Estimated reading time: 6 minutes
Die Alternatiewe Veterinêre Forum (AVF), ‘n geregistreerde nie-winsgewende maatskappy wat meer as 300 veeartse verteenwoordig, sê hy ondersteun die minister van landbou, John Steenhuisen, se standpunt oor die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad (SAVR) se verkiesingsproses. Drie van die forum se direkteure, drs Brett Lourens, Jan Basch en Ockert Botha, sê hulle ondersteun Steenhuisen se opdrag dat die 2025-verkiesing van dié raad, vanaf die nominasiefase herhaal moet word.
Hulle sê die verkiesingsproses behoort onder toesig van ‘n onafhanklike verkiesingsbeampte te geskied ten einde deursigtigheid, onpartydigheid en geloofwaardigheid te verseker. Die forum, wat ook gesteun word deur ‘n opname onder meer as 700 veterinêre praktisyns, voer aan dat die veeartsenyberoep en die publiek ‘n raad nodig het wat behoorlik saamgestel is. Terselfdertyd moet dit aanspreeklik wees en fokus op dieregesondheid en voedselsekerheid, eerder as op voortslepende geskille.
Kommer oor leierskapvakuum
Steenhuisen het vandeesweek aangedui dat hy steeds daartoe verbind is om te verseker dat die SAVR behoorlik saamgestel word en sy kritieke mandaat geloofwaardig en funksioneel kan uitvoer. Sy reaksie kom nadat Dina Pule, voorsitter van die portefeuljekomitee oor landbou, kommer uitgespreek het oor die feit dat die SAVR tans sonder ’n raad funksioneer. Die registrateur het dus geen toesighoudende liggaam nie, en dit skep ’n leierskapvakuum.
Pule het ook gesê dat die SAVR in ‘n skrywe aan president Cyril Ramaphosa beweer het dat Steenhuisen sy magte oorskry het deur die uitslae van die elektroniese verkiesing te verwerp en ’n herverkiesing te beveel. Pule eis nou dat Steenhuisen voor die komitee verskyn en sy besluit verduidelik. In reaksie hierop het Steenhuisen gesê dat sy besluit om ‘n herverkiesing van die veterinêre gedeelte te eis, nie ligtelik geneem is nie. Verslae oor ernstige onreëlmatighede – soos teenstrydige sperdatums, laat diskwalifikasies, en twyfel oor die keuringsproses – het sy besluit geregverdig.
Steenhuisen meen die aanvaarding van die verkiesing kan die raad aan regsaksies blootstel en sy regmatigheid ondermyn. Hy het ook beklemtoon dat die nuwe raad bo verdenking moet wees, volle regmatigheid moet hê, en sonder afleiding moet kan funksioneer. Die herverkiesingsproses kan binne weke en met duidelike tydlyne afgehandel word.
Aanvanklike ingryping
Steenhuisen het reeds vroeg in Augustus ingegryp om bestuurskwessies in die SAVR se verkiesingsproses aan te spreek. Hy het opgetree as toesighoudende gesag en op grond van die beginsels van die King IV-verslag oor goeie bestuur, nadat beweerde probleme rakende deursigtigheid en prosedurele integriteit aan die lig gekom het. Volgens Steenhuisen het inkonsekwente en teenstrydige kommunikasie oor stemsperdatums waarskynlik daartoe gelei dat geskikte stemgeregtigdes uitgesluit is.
Daar is ook vrae oor die geskiktheid van kandidate, die billikheid van die keuringsproses, en die geloofwaardigheid van die keurpaneel. Die gebrek aan duidelikheid en toeganklikheid het moontlik die raad se regmatigheid benadeel. Hy het beklemtoon dat dit sy plig is om in te gryp waar geloofwaardige twyfel bestaan oor die regmatigheid of billikheid van ’n statutêre liggaam se bestuursprosesse. In dié konteks het hy ook verwys na Regulasie 5 van die SAVR-verkiesingsregulasies, wat spesifieke vereistes vir geldige nominasies uiteensit.
Die SAVR se standpunt
In reaksie op Steenhuisen se aanvanklike openbare kommentaar, het die SAVR sy toesighoudende rol erken, maar beklemtoon dat sekere feite reggestel moet word om wanpersepsies en ‘n verlies aan openbare vertroue te voorkom, veral in ’n tyd waar dieregesondheid en voedselveiligheid onder druk is. Delmarie Stoltz, direkteur van regsaangeleenthede by die SAVR, het bevestig dat die verkiesing ooreenkomstig die Wet op Veterinêre en Para-veterinêre Beroepe, 1982 (Wet 19 van 1982) en die toepaslike regulasies, plaasgevind het.
