Gedurende die vroeë stadium van die COVID-19-inperkings, het baie lande hul grense gesluit vir toeriste, terwyl die in- en uitvoer van produkte tot ‘n mate kon voortgaan solank daar aan sekere maatreëls voldoen is. Suid-Afrika staan voor in die ry wat voedselsekerheid op die Afrika-kontinent betref en beklee wêreldwyd die 48ste plek uit ’n lys van 133 lande. Maar hoe sou die prentjie lyk indien ons nie meer kon in- of uitvoer nie? Tot watter mate sou Suid-Afrika selfonderhoudend kon wees gegewe huidige produksie?

Stand van die mielie-oes

Suid-Afrika het ’n sterk graanbedryf wat meestal in die land se mieliebehoeftes voldoen. Gedurende nege van die afgelope tien jaar is ’n positiewe handelsbalans gehandhaaf. Die uitsondering was in 2016, tydens die droogte, toe ’n handelsbalans van -$297 miljoen aangeteken is.

Produksievlakke het die laaste vyf seisoene geweldig gewissel, met die kleinste mielie-oes wat in die 2015/16-produksieseisoen aangeteken is op sowat 8,2 miljoen ton, terwyl ’n rekordoes van 17,6 miljoen ton in die daaropvolgende seisoen aangeteken is.

Verbruik oor die laaste vyf jaar het tussen 9,8 miljoen en 10,6 miljoen ton gewissel, met net minder as die helfte van plaaslike verbruik wat vir menslike verbruik verwerk is terwyl sowat 32% in veevoere ingesluit is.

Sojaboonproduksie

Die hektare onder sojabone het die afgelope tien jaar meer as verdubbel, met produksie wat ook skerp gestyg het. In die 2018/19-produksiejaar is 1,28 miljoen ton sojabone plaaslik geproduseer, met verbruik wat in 2019 op 1,47 miljoen ton geskat is.

Olie- en oliekoekproduksie is verantwoordelik vir die verbruik van sowat 82% van plaaslik verwerkte sojabone. Die produksie van veevoer het sowat 955 000 ton se sojaboonbyprodukte verbruik, waarvan bykans 408 000 ton bestaan het uit ingevoerde oliekoek. Sojaprodukte tesame met mielies (ingesluit byprodukte) wat vir veevoer gebruik is, behels net meer as 63% van die totale roumateriaal vir veevoer in 2018/19.

Die hoofbronne van ingevoerde sojabone in 2019 was Zambië, Malawi, Mosambiek en die Oekraïne, terwyl daar hoofsaaklik na Zimbabwe uitgevoer is.

Koringverbruik en tendense

Plaaslike koringverbruik het die afgelope jare geleidelik gestyg. In die 2018/19-bemarkingsjaar is 3,3 miljoen ton koring verbruik, feitlik alles vir menslike gebruik.

Produksie het die vorige vyf seisoene tussen 1,45 miljoen en 1,92 miljoen ton gewissel. In 2018 is produksie op 1,8 miljoen ton bereken. Plaaslike koringproduksie kon laas in 1997 aan die plaaslike vraag voldoen. Sedertdien het die tekort gegroei tot sowat 1,5 miljoen ton per jaar wat deur invoere aangevul moes word. In 2019 is sowat 1,8 miljoen ton koring vanaf hoofsaaklik Duitsland, Rusland, Litaue en Amerika ingevoer. In die tydperk is byna 134 000 ton koring uitgevoer, meestal na Zimbabwe, Botswana, Zambië en Lesotho.  

Beesvleis

Wat beesvleis betref het Suid-Afrika sedert die 2006/07-seisoen meestal net soveel of meer beesvleis geproduseer as wat plaaslik verbruik is (Figuur 1). Vanaf 1995 tot 2018 het plaaslike beesvleisproduksie met meer as 100% toegeneem, verbruik met sowat 70% gestyg en beesvleisinvoere was ongeveer 78% laer. In 2018 is net meer as een miljoen ton se beesvleis plaaslik verbruik.

