Mineraaltekorte kan wild wat intensief aangehou is en dan na groter kampe of ’n oop plaas verskuif word, knou. Met die daling in wildpryse raak dit moeilik om die duur voer wat vir intensiewe stelsels nodig is, te bekostig. Terselfdertyd is van die diere geneties só meerderwaardig, dat dit onverstandig sou wees om daarvan ontslae te raak.
Baie van die diere word na groter kampe of selfs oop plase verskuif waar natuurlike weidings en vreetbare bosse nou ’n baie groter deel van hul dieet uitmaak. Om te sorg dat die prestasie van die diere steeds goed bly, kan dit wildboere loon om met die hulp van voedingkundiges die geskatte voedingswaarde van die veld te bepaal, en lekke en byvoeding sodanig aan te pas dat mineraaltekorte korrek aangevul word.
Giftige plante
Vergiftiging weens plante wat die diere nie ken nie en/of in die natuur nie sou vreet nie, is nog ’n risiko wat wildboere in gedagte moet hou wanneer wild nie meer kan migreer soos in die natuur nie. Skrapse weiding kan sulke plante vir diere aanloklik maak, dikwels met rampspoedige gevolge.
Dr Johan Steyl van die Fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria, sê baie kennis is beskikbaar oor die komplekse werking en tussenwerking van minerale in herkouers, maar min is bekend oor mineraalverwante probleme onder wild.
Die biologiese en chemiese vorm waarin die minerale voorkom, beïnvloed ook die biobeskikbaarheid daarvan. Dit bring mee dat die mineraalontleding wat op die voersak aangeteken is, nie noodwendig vir die dier wat dit vreet, beskikbaar is nie. Daarom kan dit baie moeilik wees om die hoofoorsaak van ’n mineraalwanbalans te identifiseer.
Koper
Koper het baie belangrike funksies in die dier se liggaam en dien onder meer as ’n antioksidant. Verskeie sindrome kan ontwikkel, afhangend van die vlak en duur van die tekort. ’n Matige tekort kan groei inhibeer, reproduksie belemmer en die dier se haarkleed kan dofgrys en krullerig raak.
Die verlies van gebergde koper in die dier se liggaam kan lei tot skielike swakheid en selfs hartversaking. Dit gebeur veral waar lusern die hoofbron van ruvoer is. ’n Seleniumtekort kan sake verder kompliseer, want lusern is arm aan selenium én koper.
Suid-Afrika se weivelde is grootliks arm aan koper, met die uitsondering van dele in die Noord-Kaap waar ’n oormaat van koper in weidings kan voorkom. Dit is die gevolg van koper se verwantskap met molibdeen.
Waar min molibdeen in die grond voorkom, neem plante ’n oormaat koper uit die grond uit op en berg dit in hul stingels en blare. Volop molibdeen lei weer tot ’n lae koperinhoud in die weigewasse.
In dele van Noordwes lei ’n hoë ysterinhoud in die grond weer tot ’n beperkte opname van koper deur plante. ’n Soortgelyke effek kan ook deur grondversuring veroorsaak word, veral op die Hoëveld met hoë vlakke van suurreën.
Selenium
’n Tekort aan selenium staan algemeen as witspiersiekte bekend. Selenium se funksie is baie dieselfde as die van koper, en dit werk ook in sinergie met vitamien E. Die siekte kan wissel volgens toestande. Die hart- en skeletspiere word aangetas, die diere raak swak en gaan lê.
Die antioksiderende funksie van dié elemente is hoofsaaklik nodig om wild tydens strestoestande te beskerm, soos gedurende die vangproses. As daar uitermatig baie diere tydens ’n vangery vrek, kan ’n moontlike rede die gevolg van ’n tekort aan koper, selenium en vitamien E wees.
Fosfaat
Die meeste grondsoorte in Suid-Afrika is ook arm aan fosfaat. Fosfor is ’n noodsaaklike makro-element vir ’n gesonde skeletstruktuur en -funksie. Met ’n dieet waarin te min fosfor voorkom, kan ’n mens meer beenbreuke verwag. ’n Kliniese teken dat daar so ’n tekort bestaan is wanneer diere die bene van skelette in die veld begin vreet of daaraan kou, of wanneer diere abnormale hoeveelhede grond begin vreet in ’n poging om die tekort aan te vul.
