Monday, February 3, 2025
HomeMagazinesMaak goeie-gehalte kuilvoer

Maak goeie-gehalte kuilvoer

Estimated reading time: 4 minutes

Die maak en gebruik van kuilvoer is op baie plase deel van die voervloeiprogram, maar dit is moeilik om vooraf te bepaal of die gehalte van jou kuilvoer goed genoeg gaan wees of hoe jy dit kan verbeter. Dit is ’n proses wat oor ’n lang tydperk verloop en wat begin met die voorseisoen-beplanning en eindig die dag as die laaste kuilvoer suksesvol gebruik kon word.

Die kruks van goeie kuilvoer is om dit uit die staanspoor reg aan te pak, soos om die voer op die regte tyd te sny, om dit optimaal in te kuil, dit deur die seisoen in ’n goeie toestand te hou en om dit reg te voer. Plaas Media se Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie word elke jaar aangebied en neem hierdie aspekte in ag by die ontleding van deelnemers se kuilvoer. Om hierdie kriteria te gebruik, gee produsente dus altyd ’n goeie aanduiding van wat nodig is om te bepaal of jou kuilvoer op standaard is.

Chemiese samestelling

Die laboratoriumontleding dra die meeste gewig, omdat die chemiese samestelling ’n goeie aanduiding gee van hoe die plant vir sy spesifieke doel presteer het.

Faktore soos bemesting, plantestand en kultivarkeuse beïnvloed die ontleding, maar gee bied ’n goeie aanduiding van watter rol bestuursinsette soos snytyd, bekamping van vermorsing, kompaksie en so meer in die maak van kuilvoer gespeel het.

Fermentasie-eienskappe

Kuilvoer is eintlik ruvoer wat vir langtermyn-berging voorberei moet word. Die fermentasieproses speel hier ’n baie belangrike rol.

Met hierdie parameter word nie net in detail na verskillende organiese en vetsure gekyk nie, maar ook of die ideale pH-vlak (suurheidsvlak) vir preservering behaal is. Goeie bestuursinsette bepaal die sukses van preservering.

Aërobiese stabiliteit

Kuilvoer moet voortdurend stabiel bly wanneer dit as voerbron gebruik en deurlopend hanteer word. In hierdie parameter word na die veranderinge in pH oor vyf dae gekyk, met die doel om die kuilvoer se aërobiese stabiliteit te bepaal.

Omdat kuilvoer ’n bederfbare produk is, kan dit met te veel blootstelling aan lug of suurstof onstabiel word en dan bederf. Bestuursinsette en die gebruik van tegnologie speel ’n baie belangrike rol in die handhawing van kuilvoer se stabiliteit.

Invloed van bolaagverliese

Produsente raak dikwels haastig om die bunkers toe te maak nadat hulle ’n paar dae gewerk het, maar as dit nie volledig en korrek gedoen word nie, beteken dit op die lang duur onnodige verliese.

In hierdie toets word die bolaag van die kuilvoerhoop tot op ’n diepte van 20cm geëvalueer. Hier word veral op bestuursinsette soos die toemaak en vaspak van seile, die aanwending van nuwe seiltegnologie, bolaag-preserveermiddels en kompaksie gefokus.

Kompaksie van kuilvoer

Die sukses van kuilvoer gaan hoofsaaklik oor die verwydering van suurstof. Kompaksie is ’n meganiese manier waarop suurstof verwyder kan word. Die vinnige en doeltreffende verwydering van suurstof dra positief by tot die preservering van kuilvoer.

Kompaksie is ’n noodsaaklike bestuursinset. ’n Keuse oor watter trekker jy gaan gebruik of die tyd wat die trekkers op die bunker gaan deurbring, kan nie voorgeskryf word nie – dit bly 100% die produsent se inset. Dit is ook die eerste plek waar hy of sy ’n groot verskil in die kuilvoermaakproses kan meebring.

Visuele beoordeling

Die laaste maatstaf wat in die kompetisie gebruik word, is visuele beoordeling. Omdat dit nie wetenskaplik weergegee kan word nie, dra dit ook die minste tot die totale beoordeling by.

Aspekte soos snylengte, die voldoende breek van pitte in die geval van mieliekuilvoer, hoe goed die bunkers toegemaak is en selfs hoe die kuilvoer ruik, is alles deel van hierdie beoordeling.

Daar word ook gekyk na watter diere gevoer moet word. Dit het ’n invloed op aspekte soos snylengte en die soort opberging. Skape verkies byvoorbeeld kleiner partikelgroottes as beeste.

Die eintlike geheim

Die sukses van kuilvoer lê daarin om elke stap in die proses suksesvol deur te voer, totdat die maksimum potensiaal binne die betrokke omgewing bereik is. Dit vereis voortdurende insette in die bestuur van jou bates om verliese te beperk en gesonde benutting te optimaliseer.

Kuilvoer dra uiteindelik by tot die winsgewendheid van jou boerdery, omdat jy goeie gehalte voer vir jou diere kan gee in tye wanneer die veld dit nie kan doen nie. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Must Read

Regsadvies en landboukennis op Plaas TV

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: Die produksie van melkkoeie...