Koeweit, Jordanië en die Verenigde Arabiese Emirate was die belangrikste handelsvennote vir uitgevoerde vars beesvleis. Die grootste handelsvennote vir uitgevoerde bevrore beesvleis was China, Lesotho en Mosambiek. Ingevoerde beesvleis was hoofsaaklik van Namibië en Botswana afkomstig.

Figuur 1: Beesvleisproduksie en -verbruik in Suid-Afrika vanaf 1995 tot 2019.

Skaap- en bokvleis

Tussen 1995 en 2017 het die plaaslike produksie van skaap- en bokvleis met ongeveer 61% gestyg, terwyl die getal skape en bokke in die land met bykans 22% gedaal het.

Sowat 183 000 ton skaap- en bokvleis is in 2017 plaaslik gebruik en produksie was gelykstaande aan 93% van die verbruik. Plaaslike produksie kon daarin slaag om sedert 2008 konstant in 90% of meer van die plaaslike verbruik te voorsien.

Die toename in produksie het ook meegebring dat ingevoerde skaap- en bokvleis in die tydperk met 45% gedaal het. Namibië en Australië was die grootste bron van ingevoerde skaapvleis in 2019 en het saam sowat 98% van invoere voorsien.

Skaapvleis is in 2019 hoofsaaklik na die Verenigde Arabiese Emirate, Lesotho, Sint Helena, Swaziland en Botswana uitgevoer.

Figuur 2: Skaap- en bokvleisproduksie en -verbruik in Suid-Afrika vanaf 1994 tot 2018.

Vordering in die varkbedryf

Die varkbedryf het tussen 1995 en 2017 enorme vordering getoon. Plaaslike produksie het met 106% gestyg terwyl die getal varke oor dieselfde tydperk met meer as 15% gedaal het. Verder het plaaslike verbruik met 115% gestyg en is in 2017 op 282 000 ton bereken.

Sowat 92% van die plaaslike varkvleisbehoefte kon deur Suid-Afrikaanse varkprodusente voorsien word. Ingevoerde varkvleis was meestal afkomstig vanaf Duitsland en Brasilië, met Mosambiek, Namibië en Lesotho wat in 2019 die grootste handelsvennote was.

Hoendervleis

Weens die laer koste van hoendervleis word groot hoeveelhede in Suid-Afrika verbruik. In 2017/18 is 2,39 miljoen ton hoendervleis verbruik, met plaaslike produksie wat op ongeveer 1,7 miljoen ton bereken is en die tekort wat deur invoere aangevul is.

Die ironie is dat plaaslike hoenderprodusente redelik doeltreffend produseer in vergelyking met produsente in ander lande. Die probleem is dat ongunstige handelsooreenkomste daartoe lei dat ingevoerde hoendervleis teen laer as die plaaslike produksiekoste in die plaaslike mark beskikbaar gestel word. Hopelik sal nuwe handelsooreenkomste geleenthede bewerkstellig sodat plaaslike produsente hul markaandeel kan vergroot.  

Laasjaar het Brasilië, gevolg deur Amerika en Pole, die grootse hoeveelheid hoendervleis aan Suid-Afrika voorsien.

Ander uitvoere

’n Groot deel van die plaaslike appel-, peer-, pruim-, avokado-, lemoen- en suurlemoenoeste word uitgevoer. Indien ons grense gesluit sou wees vir dié produkte, sal dit tot ’n ooraanbod in die plaaslike mark lei. Dit sal pryse afdruk en plaaslike produsente se winsgewendheid benadeel. Daar is wel ’n geleentheid vir groei in die produksie van bloubessies wat tans grootliks staatmaak op buitelandse markte.

