Oor Beefmasters, boerdery en balans

Estimated reading time: 6 minutes

Guy Rensburg, ’n vyfde-generasie stoetteler en kommersiële produsent van die plaas, Koksley, in die Komga-distrik van die Oos-Kaap, glo dat ’n gebalanseerde benadering tot veeproduksie die hoeksteen van langtermyn volhoubaarheid is. Sy filosofie is eenvoudig: werk saam met die natuur, beskerm die integriteit van die grond, en bewaar elke aspek van die plaas as deel van ’n eenvormige, funksionerende ekosisteem.

Die Rensburg-familie boer sedert 1996 met Beefmasters en het die Rensgrow Beefmaster-stoet amptelik in 2012 geregistreer. Dié stap het gekom nadat hulle eerstehands ervaar het hoe die ras die plaas se winsgewendheid beïnvloed het. Vandag is Guy voorsitter van die Oos-Kaap Beefmaster-genootskap en vise-voorsitter van die Beefmaster-beestelersgenootskap van Suid-Afrika.

Hy is glad nie beskeie as dit kom by die buitengewone waarde wat Beefmasters tot hul streek toevoeg nie. Vir hom is dit bykans noodsaaklikheid dat ’n Bos indicus-gebaseerde ras in hul omgewing ingespan word. Dit is ‘n gebied wat dikwels onder hoë bosluisladings en uitdagende veesiektes gebuk gaan. “Die Beefmaster bestaan uit 50% Brahman, 25% Hereford en 25% Shorthorn en het uitsonderlik goed by ons omstandighede aangepas.”

RG 16.26, ’n volwasse kuddebul

Uitsonderlike eienskappe

Beefmasters het bewys dat hulle uitstekend by die Rensburg-onderneming inskakel, hoofsaaklik as gevolg van hul funksionaliteit, gewig, hoë vrugbaarheid, middelslag raamgrootte en beenlengte.

Hierdie eienskappe, sê hy, is noodsaaklik vir langtermyn boerdery. “As jy volhoubaar wil boer, moet jy altyd winsgewendheid in gedagte hou. Beefmasters benut natuurlike weiding op ’n besonderse manier en omskep dit in hoë-gehalte vleis, sonder dat hoë vlakke van byvoeding nodig is. As jy die volle potensiaal van hul genetika wil benut moet jou diere nooit honger ly nie, maar hulle behoort jou ook nie onnodige insetkoste uit die sak te jaag nie.”

Guy meen opvolging is een van die belangrikste aspekte van boerdery. “As jy gelukkig genoeg is om kinders te hê wat wil boer, moet jy winsgewendheid en volhoubaarheid prioritiseer. Belê in die toekoms deur ‘n goeie veldtoestand te handhaaf, behoorlike langtermyn infrastruktuur te ontwikkel, akkurate rekords te hou, en voortdurend die grond en kudde te verbeter.”

Die Rensgrow-span volg ’n gestruktureerde bosbeheerprogram om verlore grasspesies te herstel en optimale weidingskapasiteit te verseker. Die infrastruktuur word nougeset onderhou, terwyl oorhoofse koste beperk word deur goeddeurdagte meganisasie en sorgsame batebestuur.

RG 21.157 een van die Rensgrow-kuddebulle

Sleutelbeginsels van boerdery

Guy se benadering tot boerdery is op ‘n paar ononderhandelbare beginsels geskoei:

  • Vermy onnodige chemikalieë, oorvoeding en die manipulasie van vrugbaarheid. Laat die natuur die koei se ideale grootte en vrugbaarheid bepaal, sodat daar regverdige seleksiedruk binne jou beplande bestuursprogram kan plaasvind.
  • Neem gereeld bloedmonsters in jou kudde. Al die beeste op ons plaas word vir rooiwater en galsiekte getoets, wat die ontwikkeling van natuurlike immuniteit moontlik maak.
  • Belê slim: ’n Bul wat jou vooruit neem, word ’n goedkoop bul. ’n Bul wat jou egter laat agteruit boer, word ’n duur bul.
  • Prys is nie gelykstaande aan waarde nie. Die beste bul vir jou kudde besit die regte funksionele eienskappe vir jou stelsel; daarom is dit belangrik om bewese bloedlyne in ag te neem.
  • Leer jou kudde deur data en fenotipes (syfers en visuele assessering) saam te gebruik, eerder as afsonderlik, om te bepaal waar verbetering nodig is.
  • Winsgewendheid kom altyd eerste; elke besluit moet die besigheid vorentoe neem.

