Estimated reading time: 3 minutes
Uitvoer is ’n belowende alternatief vir rooivleisprodusente in die Noord-Kaap gegewe moeilike tye weens swak produkpryse, droogtes, hoër insetkoste, verswakkende infrastruktuur en ‘n onseker politieke klimaat. Dit bly egter ewe belangrik om die beste produk op die binnelandse mark te plaas. Dit kan net gedoen word as produsente trots is op hul produk, het Koning Scholtz, uittredende voorsitter, tydens die Noord-Kaapse RPO (NKRPO)-kongres in Kimberley gesê.
“Dit is ’n produk wat volhoubaar en verantwoordelik geproduseer word, en waar gefokus word op dieregesondheid, dierewelsyn en die volhoubare benutting van ons natuurlike hulpbronne. Deur volgens die RPO se Kode van Beste Praktyk te boer, is dit moontlik om hierdie ideale te bereik.”
Lees meer oor die onlangse Vrystaat RPO kongres hier.
Begin by dieregesondheid
Dr De Wet Barnard, ’n tegniese veearts van MSD Animal Health, het gesê dieregesondheid sal ’n al hoe belangriker rol in die produksie van rooivleis speel. Dit is een van die belangrikste vereistes vir die uitvoermark. Die middelklas in talle lande beskik oor ’n groter inkomste. Daarom koop hulle ook meer rooivleis. Rooivleisproduksie moet binne die volgende 25 jaar met 60% vermeerder.
Hy het ook verwys na die dieregesondheidspiramide, waarvan die basis bestaan uit fetale en neonatale gesondheid, voorkoming en behandeling as die tweede vlak, en herstel ná siekte as die laaste vlak.
Elkeen moet sy deel doen
Dr Gerhard Neethling, hoofbestuurder van die Rooivleis-abattoirvereniging (RVAV), het gesê die kern van goeie rooivleisproduksie ,veral vir uitvoerdoeleindes, is biosekuriteit op die plaas, ’n werkbare naspeurbaarheidsprogram, en ’n gesonde verhouding met jou veearts.
In die bedryf word al hoe meer gewerk na ’n stelsel waar die produsent ’n verklaring moet gee dat sy diere gesond en veilig (volgens standaarde) is, asook ’n bewegingsregister wat bevestig dat die diere gesond is en die produsent die korrekte boerderypraktyke toepas. Vereistes vir die uitvoer van vleis behoort die standaard te word vir vleis wat plaaslik verkoop word.
Skep ’n volhoubare mark
Dr Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die nasionale RPO, het gesê die uitvoer van rooivleis lok baie belangstelling. Vir produsente is dit ’n probleem dat produkpryse in die rooivleismark verlaag het en dit plaas die rooivleisbedryf in ’n moeilike situasie. Armoede in Suid-Afrika veroorsaak dat mense nie kan bekostig om vleis te koop nie en diegene wat wel geld het, stel nie belang om goedkoper snitte te koop nie. Daarom is dit ideaal om daardie snitte uit te voer.
Hy het gesê heelwat marknavorsing is nodig om buitelandse markte te ontgin. “Ons moet kyk waarheen ons kan uitvoer, wie die produsente is wat kan uitvoer, wie wil invoer, wat doen ander lande, en wat ons in Suid-Afrika moet verander om ’n sukses van ons uitvoere te maak.
“Dit is belangrik om te onthou dat ’n groter uitvoermark ons mark op die lange duur volhoubaar sal maak en pryse sal stabiliseer en verbeter. Die uiteindelike mikpunt is dat diere wat plaaslik aangebied word, van dieselfde standaard moet wees as dié wat uitgevoer word. Naspeurbaarheid gaan verpligtend word. “In die rooivleisbedryf gaan akkreditasie en sertifisering verpligtend word en hoe gouer produsente hierby inskakel, hoe makliker gaan dit vir hulle word om volhoubaar te boer.”
Brand du Toit is tydens die kongres tot nuwe voorsitter van die NKRPO gekies en Charl Saunderson tot ondervoorsitter. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting oor die Noord-Kaap RPO, kontak Yolandé Botha by 067 597 1866 of epos rponc@rpo.co.za.