Verdere sleutelpunte rondom die SAVR se feitestelling sluit in:
- Aanvanklike verkiesing vir die veterinêre beroep: Drie kandidate is ingevolge artikel 6(1)(b) van die wet as ongeskik bevind, wat gelei het tot ’n herverkiesing in die veterinêre kategorie wat op 23 April 2025 begin het.
- Administratiewe fout tydens herverkiesing: Van die tien kommunikasies wat aan stemgeregtigde kiesers gestuur is – vyf van die SAVR (wat almal die korrekte sluitingsdatum van 22 Mei 2025 aangedui het) en vyf van EasyVote (die verkiesingsdiensverskaffer) – het twee van EasyVote se e-posse foutiewelik die sluitingsdatum as 23 Mei 2025 aangedui. Die fout is vinnig reggestel en het minimale invloed gehad.
- Diskwalifikasie: Een kandidaat in die veterinêre verkiesing is gediskwalifiseer kragtens artikel 6(2) nadat hy ’n valse verklaring onder eed ingedien het. Hy het klaarblyklik nagelaat om ’n vorige bevinding van onprofessionele gedrag vir ’n valse verklaring onder eed te openbaar.
- Para-veterinêre verkiesings: Hierdie verkiesings het sonder enige probleme of onreëlmatighede plaasgevind.
- Verkiesingsverslag: Die verslag is op 29 Mei 2025, betyds en volledig, ingedien.
- Geen onreëlmatighede: Daar is geen bewyse van stemknoeiery, bestuursfoute of prosedurele probleme nie.
- Raadsbesluit: Op 30 Julie 2025 het die raad eenparig aanbeveel dat die minister die nuwe raad aanstel, na oorweging van ’n onafhanklike regsmening wat deur die Departement van Landbou ingewin is.
Stoltz het gewaarsku dat die gebrek aan ’n funksionerende raad die hantering van die bek-en-klouseer uitbreking en internasionale handelsverpligtinge belemmer. Die situasie bedreig regulatoriese toesig en openbare vertroue. Sy het ook bevestig dat die SAVR dié kwessie na die parlement geneem het en ’n volledige voorlegging aan president Ramaphosa, die speaker van die nasionale vergadering, die landboukomitee, die minister en die direkteur-generaal gestuur het.
AVF-bevestiging van feite
Die AVF het aangedui dat hy verder kennis neem van onlangse mediaberigte deur die SAVR se registrateur rakende die raadsverkiesing. Die forum wys in hierdie verband op die volgende feite:
- ‘n Presedent vir ‘n herverkiesing is geskep toe onreëlmatighede voorgekom het toe drie onbevoegde kandidate tydens die eerste verkiesing toegelaat is om te staan. Dit was ondanks waarskuwings aan die registrateur in hierdie verband. Die betrokke persone is eers tydens die stemproses deur die registrateur onttrek en die verkiesing is oor begin.
- Die registrateur se onbevoegde bestuur is beklemtoon toe ‘n verdere onbevoegde kandidaat in die tweede verkiesing toegelaat is en eers ná stemming gediskwalifiseer, is.
- Teenstrydige kennisgewings oor die sluitingsdatum van stemming (22 en 23 Mei 2025) het verwarring veroorsaak. Nie alle veeartse wat so wou, kon stem nie.
- Enige mediaverklarings, skrywes of kommunikasie aan die parlement of president, of dreigemente van litigasie deur die registrateur, is sonder ‘n mandaat en dus ultra vires, aangesiendie SAVR se statutêre termyn op 31 Julie 2025 verstryk het. Daarmee saam kan die registrateur se dreigemente van litigasie teen Steenhuisen die aanstelling van ’n nuwe raad onnodig vertraag en registrante se fondse in gevaar stel.
- Die AVF se ontleding van die SAVR se finansiële state (2019 tot 2024) het kommer laat ontstaan oor dalende reserwes en stygende administratiewe kostes. Geen verduideliking is tot dusver verskaf nie, ondanks versoeke in hierdie verband. ’n Formele aansoek om die ondersteunende dokumente te verkry, is ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (Wet 2 van 2000) (PAIA) ingedien. – Christal-Lize Muller, Plaas Media