Sulke gedrag kan die risiko van lamsiekte verhoog. Dié toestand word veroorsaak deur ’n dodelike gifstof wat deur bakterieë, wat in die bene van dooie diere voorkom, geproduseer word. Diere waarvan die tande erg verweer en afgeslyt is, kan ook abnormaal baie grond vreet.
Dr Steyl sê dit is maar enkele uitdagings wat hy en sy kollegas in die veld waargeneem het en dit verteenwoordig beslis nie al die uitdagings wat wildvoeding inhou nie. Om risiko’s te identifiseer en verliese te beperk, is dit belangrik dat wildboere self ontledings van hul weigewasse en grond laat doen, om moontlike tekorte aan te vul.
’n Wildvoedingkundige en veearts behoort deel te wees van die boer se professionele span. Kostedoeltreffende aanvullings wat wetenskaplik saamgestel is, kan sulke probleme hokslaan en is een van die goedkoopste bestuurspraktyke wat diereproduksie aansienlik kan verbeter.
Voorkoms van vergiftiging
Verskeie plante bevat gifstowwe wat hoofsaaklik ontwikkel het om te voorkom dat dit ontblaar word. Tannien is waarskynlik die bekendste hiervan. Wild is egter minder kwesbaar as vee wanneer dit by plantgifstowwe kom.
Wild toon baie sterker instinktiewe weerhoudingsgedrag as vee. Dit is waarskynlik geneties van aard, met ’n sterk opleidingskomponent van ouer diere in die trop. Daarby is die meeste wildspesies, veral rooibokke, njalas en koedoes, selektiewe vreters. Dié diere kan weidings waarop vee normaalweg sal vrek, optimaal benut. Veral blaarvreters het die vermoë ontwikkel om die plantgifstowwe baie beter as vee te verwerk.
Dit is egter ook waar dat die grasvretende wildspesies soos buffels, wildebeeste en elande, meer kwesbaar as blaarvreters is ten opsigte van plantgifstowwe. Dr Steyl sê sy waarneming is dat vergiftiging deur plante onder wild hoofsaaklik enkelinge tref en dat ’n hele klomp diere nie, soos in die geval van vee, vrek nie.
Toestande wat tot plantvergiftiging onder wild lei, kom hoofsaaklik in intensiewe stelsels voor waar oorbeweiding plaasgevind en min anders as die gifplante oorgebly het. Weidiere soos buffels en wildebeeste kry dikwels van die plante saam met gras in en van die gifplante kan saam met gras en lusern, wat die wild as ruvoer kry, gebaal word. Wanneer natuurlike weiveld afbrand, verskyn gifplante gewoonlik eerste omdat die meeste pioniersgewasse is.
Giftige plantsoorte
Benewens plante wat tannien afskei is gifblaar, lantana, tulpe en in ’n mindere mate inkbessie, sprinkaanbos en nastergal, plante wat probleme vir wild kan skep.
Gifblaar kom hoofsaaklik in die noordelike dele van die land voor en groei dikwels saam met wildeseringbome. Dié plant is baie giftig en as ’n dier selfs net ’n paar blare inkry, kan dit dodelik wees. Die diere kan skielik, sonder enige kliniese tekens, vrek. Vrektes kom gewoonlik in die vroeë lente voor omdat gifblaar normaalweg die eerste plant is wat blare ná die winter uitstoot.
Hy sê dit is interessant dat blaarvreters nie aan die plante peusel nie, al is daar feitlik geen ander kos beskikbaar nie. Weidiere, veral buffels, is egter kwesbaar en boere moet sorg dat hulle nie toegang tot sulke weidings het nie.
Lantana is skynbaar nie so ’n groot probleem nie en min sulke vergiftigings kom voor. ’n Matige inname deur blaarvretende wildspesies behoort nie probleme te skep nie, maar as diere skielik groot hoeveelhede van dié blare inkry, kan dit dodelik wees. Dit blyk asof rooibokke en blaarvreters wat lantana nie ken nie, veral kwesbaar is.
Tulpe kom hoofsaaklik op die Hoëveld in beduidende konsentrasies voor, veral in klam gebiede. Wanneer grasvreters in dié gebiede wei kan hulle van die plante inkry, wat die diere se harte aantas. Sulke diere kan ernstig siek word en diarree opdoen of selfs vrek. – Andries Gouws, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Johan Steyl
by 082 398 4823 of johan.steyl@up.ac.za.