Estimated reading time: 5 minutes
Boran-beeste is deur die eeue onder moeilike omgewingstoestande aan langdurige, natuurlike seleksie onderwerp. Die Boran word beskou as ‘n vroeg-volwasse, medium-raam dier. Die ras is veral bekend vir hul lae produksiekoste en die vermoë om ‘n goeie karkas van die veld af te bemark.
In Suid-Afrika word die meeste vleisbeeskalwers in voerkrale afgerond en daarom is karkasgewig ‘n belangrike faktor by die bepaling van die prys wat per dier ontvang word.
In Suid-Afrika word die meeste vleisbeeskalwers in voerkrale afgerond en daarom is karkasgewig ‘n belangrike faktor by die bepaling van die prys wat per dier ontvang word. Oor die algemeen word karkasse wat nie aan die spesifikasies voldoen nie, gepenaliseer. Eienskappe soos ongewenste karkasgrootte of vetbedekking kan deur middel van genetiese seleksie aangespreek word. Karkaseienskappe behoort dus ook ‘n belangrike oorweging te wees by die seleksie van vleisbeeste.
Die Boran-vleisgehaltetoets
Die Boran Beestelersgenootskap van Suid-Afrika het ‘n toetsprojek onderneem om die groei en karkasgehalte van die Boran te bepaal. Die projek het groei-, karkas-, vleisgehalte- en bouvormeienskappe gemeet. Individuele bulle se voerinname is gemeet om hulle voeromset- en groeivermoë te bepaal. Voeromsetverhouding (VOV) is ekonomies belangrik omdat dit voerdoeltreffendheid kwantifiseer en deel vorm van telers se teeldoelwitte en seleksiekriteria. Die bekende slagspreuk “Jy moet meet om te weet” is hier van groot belang.
Vleisgehalte is vir die verbruiker belangrik. Omgewingsfaktore het veral ‘n groot invloed op vleisgehalte, veral sagtheid. Die genetiese basis van die eindproduk moet in ag geneem word, aangesien dit ook vleisgehalte beïnvloed. Vleissagtheid kan nie op ‘n lewendige dier gemeet word nie en dit is ook nie gekorreleer met ander eienskappe nie. Dit kan dus nie voorspel word deur ander eienskappe te meet nie. Die enigste manier om vleissagtheid te voorspel, is om dit op karkasse te meet en dan inligting vanaf die genomiese merkers in teelwaardeberamings in te sluit.
Lees meer oor die voordele van genomiese toetse hier.
Eienskappe wat gemeet is
Karkaseienskappe kan deur middel van RTU (real-time ultrasound)-metings op lewendige diere gemeet word. RTU-skandering kan aangewend word om objektiewe karkasinligting op lewendige diere te versamel, in plaas daarvan om nageslag te slag om inligting oor karkasse te kry.

Dit is moontlik om vir karkaseienskappe te selekteer, aangesien vetdikte, oogspierarea (EMA) en marmering tussen 20 en 25% oorerflik is. Groter karkasse met minder vet en hoër marmering behoort die beste prys te ontvang, hoewel Suid-Afrikaanse produsente nie tans vergoed word vir marmering nie.
Voerkraaleienskappe is tydens ‘n 12-week-lange voerinname- en groeitoets by ‘n groep Boran-bulle onder vergelykbare toestande gemeet. Karkaseienskappe is met behulp van RTU-tegnologie gemeet. Nadat die groeitoets voltooi is, is die bulle geslag en die karkaseienskappe gemeet. Lineêre bouvormeienskappe, insluitend die hoogte en posisie van die skof, is ook aangeteken. Die sagtheid van vleis is op dag drie en dag 28 van veroudering bepaal.
Die data is statisties ontleed en korrelasies tussen alle eienskappe is bereken. Boran-bulle is van agt verskillende telers aangekoop, waarvan elke teler tussen een en 19 bulle gelewer het. Altesaam 55 bulle het die toets suksesvol voltooi. Die Boran-bulle het tussen 148 en 280kg (‘n verskil van 132kg) geweeg en was by aankoms 218 tot 373 dae oud (sewe tot 12 maande), wat ‘n verskil van 155 dae verteenwoordig.

‘n Aanpassingstydperk van ongeveer 28 dae is voltooi voor die aanvang van die groeitoets, sodat die bulle kon aanpas by die rantsoen en voerstasies.
Toetsproses en metings
Tydens die toets is daaglikse inname gemeet en is die diere weekliks geweeg. Groeitoetsdata vir gemiddelde daaglikse gewigstoename, voerinname en VOV is aangeteken. Aan die einde van die toets is liggaamsmates soos skrotumomtrek, skouerhoogte, liggaamslengte, veldikte en RTU gemeet. Bykomende belangrike lineêre liggaamskenmerke soos skofhoogte en -posisie, skedebehoeking, lengte van die skenkel, en bouvorm is ook gemeet. Met die RTU-skandering is onderhuidse vetdikte op die rib en kruis, EMA, en marmering gemeet.

Na slagting is karkaseienskappe gemeet wat karkasgewig, uitslagpersentasie, warm en koue pH, skofmetings, en karkasmarmering ingesluit het. Vleissagtheid is na drie en 28 dae se veroudering met behulp van die Warner Bratzler-apparaat gemeet. Hierdie apparaat meet die snykrag in kilogram benodig om deur ‘n monstertjie vleis te sny.

Toetsresultate
Die data is statisties ontleed en ‘n aantal belangrike bevindings is gemaak:
- Korrelasies tussen eienskappe het getoon dat karkaseienskappe suksesvol voorspel kan word deur groei- en RTU-metings op lewendige diere. Dit kan gebruik word om die beste teelbulle in die ras vir karkaseienskappe te identifiseer.
- Die vleissagtheidstoetse het getoon dat die Boran se vleis as baie sag beskou kan word in vergelyking met ander rasse.
- Konformasietelling is sterk gekorreleer met belangrike gewigs- en bouvormeienskappe.
Hierdie studie toon dat daar reeds bestaande variasie binne die Boran-ras is wat aan produksievereistes voldoen. Dit sal dus moontlik wees om geskikte genetika vir groei- en karkaseienskappe te identifiseer deur groei te meet.
Vir meer inligting, kontak die Boran Beestelersgenootskap by 051 410 0951, epos christine@boran.org.za of besoek www.boran.co.za.