Verbeter die rooivleiswaardeketting: Noordwes RPO-kongres

Estimated reading time: 8 minutes

Boere wat uitdagings saam met die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in Suid-Afrika wil aanpak, het ’n blink toekoms. Dit was die boodskap tydens die Noordwes RPO (NWRPO) se jaarkongres in Lichtenburg.

Nico Kilian is herkies tot voorsitter van die NWRPO, en het gesê die kongres se doel was om ’n positiewe beeld te bou en rooivleisprodusente aan te moedig om saam met die organisasie te werk vir ’n beter toekoms. Hy het verduidelik dat verskeie faktore ’n groot invloed op die bedryf het, waaronder stygende insetkoste, droogte, hitte, swakker vleispryse, naspeurbaarheid, vleisuitvoere, dieregesondheid, die winsgewendheid van veeboerdery, en veediefstal.

Kilian het produsente aangemoedig om volhoubaar te boer en alles binne hul beheer reg toe te pas, soos biosekuriteit, naspeurbaarheid, veld- en kuddeverbetering en om die standaard van bemarkbare vleis te verbeter. Hulle moet ook in topgenetika belê vir hul kommersiële kuddes. Hy is positief dat goeie samewerking met die RPO die rooivleiswaardeketting kan verbeter. “Ons ken die uitdagings. Kom sit saam met ons om ’n tafel, verskil gerus van ons, en kom ons probeer dit saam oplos.”

Lees meer oor die onlangse Noord-Kaap RPO kongres hier.

Uitdagings en vooruitgang

Kilian het gesê dieselfde uitdagings as op nasionale vlak staar die NWRPO in die gesig, veral die invoer van speenkalwers uit buurlande soos Botswana. “Ingevoerde diere kom Noordwes binne en almal vra hoekom ons niks daaraan doen nie.” Hy het verduidelik dat die RPO onderhewig is aan wetgewing en Sadek-ooreenkomste wat al jare in plek is. Ingevoerde diere maak slegs 8% van Suid-Afrika se totale slagtings uit.

Aan die positiewe kant is Noordwes aan die einde van Maart vanjaar bek-en-klouseer-vry verklaar. Die uitbreking van die siekte in die Potchefstroom-gebied in Maart 2022 het produsente hard getref, met beperkings deur voerkrale binne ’n 100km-radius om Potchefstroom. Daarom is die doeltreffende toepassing van biosekuriteit om die provinsie bek-en-klouseer-vry te hou, nou ’n groot uitdaging.

Lees meer oor die onlangse Vrystaat RPO kongres hier.

Die RPO dien in sy doel

Dr Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die RPO, het produsente aangemoedig om betrokke te raak by die organisasie, wat die mondstuk van die kommersiële rooivleisprodusent is. Hy het gesê die RPO werk hard om met die regering te skakel en verteenwoordig produsente op meer as 80 komitees om te verhoed dat besluite sonder hulle geneem word.

Die RPO het kantore in verskillende streke, aangesien aspekte soos dieregesondheid ’n provinsiale aangeleentheid is. Daar is ’n onderskeid tussen vrywillige bydraes (0,15% of 0,25%) en die statutêre heffing (R13,65 per bees en R2,66 per skaap), wat deur die Wet op die Bemarking op Landbouprodukte, 1996 (Wet 47 van 1996) verplig word.

Die Red Meat Primary Cluster (RMPC), wat uit die RPO, die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging, die National Emergent Red Meat Producers’ Organisation (NERPO) en die Rooivleis-abattoirvereniging (RVAV) bestaan, het vir hul eie heffing aansoek gedoen en dit is goedgekeur. Die RMPC mag egter nie die heffing administreer nie. Daarom het die organisasies Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) gestig om die heffing te administreer vir sekere funksies, ten einde die rooivleisbedryfstrategie vir 2030 te bereik.

Die RPO is ’n diensverskaffer vir drie van hierdie funksies – kommunikasie, veediefstalvoorkoming en rooivleis-sertifisering. Dr Maré het gesê die heffingaansoek bepaal duidelik dat die abattoir die heffing moet oorbetaal, maar dat dit deur die waardeketting versprei word – die produsent is nié veronderstel om die volle R13,66 per dier te betaal nie.

Wat bek-en-klouseer betref, het hy gesê dit is ’n staatsbeheerde siekte en die RPO kan geen regulasies instel of inligting versprei sonder regeringsgoedkeuring nie. Inentingsaspekte is kompleks aangesien beide teenliggaam- en lewendige-virus toetse vereis word. Suid-Afrika gebruik nog nie die vinniger Elisa-toets nie, wat ’n uitdaging bied. Die RPO is betrokke by samesprekings hieroor.

Hy het gesê die regering se LITS SA-naspeurbaarheidstelsel sal heel waarskynlik nie gou ’n nasionale stelsel word nie. Privaatstelsels kan ’n korttermyn oplossing bied en dit maak nie saak watter bestuurs- of oorplaatjieprogram gebruik word nie, solank dit aan die Internasionale Komitee vir Diere-aantekening (ICAR) se standaarde en vereistes voldoen.

Hy het benadruk dat die plan rondom naspeurbaarheid nie is om die verbruiker in te lig oor waar vleis vandaan kom nie, maar eerder om dierebeweging te monitor tydens byvoorbeeld ’n bek-en-klouseer uitbreking. Vleisuitvoere skep ’n konstante mark vir Suid-Afrikaanse produkte, veral wanneer die binnelandse ekonomie swaarkry en pryse daal.

