Estimated reading time: 3 minutes
Die jaar begin goed vir die Suid-Afrikaanse Tafeldruifindustrie (Sati). Al vyf die produksiestreke wat tafeldruiwe produseer, is tans besig om te oes en volgens die oesskatting gaan daar in 2026 ’n totaal van 79,4 miljoen kartonne van 4,5kg elk, vir uitvoer geïnspekteer word – dit verteenwoordig ’n effense verbetering teenoor verlede jaar.
Volgens Sati is die oes van goeie gehalte en sal voldoende volumes beskikbaar wees om aan wêreldmarkte te voorsien. So sê Mecia Petersen, hoof uitvoerende beampte van Sati. Sy is hoogs tevrede met die stabiele groei in die bedryf. Suid-Afrika produseer ongeveer 19 400ha tafeldruiwe en die verwagting is dat daar in die volgende vyf jaar ’n marginale toename in aanplantings sal wees, tesame met beter opbrengste as gevolg van nuwe en beter-generasie variëteite.
SA-tafeldruiwe gesog in Europa
“Die toename in volumes is in lyn met verwagtinge vir matige groei in medium-termyn produksie,” sê Petersen. Sowat 58% van die totale tafeldruifuitvoere vanaf Suid-Afrika word na Europa uitgevoer en 18% na die Verenigde Koninkryk.
“Die tafeldruifbedryf raak wêreldwyd al hoe mededingender, maar danksy Suid-Afrika se reputasie as ’n betroubare verskaffer van topgehalte druiwe, geniet ons deurgaans ‘n gunstige vraag vanuit ons sleutelmarkte. Uitvoere na die Europese Unie (EU) het die afgelope vyf jaar teen ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 3% gegroei,” sê sy.
VSA en Kanada in die versier
Aldus Petersen is die VSA ’n belangrike mark vir uitvoertafeldruiwe, ten spyte van die verhoogde tariewe wat president Donald Trump op Suid-Afrikaanse uitvoerprodukte hef. Petersen sê Sati beplan om in 2026 ’n geteikende markontwikkelingsveldtog ten opsigte van die VSA en Kanada te implementeer. Hierdie projek sal deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Sati befonds word.
“Die veldtog sal ’n kombinasie van digitale kommunikasie, winkelvloerpromosies en breër openbare skakeling insluit. Die aksies sal op beide verbruikers en besluitnemers in die waardeketting gemik wees. Hierdie inisiatiewe is gemik op die voortgesette, positiewe groeimomentum wat in onlangse seisoene waargeneem is, veral in die VSA,” verduidelik Petersen.
Plaaslike uitdagings ’n klip in die pad
Suid-Afrikaanse produsente moet talle uitdagings oorkom en in hierdie opsig kan die regering van die dag hulp verleen. Petersen sê Sati en sy bedryfsvennote, waaronder die Varsprodukte-uitvoerdersforum (FPEF), is bekommerd oor die voortslepende operasionele ontwrigtings by Kaapstad-hawe want dit het ’n beduidende invloed op die uitvoer van tafeldruiwe.
Petersen sê hulle is bewus van die aansienlike vertragings as gevolg van wind wat in November en Desember by die hawe aangeteken is. Operasionele uitdagings soos onklaar toerusting en personeelprobleme oor die feestyd, het ook tot vertragings by die hawe bygedra. Hierdie vertragings kan reuse finansiële verliese vir produsente én uitvoerders beteken, en ekonomiese risiko’s meebring in landelike gemeenskappe wie se lewensbestaan van hierdie bedryf afhang.
Verskepings via die Oos-Kaapse hawens het met ongeveer 300% toegeneem teenoor die vorige seisoen. Hoewel dit gehelp het om die vloei van uitvoere te handhaaf, kom dit teen ’n aansienlike ekstra koste vir beide uitvoerders en produsente. – Koos du Pisanie, AgriOrbit
Vir meer inligting, skakel Denene Erasmus, Sati se bestuurder van markontwikkeling en kommunikasie, by 021 863 0366.