Wat Guy betref is funksionaliteit die fondasie van ’n goeie kudde. ’n Produktiewe koei behoort jaarliks sowat 50% van haar liggaamsmassa te speen en een kalf per jaar te produseer. Diere wat nie presteer nie word deeglik ondersoek of uitgeskot.

Hy vermy uiterstes, veral wat geboortemassa betref. “Ek hou nie van te lae of te hoë geboortemassa nie,” sê hy. “Die ideale geboortemassa lê tussen 36 en 38kg. Ek glo ook nie in die konsep van versbulle nie, want konsekwente teling vir kleiner kalwers kan oor tyd die pelvisopening vernou. Koeie wat nie van ’n gemiddelde bul kan kalf nie, hoort nie in die kudde nie. Hierdie benadering voorkom dat ongewenste eienskappe na die volgende generasie oorgedra word en help om die langtermyn integriteit van die kudde te handhaaf.”

Guy verkies om volgens die gemiddeld te teel, eerder as om ’n enkele eienskap na te jaag. “As groei jou enigste fokus is, betaal jy daarvoor met vrugbaarheid. As melk jou prioriteit is, sal jy elders daarvoor inboet. Balans is die belangrikste konsep in sowel stoetteling as kommersiële produksie.”

Hy maak staat op SA Stamboek se stelsel en gebruik die data tesame met waarnemings ten opsigte van konformasie, aanpasbaarheid, temperament en korrektheid.

Die beeste is goed aangepas by die Komga-streek, wat dikwels onder hoë bosluispopulasies en siektes soos galsiekte, hartwater, en Afrika- en Asiatiese rooiwater gebuk gaan.

’n Rekordjaar vir die Beefmaster

Volgens statistieke het die Oos-Kaap Beefmaster-genootskaplede in 2025 altesaam 505 Beefmaster-bulle op produksie- en stoetveilings verkoop – meer as enige ander ras in die provinsie. “Niemand hou aan om te belê in ’n ras wat nie resultate lewer nie,” sê Guy. “Produsente in ons streek is duidelik oortuig van die winsgewendheid en uitstekende waarde wat die Beefmaster bied.”

Sowat 73 000 Beefmasters en 174 telers is nasionaal geregistreer, wat dui op volgehoue groei en sterk vertroue in die ras. Die vereniging bied jaarliks opvoedkundige toere na verskillende provinsies aan, waartydens telers hul kennis deel, stelsels verfyn en insigte uitruil. Die proses help beide nuwe en ervare produsente om stap vir stap te verbeter.

’n Koei op die Koksley-plaas behoort jaarliks sowat 50% van haar liggaamsmassa te speen en een kalf per jaar te produseer.

Slotgedagte

Sou daar ooit ‘n enkele boerderystelsel wees wat al die ander oortref, sou iemand dit reeds ontdek het, glo Guy. “Die ware sleutel tot volhoubaarheid en opvolging lê daarin om goeie, gesonde veldtoestande te handhaaf, ’n diverse samestelling van grasspesies te bewaar, en ’n funksionele en winsgewende kudde te bestuur.”

‘n Gebalanseerde boerdery wat in harmonie saam met die natuur werk, is steeds die betroubaarste pad na langtermyn sukses. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Guy Rensburg by e-pos koksley@gmail.com of WhatsApp 083 942 2643.

Die krag van kalk

Estimated reading time: 2 minutes Ultrafyn kalk bied nie net gemak van toediening nie, maar...

Health standards in feedlots

Estimated reading time: 4 minutes Maintaining strict health standards at feedlots is vital in South...

The factors that influence weaner calf prices

Estimated reading time: 4 minutes Feed prices are often linked to maize prices, which feedlots...

Só word speenkalfpryse bepaal

Estimated reading time: 4 minutes Die koste van voer is dikwels afhanklik van die mielieprys...