Estimated reading time: 3 minutes
Met al die onsekerhede in ons wêreld vandag, voel dit asof die risiko in beleggings en markte net aanhou toeneem. Dit is maklik om in die huidige skommelings en ‘geraas’ van die media vas te kyk en sodoende vasgevang te raak in korttermyndenke oor jou langtermynbesluite.
Kliënte is dikwels so angstig oor die mark, dat hulle net kans sien om in korttermynbateklasse soos die geldmark te belê. Al beteken dit dat jy moontlik geen markrisiko of -skommelings in jou belegging het nie, is die realiteit dat die meeste mense nie hul langtermyndoelwitte sal bereik met die groei wat op geldmarkbeleggings behaal word nie, wat minder as inflasie is.
Doelwit, tydperk en risiko
Voordat ’n beleggingsbesluit geneem word, moet drie faktore in ag geneem word: finansiële omstandighede, finansiële doelwitte en die risiko waarmee jy gemaklik is. Elke belegging het ’n unieke doelwit – byvoorbeeld, geld vir ’n noodfonds, inkomste ná aftrede of om ekstra grond of ’n nuwe trekker te koop.
Dit is belangrik om jou doelwit aan ’n tydraamwerk (beleggingshorison) en verwagte opbrengs te koppel, sodat jy wel die doelwit bereik soos beplan. Jy moet ook die risiko wat met die potensiële opbrengs gepaardgaan, verstaan.
Hoe langer, hoe beter
Die goeie nuus is dat opbrengste minder wisselvallig raak, hoe langer jou beleggingshorison is. Die kanse is dus groter om oor die lang termyn die verlangde opbrengs te behaal. Aftrede op 65 beteken ook nie dat jou beleggingshorison kort is nie, aangesien jy voorsiening moet maak dat jy ná aftrede nog 30 jaar of langer kan leef.


Figuur 1 toon die maksimum en minimum opbrengste in ’n matig konserwatiewe belegging (met ’n opbrengsmikpunt van 3% bo inflasie) oor verskeie tydperke. Dit wys dat markwisselvalligheid grotendeels ’n korttermynrisiko is. Oor een jaar is die potensiële opbrengs enigiets tussen ’n alleruiterste van 21,55% en negatiewe groei van 1,26%.
Indien ons na die langer termyn kyk, sien ons dat die potensiële beste en slegste scenario’s van moontlike opbrengste, baie nader aan mekaar is. Dit beteken die risiko om jou doelwit te mis, is baie kleiner.
In Figuur 2, wat ’n matig aggressiewe belegging met ’n doelwit van 5% bo inflasie voorstel, is die korttermynopbrengste nóg wyer versprei, maar die potensiële langtermynopbrengste is ook hoër.
Albei figure wys duidelik dat markrisiko oor ’n langer tydperk kleiner is. Maak dus seker dat jou beleggingshorison met jou uiteindelike doelwit ooreenstem. Om ’n té hoë opbrengs oor ’n kort tydperk na te jaag, beteken ongelukkig ook hoër risiko. Raadpleeg ’n gesertifiseerde finansiële beplanner, wat buiten die bepaling van die teikenopbrengs, ook sal seker maak jou beleggingskeuse en tydshorison stem ooreen met jou beplanning.
Die inligting in hierdie artikel is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy ’n gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Edms) Bpk is ’n gemagtigde finansiële diensteverskaffer. – Johan du Plessis, PSG Wealth-adviseur
Vir meer inligting, kontak Johan du Plessis van PSG Wealth Bloemfontein Deale Road by johan.duplessis@psg.co.za of 072 3861 802.