Estimated reading time: 4 minutes
Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) het op 14 November vir die Fraserburg-boere ’n inligtingsdag aangebied met verskeie sprekers wat oor landbousake gesels het. Dit was die laaste vergadering van die boerevereniging vir 2024, maar nie-lede is ook uitgenooi om die dag by te woon. Pieter le Roux, die organiseerder van die dag en verteenwoordiger van die NWKV in die Fraserburg-distrik, sê hulle is verras met die goeie opkoms.


Guillau du Toit
Die dag het afgeskop met ’n gesprek deur Guillau du Toit van die Wolforum en die Woltoetsburo. Hy het inligting gegee oor hierdie twee organisasies en verduidelik dat hul grootste taak is om die wolprodusente te ondersteun en seker te maak dat die wol wat verkoop word, aan wêreldstandaarde voldoen.
Die Woltoetsburo doen heelwat navorsing om seker te maak Suid-Afrikaanse wol is op peil met die behoeftes van kopers. Hy sê Suid-Afrika is bekend vir uitstekende wolklassering, en die Woltoetsburo maak seker dit stem ooreen met dié van die kopers.
Lees meer oor die Ede Farming-boeredag.
Prof Beatrice Conradie
Prof Beatrice Conradie, die tweede spreker, het oor haar navorsing oor die hantering van droogte gepraat. Sy sê ’n boer moet droogte vooruit kan sien, planne maak om dit te absorbeer, dinge wat hy nie kan verander nie moet hy kan akkommodeer en tussen alles deur moet hy vinnig kan herstel as dit weer begin reën.
Prof Conradie het verskillende scenario’s bestudeer om te sien watter opsies vir die boer die meeste geld in die sak gaan bring tydens ’n droogte én in goeie reëntye. Haar gevolgtrekking was dat produsente eenvoudig beter moet boer. ’n Landbouer het talle moontlikhede en planne wat hy kan aanwend om droogte beter te bestuur en elkeen moet kyk watter van hierdie planne werk op sy plaas sodat hy weer veerkragtig kan wees en vorentoe kan boer as die droogte gebreek is.

Charl Saunderson
Charl Saunderson, Veeplaas se Klimaatslim-ambassadeur vir 2024, het produsente praktiese wenke gegee hoe om saam met die droogte te boer. Sy uitgangspunt is dat jy moet lus wees vir boer, anders gaan jy die bus mis, want iemand wat nie in sy hart ’n boer is nie, se kans op oorlewing is min.
Hy het sy plaas van sy pa en oupa geërf, en hulle het reeds die langtermynplanne in sy kop geplant soos om meer plantegroei op die plaas te kry om beter weiding vir die diere te bewerkstellig en om die drakrag van die plaas te verhoog. Hy beskou dit alles as sy langtermynplan.
Nog ’n deel van sy planne is om sy kudde met beter genetika te verbeter. Hy koop nie noodwendig die mooiste ramme en ooie nie, maar hy maak seker elke dier op sy plaas lewer goeie produksie.
Dan Kriek
Dan Kriek, hoofbestuurder van NWKV, het uitgebrei oor die werksaamhede van NWKV en projekte wat geloods word met die doel om wolprodusente in Suid-Afrika by te staan en seker te maak hulle kry die beste pryse op die internasionale markte.
Die dag was ’n reuse-sukses en dit is weer bewys dat landbouers in Suid-Afrika ’n behoefte het aan inligting om beter te boer. – Koos du Pisanie, Plaas Media