Bottelnekke by die invoer van speenlammers en in ’n mindere mate speenkalwers uit Namibië en Botswana, lei tot vertragings by abattoirs. In Februarie is abattoirs dikwels onderbenut aangesien plaaslike produsente nie wil slag nie en vir die volgende boekjaar wag. Dit lei tot bestellings van buite en veroorsaak vertragings wanneer plaaslike produsente dan later wil slag. Abattoirs reël openbare vergaderings met produsente om hierdie aangeleentheid te bespreek.

Wat verwag produsente van die RPO?

Kobus Bester, direkteur van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) en rasdirekteur van die Simbra-beestelersgenootskap, het ’n beroep op rooivleisprodusente gedoen om eienaarskap van hul bedryf te neem en ’n beter begrip te ontwikkel van hul produk en die hele waardeketting.

“Biosekuriteit, naspeurbaarheid, ’n behoorlike vleisgraderingstelsel eerder as die huidige vleisklassifikasiestelsel, en die benutting van uitvoerpotensiaal is van groot belang. ’n Integrale stelsel wat op hierdie aspekte fokus, is nodig om die bedryf te ondersteun. Samewerking van alle betrokkenes is dus nodig om werklik ‘n verskil te maak en vertroue moet geskep word.”

In sy aanbieding oor wat produsente van die RPO verwag, het hy gesê die afgelope vyf jaar het die prys van Super A-graad vleis met net 0,97% gestyg – produsente is onder geweldige druk. Dit is wanneer hulle ander alternatiewe soek en traag is om betrokke te raak by bedryfsake.

Produsente moet egter nie net kritiseer nie, maar ’n aktiewe rol speel, eienaarskap neem, en ophou om ander te blameer. Hulle moet volhoubaar winsgewend wees en beheer hê oor hul bederfbare produk wat uitdagings in die hele waardeketting meebring. Produsente moet weet waarheen hulle op pad is deur duidelike doelwitte en teikens vir hulself te stel. Hulle moet ook hul eie situasie en die bedryf se huidige status bepaal.

Hy het ’n PwC-verslag met ekonomiese vooruitsigte van 23 Mei vanjaar uitgelig. Daarin word getoon dat die volume kos wat per kapita verkoop is, in 2023 met 3,2% afgeneem het. Daar word geskat dat mieliemeelpryse in die tweede kwartaal van 2024 waarskynlik van 10 tot 12% sal styg. Die Suid-Afrikaanse bevolking kan teen 2030 met vier miljoen mense groei, en die jaarlikse verlies aan en vermorsing van kos staan op 11,1 miljoen ton, wat primêre produksie, berging, verwerking, groot- en kleinhandel insluit.

Volgens Bester moet inklusiwiteit ook in ag geneem word, aangesien 40 tot 50% van die land se totale vleisbeeskudde in die besit van klein- of kommunale boere is. Almal het dus ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat daardie boere ook suksesvol is, en kan groei en volhoubaar wees.

Die AIMS-naspeurbaarheidstelsel

Brent McNamara, uitvoerende hoof van Agri Oos-Kaap, het die Animal Traceability and Movement System (AIMS) wat vanjaar in die Oos-Kaap bekendgestel is, verduidelik. Die stelsel is ontwikkel in reaksie op produsente se versoeke vir naspeurbaarheid en nuwe wetgewing oor biosekuriteitsreëls vir lewendehawe-agente wat individuele identifikasie vereis. Die Livestock Identification and Traceability System (LITS SA) se 2018-konsepdokument is gebruik om die AIMS-stelsel te ontwikkel om ooreen te stem met die LITS SA-stelsel.

McNamara het gesê die doel was dat, wanneer naspeurbaarheid in Suid-Afrika verpligtend word, daar ’n soomlose integrasie met die regering se LITS SA-stelsel sal wees. Data kan dan maklik oorgedra word. Die AIMS-stelsel maak ook voorsiening vir ’n visuele identifiseerder, soos in die LITS SA-dokument beskryf. Hy het gesê die AIMS-stelsel het lae toegangshindernisse en daar is geen aankoop- of jaarlikse fooi vir die webgebaseerde stelsel nie. Die koste is ingebou in die oorplaatjies, waarvoor daar ’n eenmalige koste is.

Produsente kan die stelsel gebruik om dokumentasie te verskaf oor onder meer diere wat op hul eiendom gebore is en die nodige oordragdokumente genereer. “Hierdie is ’n vrywillige hulpmiddel vir produsente wat aan naspeurbaarheidsvereistes wil voldoen. Ons werk saam met die bedryf en RMIS, en beweeg in die regte rigting.”

Hy het gesê belangstelling in die stelsel was aanvanklik stadig – daar was ten tyde van die NWRPO-kongres sowat 30 000 diere daarop – maar daar is nou ’n skielike toename in belangstelling, veral ná die uitbreking van bek-en-klouseer in die Oos-Kaap. “Dit sal tyd neem vir die stelsel om verder te groei, maar dit is reeds beskikbaar en dit werk. Die stadige groei het gehelp om probleme op te los en die mobiele toepassing vir veeartse, voerkrale en agente te ontwikkel.” – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Vir meer inligting, epos Nico Kilian by nmkilian@lantic.net, Kobus Bester by kobus@hanrik.co.za, of Brent McNamara by brent.mcnamara@agriec.co.za.

Rotavirus: The cause of severe diarrhoea in young calves

Estimated reading time: 5 minutes Newborn calves often present with diarrhoea, which leads to sizable...

Werkstye en rustye op Suid-Afrikaanse plase

Estimated reading time: 4 minutes In Suid-Afrika word plaaswerkers se werksure hoofsaaklik bepaal deur Sektorale...

Brahman production requires passion and vision

Estimated reading time: 8 minutes Jan van Zyl, well-known Brahman breeder of Kroon Vee...

Hou jou gronddamme goed in stand

Estimated reading time: 5 minutes Goeie instandhouding is seker een van die beste besparingsopsies wat...