Die rooivleisbedryf in Suid-Afrika sit eintlik op ’n goudmyn, maar min mense besef die werklike waarde wat dit vir elke produsent en rolspeler kan inhou as hulle kragte saamspan.

Die huidige rooivleisbedryf laat ‘n mens dink aan die geskiedenis van die diamantbedryf in Lüderitz, Namibië. Adolf Lüderitz, na wie die dorp genoem is, het in 1883 daar aangekom, op soek na koper, maar nooit die diamante raakgesien nie. In 1908 het August Stauch, ’n spoorwegamptenaar, die eerste diamant opgetel en later in sy verhale vertel dat die diamante letterlik bo-op die grond gelê het.

Nes die diamantvelde van Lüderitz, is daar volop geleenthede in die rooivleisbedryf. Dit moet net gebruik word. Dewald Olivier, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging (SAFA), glo daar is legio geleenthede om rooivleis uit te voer, maar ons moet eers ons huis in orde kry. “Een van die belangrikste aspekte wat aandag moet kry, is stelsels vir naspeurbaarheid en dieregesondheid.”

Naspeurbaarheid is nodig

Die uitbreking van bek-en-klouseer verlede jaar het ’n rooilig vir produsente laat aangaan, maar baie het bloot gereken dit is iemand anders se probleem. Dewald verduidelik dat die probleem aansienlik kleiner kon gewees het as ’n nasionale naspeurbaarheidstelsel in plek was. Aan die ander kant kon die situasie soveel erger gewees het as daar nie reeds, danksy voerkrale, ’n mate van beheer was nie.

Die regering, in samewerking met die bedryf, is in die proses om ’n vee-identifikasie en naspeurbaarheidstelsel (Livestock Identification and Traceability System of LITS SA) te ontwikkel. Dit sluit die totale bedryf – van opkomende tot kommersiële produsente – in en het ten doel om dieresiektes te beheer en onder meer ook die beweging van diere te dokumenteer.

Dewald sê die meeste voerkrale beskik oor ’n mate van naspeurbaarheid van die voerkraal se hek af, maar die eintlike probleem lê by die dokumentering van diere vóór hulle die voerkrale bereik.

Die oogmerk by voerkrale

“Voerkrale sal onder andere wil sien dat elke dier so spoedig as moontlik ná geboorte gemerk moet wees en dat ’n rekord van identifikasie elke dier vergesel. Voerkrale wil ook sien waarvoor die dier ingeënt is, en indien die dier siek was, watter medisyne toegedien is. Hulle moet weet of die dier tussen plase verskuif is, waar die dier die langste was, ensovoorts,” verduidelik hy.

Dewald glo wetgewing sal uiteindelik vereis dat diere op die LITS-stelsel geregistreer moet wees. Op die oomblik kies elke voerkraal self watter inligting hulle wil hê en daar is nie ’n standaard of minimum vereiste nie. Ongelukkig word die stelsel nog nie op nasionale vlak toegepas nie, maar die voerkrale werk aan standaarde vir minimumvereistes wat produsente aan die voerkraal moet verskaf.

Huidige rooivleismark

Dewald glo die Suid-Afrikaanse rooivleismark het nog ’n lang pad om te loop voordat dit op groot skaal aan die internasionale mark kan deelneem, maar die LITS-stelsel is ’n stap in die regte rigting en rolspelers in die bedryf moet hierop voortbou, met ’n langtermynvisie van internasionale mededinging as hul fokus.

“Daar is enkele diere wat op die vryemark verhandel word wat wel aan LITS voldoen. Sekere voerkrale het reeds met produsente begin onderhandel oor die vereistes vir die inligting van elke dier, asook watter prosedures gevolg moet word.”

Voerkrale kan egter nie té puntenerig wees nie, aangesien daar nie genoeg kalwers is om in die vraag na rooivleis te voldoen nie. Derhalwe koop voerkrale diere wat nie noodwendig aan die LITS-vereistes voldoen nie.

Die pad vorentoe

“LITS sal net kan realiseer as dit met wetgewing afgedwing word, maar as dit eers in plek is, sal produsente soveel meer voordele geniet. Tans is die LITS-stelsel nie verpligtend nie, maar SAFA en sy lede sou graag wou sien dat alle diere wat deel van die formele waardeketting vorm, aan naspeurbaarheidsvereistes voldoen,” sê Dewald.

Hoewel daar ’n groter aansporing deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling is om naspeurbaarheid op nasionale vlak te vestig, moet die rolspelers in die bedryf verantwoordelikheid neem vir die monitering en deurvoer van die stelsel.

“Die rolspelers in Suid-Afrika is baie vinnig om ons produk met internasionale standaarde te vergelyk, maar ek dink nie ons het al genoeg gedoen om onsself met ander lande te vergelyk nie. Ons het wel die potensiaal om met die wêreld mee te ding, maar ons moet nie wag tot iemand anders die voortou neem nie.

“Al die rolspelers moet saamstaan en onsself meetbaar met wêreldstandaarde maak. Naspeurbaarheid is een van die maniere wat ons dit kan regkry,” sluit hy af.
Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Dewald Olivier by 082 800 3737.