Rooiwater: ’n Onverbiddelike vyand

Estimated reading time: 4 minutes

Bosluise word jaarliks geassosieer met groot ekonomiese verliese in terme van verlaagde produktiwiteit en vrugbaarheid, asook veevrektes. Bosluise kan ook siektes van besmette na gesonde diere oordra.

Volgens ’n studie deur die Universiteit van Pretoria oor bosluise en bosluisoorgedraagde siektes in die Oos-Kaap, dra bosluise ’n groter verskeidenheid patogeniese mikroörganismes as enige ander geleedpotige vektor oor. Babesiose is een van hierdie siektes, met dodelike gevolge vir beeste.

Wat is babesiose?

Babesiose, oftewel rooiwater, is ’n protosoïese bosluisoorgedraagde siekte wat meestal by beeste voorkom, hoewel dit ook aan perde en honde oorgedra kan word. Die twee soorte babesiose wat in Suid-Afrika voorkom is Afrika-rooiwater en Asiatiese of Europese rooiwater.

Waar Asiatiese rooiwater slegs deur die Asiatiese bloubosluis (Rhipicephalus microplus) versprei word, word Afrika-rooiwater deur beide die Asiatiese bloubosluis en die Afrika-bloubosluis (Rhipicephalus decoloratus) oorgedra. Die rooipootbosluis (Rhipicephalus evertsi evertsi) is ook ’n vektor van Afrika-rooiwater, maar speel ’n kleiner rol in die verspreiding van die siekte.

Verspreiding van rooiwater

Volgens die jongste veesiektetendenseverslag wat deur veeartse aan die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) aangemeld word, is Asiatiese rooiwater aan die toeneem.

Gevalle van Asiatiese rooiwater word gereeld in Limpopo, Gauteng, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en in dele van die Oos- en Wes-Kaap aangemeld. Gevalle van Afrika-rooiwater is in byna elke provinsie aangemeld, behalwe in droër gebiede soos die Noord-Kaap en die Karoo.

Al kom die siekte nie normaalweg in ’n sekere gebied voor nie, beteken dit nie produsente kan ontspan nie. Daar moet voorkomend teen hierdie siektes opgetree word, aangesien veeboere sowel as veeartse toenemend onkant betrap word deur die toename in Asiatiese rooiwater, selfs in gebiede waar dit nie normaalweg voorkom nie.

Die bekende veearts, Dr Faffa Malan, sê dat hierdie siektes hoofsaaklik deur die vervoer van diere versprei word en dat besmette bosluise dan so van plek tot plek verskuif.

Siekte-oordrag en simptome

Afrika-rooiwater word na bosluise oorgedra wanneer hulle die bloed van ’n besmette dier suig. Dit word dan van die larfstadium na die nimf en volwasse bosluis oorgedra. Besmette wyfies dra die siekte deur middel van transovariële oordrag na die volgende generasie bosluise oor. Die nimfe en volwasse bosluise dra dit weer na ander vatbare diere oor deur op hulle te voed.

Volgens ’n siektetendensverslag wat deur Melk Suid-Afrika gepubliseer is, duur dit ongeveer twee tot drie weke nadat ’n dier besmet is, om siektetekens te toon.

Asiatiese rooiwater word op dieselfde manier oorgedra. Die enigste verskil is dat dit slegs gedurende die bosluis se larwesiklus aan ander diere oorgedra word. ’n Larwe kan die siekte vanaf dag een, nadat dit op die gasheerdier heg, oordra. Dit neem een tot twee weke vir die Babesia bovis-parasiet om in die rooibloedselle van die dier te ontwikkel voordat siektetekens begin wys. In die meeste gevalle vrek diere egter voordat enige simptome sigbaar is.

Figuur 1: Die oordrag en lewensiklus van Asiatiese en Afrika-rooiwater. (Bron: Virbac)

Beeste wat met rooiwater besmet is toon koors, bloedarmoede, ligte tot donkerbruin of rooi urine, swak eetlus, droë neus, diarree, lusteloosheid, aborsie, en geelsug (in gevorderde gevalle).

In sommige gevalle van Asiatiese rooiwater kan serebrale babesiose ook voorkom wanneer parasiete die bloedvate van die brein binnedring. Die kanse op herstel is onwaarskynlik en geaffekteerde diere word dikwels van kant gemaak.

Luister hier na dr Anthony Davis se raad vir Asiatiese rooiwater: https://clyp.it/s4mni13e

Voorkoming en behandeling

Dok Faffa hou vol dat voorkoming altyd beter as genesing is. Kalwers tussen vier en ses maande moet met beide of een rooiwater-entstof ingeënt word. Verse moet voor dektyd weer ingeënt word. Daarna moet volwasse diere elke drie jaar ingeënt word. Kalwers jonger as twee maande hoef nie ingeënt word nie, aangesien hulle steeds die voordeel van passiewe immuniteit geniet.

Indien diere reeds besmet is, kan medisyne wat diminaseen of imidokarb bevat, toegedien word. Suksesvolle herstel hang grootliks van vroegtydige behandeling af. – Claudi Nortjé, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Faffa Malan by dokfaffa@nashuaisp.co.za.

Must read

RSG Landbou: 6 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die 2026 LRF Veeskool, AFSTA se kongres en ons skop af met ons nuwe...

LandbouRadio: 6 April 2026

In Maandag, 6 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met onkruidkenner, prof Charlie Reinhardt, en hy gesels oor die...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...

LandbouRadio: 3 April 2026

In Vrydag, 3 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met 'n plaasvars landbounuusbulletin. ⁠Tydens die Afrika Saadverhandelingsvereniging se kongres in...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the misfortune, accident, or disaster that...