Estimated reading time: 5 minutes
- Mankheid by skape en bokke kan aan talle oorsake toegeskryf word, van aangebore afwykings, infeksies en voedingstekorte, tot vergiftiging, parasiete en beserings.
- Die bekende veearts, dok Faffa Malan, sê mankheid is net ’n kliniese teken en nie ’n diagnose nie.
- Infeksies soos vrotpootjie, sweerklou, bek-en-klouseer en so meer, is van die vernaamste oorsake van mankheid by skape.
- Vrotpootjie word deur die Dichelobacter nodus-bakterie veroorsaak en is veral tydens die reënseisoen die grootste oorsaak van mankheid by skape.
- Siek skape moet afgesonder en op ’n droë oppervlakte gehou word om siekteverspreiding te beperk.
Mankheid by skape en bokke kan aan talle oorsake toegeskryf word, van aangebore afwykings, infeksies en voedingstekorte, tot vergiftiging, parasiete en beserings. Dit is dus baie belangrik om die oorsaak te bepaal voordat behandeling geskied.
As diere nie gemaklik loop nie, moet eers gekyk word of net een been of meer aangetas is, of die dier waggelend loop, die balans aangetas is, en of die dier gaan lê en nie weer kan opstaan nie.
Die bekende veearts, dok Faffa Malan, sê mankheid is net ’n kliniese teken en nie ’n diagnose nie. Elke klou, gewrig en been van die dier moet klinies ondersoek word om te probeer vasstel wat die oorsaak is. As dit nie bloot ’n besering of ‘n doring of bosluis tussen die kloue is nie, behoort ’n veearts se hulp ingeroep te word.
Waarna die veearts kyk
As die gewrigte geswel is, behoort die veearts van die vog of etter wat die swelling veroorsaak, te versamel en sal dan met smere of kwekings bepaal wat die organisme is wat die gewrig aangetas het.
’n Mens kan bepaal of dit aangebore afwykings is deur te kyk of die mank diere almal die lammers van ’n spesifieke ram is. Sulke afwykings kan ook voorkom wanneer die ooie tydens dragtigheid met ’n lewende entstof (soos teen bloutong) behandel is.
Infeksies soos vrotpootjie, sweerklou, bek-en-klouseer en so meer, is van die vernaamste oorsake van mankheid by skape. Diere wat mank is, vreet minder, suip minder water, groei swakker, hul reproduksie verlaag, ramme produseer minder spermselle en kan ooie moeilik of glad nie dek nie, wolbreke kan voorkom en die winsgewendheid van die kudde kan daal.
Hoe vrotpootjie ontstaan
Vrotpootjie word deur die Dichelobacter nodus-bakterie veroorsaak. Dit is hoogs aansteeklik en die bakterie kan die kloue deur wonde, bosluisbytplekke of beserings binnedring. Swaarder diere soos ramme en swaardragtige ooie is meer vatbaar, aangesien hul kloue meer oopsper as hulle loop. Hierdie siekte, wat die kloutjies laat kraak, is veral tydens die reënseisoen die grootste oorsaak van mankheid by skape. Die kiem floreer in warm, vogtige toestande en kan tot twee weke in die grond oorleef. Diere kan dit lank dra.
Dit is net die kloutjie wat geraak word. Die kloutjie ruik sleg, is warm, pynlik, vuil en smetterig. Die skaap trek die poot terug as die klou hanteer word en staan soms op sy knieë as hy wei.
Siek skape moet afgesonder en op ’n droë oppervlakte gehou word. Knip die aangetaste dele met ’n hoefskêr skoon, laat die skape elke dag deur ’n voetbad met koper- en sinksulfaat of ’n voorgeskrewe beheermiddel loop, en behandel die klou met ’n ontsmettingsmiddel.
Die siekte kan met behulp van goeie voeding bestuur word, aangesien skape in ’n goeie kondisie beter weerstand bied. Voorsien droë krale of kampe, hou skape uit vleie en nat dele, en sonder siek diere af om siekteverspreiding te beperk. Strooi landboukalk in die krale, want die bakterieë oorleef moeilik in ’n alkaliese omgewing.
Behandeling van sweerklou
Sweerklou is ’n bakteriese infeksie van die pootgewrig. Die bakterieë dring die vel of kloutjie binne via klein wonde wat veroorsaak is deur bosluise, bossies, klippe, en so meer. ‘n Abses vorm tussen of bokant die kloue en tas dikwels die kootgewrigte aan. Die bontpoot-, hartwater- en kloutjiebosluis is die grootste sondaars. Die gewrig swel op en die dier loop mank. Die probleem kom gewoonlik by ouer en swaarder diere voor.
Maak die abses oop, maak dit skoon en behandel dit met antibiotika en ’n anti-inflammatoriese middel.
Ander oorsake
- Aarbeipoot (klontwol): Die kroon van die klou word aangetas, waarskynlik deur die gelyktydige infeksie deur die klontwol-kiem en vuilbekvirus.
- Akute mastitis (blou-uier): As die ooi loop, sleep sy die poot aan die kant waar die uier aangetas is.
- Bloutong: Die hoefkroon van die hoef ontsteek, die skaap is styf en loop moeilik, en die poot kan so seer word dat die skaap op sy knieë staan.
- Gewrigsontsteking: Verskeie kieme kan gewrigsontsteking veroorsaak en die graad van mankheid sal afhang van watter gewrigte aangetas is.
- Kroniese bloednier: Die gifstof van ’n kiem veroorsaak verlamming wat die skaap se bene pap maak. Dit lyk asof die dier in ’n koma is.
- Lamsiekte word veroorsaak deur die gifstof wat die bakterie, Clostridium batulinum, afskei. Soos wat die siekte vorder, raak die dier styf en stokkerig en gaan lê gou.
- Ná-dip-mankheid en gewrigsontsteking: ’n Bakteriese infeksie wat gewrigsontsteking, hoefkroonontsteking en laminitis twee tot vier dae ná dip veroorsaak.
- Sitsiekte: ’n Bakterie dring die liggaam deur wonde soos bosluisbyte binne. ’n Abses ontstaan wat op die rugmurg druk en die hele agterlyf verlam.
- Sekere voedingstekorte, vergiftigings, parasiete en beserings kan ook mankheid en verlamming veroorsaak.
Vir meer inligting, kontak dr Faffa Malan by 082 908 8666 of epos dokfaffa@gmail.com. – Andries Gouws, Plaas Media