkproduksie ondervind het. Die melkproduksie van eerstelaktasiekoeie het oor ’n tydperk van vyf jaar met 208kg/jaar gedaal. In dieselfde tyd was die afname in die melkproduksieteelwaarde 12kg/jaar. In hierdie tydperk het alle koeie binne die ras ’n toename in melkproduksie en teelwaarde ondervind.
Teelwaardes vir melkproduksie
In die kudde met die melkproduksie-afname was sowat 70% van die koeie dogters van kuddebulle. Hoewel enkele (vyf uit 22) van die kuddebulle hoër melkteelwaardes as KI-bulle gehad het, het dié bulle min dogters in die kudde gehad en was hul invloed baie beperk. Soos verwag, het 77% van die kuddebulle lae tot baie lae teelwaardes vir melk gehad.
Dit neem etlike jare om koeie met lae teelwaardes uit te skot. Dit is daarom noodsaaklik dat die regte bulle met positiewe teelwaardes vir melkproduksie geselekteer word.
Tydens die seleksie van kuddebulle moet die bulle ook volgens hul voorspelde teelwaardes vir melkproduksie-eienskappe gerangskik word. Bulle moet nie een-een uitgesoek word nie, want sodoende is daar geen aanduiding hoe so ’n bul met ander vergelyk nie.
Kommersiële paringsprogramme
Kommersiële paringsprogramme is op wetenskaplike beginsels gebaseer. Bulle kan op drie maniere aan koeie toegeken word:
- Op ’n ewekansige basis, met ander woorde, bulle word op koeie gebruik soos hulle op hitte kom.
- In kleiner kuddes kan bulle aan koeie toegeken word volgens bouvormeienskappe van koeie, en hoe die dogters van bulle gepunt is. Die oogmerk is om bulle aan koeie toe te ken op so ’n manier dat bouvormprobleme in koeie nie vererger word nie. Dit beteken dat bulle met syfers vir swakker uiers nie aan koeie wat reeds swak uiers het, toegeken moet word nie.
- Met die toenemende probleem van inteling, is dit vir groot melkkuddes beter om ’n kommersiële paringsprogram te gebruik. So word bulle aan koeie toegeken om eenvormigheid in melkkuddes te verhoog en die voorkoms van swak bouvormeienskappe in koeie te verminder, terwyl aandag ook aan die potensiële intelingskoëffisient van individuele koeie gegee word.
In ’n neutedop
Melkboere behoort aan die melkaantekeningskema deel te neem, omdat die genetiese invloed op die melkproduksie van koeie sowat 25% is en nie geïgnoreer kan word nie. En om sogenaamde topbulle te gebruik, beteken nie noodwendig dat genetiese vordering positief gaan wees nie want die definisie van sulke bulle wissel van produsent tot produsent. – Dr Carel Muller, navorsingsgenoot, veekundige wetenskappe, Universiteit van Stellenbosch
Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Carel Muller by careljcmuller@gmail.com