Produksie-insette

Behalwe vir produksie- en verbruiksyfers, moet die insette wat nodig sou wees om Suid-Afrika se selfonderhoudende status te bepaal, ook in ag geneem word. Die oliereserwes in Suid-Afrika is uiters beperk en sowat 95% van ruoliebehoeftes moet deur invoere voorsien word.

Meer as 60% van produkte wat plaaslik geraffineer word, is afkomstig van ruolie en sowat 36% is afkomstig van steenkool-tot-gas, sintetiese brandstowwe en gas-tot-vloeistof, en ’n baie klein gedeelte van plaaslike ruolie.

In 2019 is petroleumolies ter waarde van sowat $8 840 miljoen ingevoer (ongeveer 18,3 miljoen ton), met ’n handelsbalans van -$8 839 miljoen aangeteken. Gedurende 2017 is bykans 11,1 miljard liter petrol en sowat 12,1 miljard liter diesel verbruik.

Die grootse bronne van invoere was Nigerië (39,5%), Saoedi-Arabië (32%) en die Verenigde Arabiese Emirate (11,8%). Ongeveer 382 ton se brandstof is meestal na naburige lande soos Namibië en Lesotho uitgevoer.

Kunsmisstatistieke

Suid-Afrika se kunsmisverbruik verteenwoordig sowat 0,5% van die wêreldverbruik en ons is ’n netto invoerder van kunsmis. In- en uitvoerstatistiek toon dat Suid-Afrika gedurende 2019 kunsmisprodukte ter waarde van $575 miljoen ingevoer het. Dit het ’n negatiewe handelsbalans van $303 miljoen teweeggebring.

Die belangrikste handelsvennote in 2019 was Katar, Saoedi-Arabië, Rusland, China en Duitsland. Net meer as 2,031 miljoen ton se kunsmisprodukte is gedurende 2019 ingevoer, met 567 000 ton wat uitgevoer is. Die grootste uitvoerbestemmings vir kunsmis was Zambië, Zimbabwe en Namibië.

Die Suid-Afrikaanse kunsmisbedryf handel in ’n gedereguleerde omgewing sonder enige beskerming in die vorm van invoertariewe of regeringsondersteuning. Die bedryf is dus blootgestel aan markfaktore soos internasionale pryse, wisselkoerse en vervoerkoste.

Mielieproduksie gebruik sowat 41% van die kunsmis wat toegedien word, met tuinbou op ongeveer 20% en suikerproduksie op 18%. Al die kalium en tussen 60 en 70% van Suid-Afrika se stikstofbehoeftes, word ingevoer.

Implement-invoere

Heelwat trekkers, stropers, implemente en toerusting wat deur Suid-Afrikaanse produsente gebruik word, word ingevoer. Buiten nuwe werktuie en implemente, word onderdele ook ingevoer. Produsente sal nie vir baie lank teen volle kapasiteit kan funksioneer indien die kanale wat implemente en onderdele voorsien, gestaak sou word nie.

Ten slotte

Suid-Afrika het uitstekende landbouprodusente wat hul produksie oor die laaste jare baie verbeter het. Verbeterde tegnologie en kultivars het ’n beduidende rol in hierdie vooruitgang gespeel. Daar word meer vleis met minder vee geproduseer en kleiner oppervlaktes word gebruik om mielies te verbou, terwyl daar steeds in meeste jare in die plaaslike verbruik voorsien kan word.

Sou die land se grense gesluit word vir handel, sal Suid-Afrika se vermoë tot selfonderhoudendheid eerder geaffekteer word deur die voorsiening van insette vir produksie, as ons landbouprodusente se vermoë om voldoende hoeveelhede basiese voedselsoorte te voorsien.

Die belangrikheid om ons in- en uitvoerkanale vir produkte sowel as insette ten alle tye oop te hou, kan nie genoeg beklemtoon word nie.
dr WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting of bronverwysings, kontak die outeur by epos LombardWA@ufs.ac.za.