Dinamika en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse lusernhooibedryf: Lusernhooiproduksie (Deel 3)

Estimated reading time: 6 minutes

Hoewel lusern hoofsaaklik vir hooiproduksie gekweek word, word dit in sekere streke met hoë veebeladings ook as weiding benut, veral deur kleinvee. 

Die eerste en tweede aflewerings van hierdie reeks het gefokus op lusernhooi as ’n belangrike bron van veevoer, en die graderings en gehalte daarvan. Hierdie artikel ondersoek verskeie aspekte wat op lusernhooiproduksie betrekking het.

Figuur 1 illustreer hoe lusern vanaf produksie tot gebruik deur die eindverbruiker beweeg, asook hoe dit met ander waardekettings verbind is. Die Nasionale Luserntrust (NLT) verdeel lusernproduksie vir praktiese doeleindes in twee sektore: saadproduksie en hooiproduksie. Saadproduksie het oor tyd aansienlik afgeneem, hoofsaaklik as gevolg van droogtes in sleutelproduksiestreke. Dit het tot ’n groter afhanklikheid van ingevoerde lusernsaad gelei.

Figuur 1: Opsomming van die Suid-Afrikaanse lusernhooiwaardeketting. (Bron: VN Comtrade-databasis, 2024; DALRRD, 2023; en NLT, 2023)

Lees deel 2 van hierdie reeks wat oor gradering en gehalte gaan.

Verwerking van lusernhooi

Hoewel lusern hoofsaaklik vir hooiproduksie gekweek word, word dit in sekere streke met hoë veebeladings ook as weiding benut, veral deur kleinvee.

Die lusernplant is ’n meerjarige gewas met ’n lewensiklus wat oor verskeie produksieseisoene strek en goed aangepas is by verskillende klimaatstoestande. Die plant gaan gedurende die wintermaande ’n dormante fase binne, waarvan die duur deur die intensiteit van die wintertoestande bepaal word (Orloff 2007).

Lusernproduksie behels dat lusern vier tot tien keer per seisoen gesny word, waarna dit gedroog, gehark en gebaal word as hooi. Weertoestande het ’n groot invloed op die hooimaakproses, veral wanneer dit vertraag word. Indien die proses te lank neem of reën tydens verwerking voorkom, verminder blaarbehoud. Die blaarinhoud in bale bepaal hoofsaaklik die gehalte van lusernhooi.

Addisionele meganiese prosesse wat die uitdroging van hooi versnel kan die gehalte daarvan nadelig beïnvloed. Lae-gehalte lusernhooi word dikwels as ongegradeerde hooi verkoop. Produsente gebruik ongegradeerde lusernhooi hoofsaaklik as byvoeding op hul plase, en in baie gevalle word hooi gemaal en met ander rantsoene gemeng as ’n bron van ruvoer.

Produksie en gebruik

Meer as 80% van Suid-Afrikaanse lusernhooi word onder besproeiing geproduseer. Die waterbehoeftes van die gewas word noukeurig op grond van die vereistes van hooimaakpraktyke geskeduleer.

Die meerderheid van Suid-Afrika se lusernhooi word in die Noord-Kaap geproduseer; die provinsie is verantwoordelik vir meer as 90% van die land se gegradeerde lusernhooi. Tot op hede is geen data beskikbaar oor lusernhooi wat nie amptelik gegradeer word nie. Hoë produksievlakke hou dikwels verband met gunstige weertoestande en voldoende waterbeskikbaarheid.

Lusernhooi wat in die Noord-Kaap geproduseer word, word landswyd benut. Die suiwelbedryf is die grootste verbruiker, terwyl laer-gehalte hooi in verskeie ander sektore van die veevoerbedryf gebruik word.

Figuur 2 illustreer die verspreiding van lusernhooiproduksie in Suid-Afrika. Die Oos- en Wes-Kaap produseer onderskeidelik 5,32 en 1,65%. Die Oos-Kaap het die hoogste konsentrasie van melkprodusente in die land en lusernhooi wat in dié provinsie geproduseer word, word hoofsaaklik plaaslik deur die melkbedryf verbruik.

Afhangend van die tipe veeproduksiestelsel kan lusern beide as hooi en weiding benut word. In die Oos- en Wes-Kaap word lusernbeweiding beskou as ’n goed-aangepaste veeproduksiestelsel wat veral gebruik word om diere vir die mark af te rond, en wat by ekstensiewe en intensiewe veestelsels kan inskakel.

Figuur 2: Die verspreiding van lusernhooiproduksie in Suid-Afrika, 2023.

Besproeiing en gradering

Besproeiingskemas kan in twee tipes verdeel word. Die eerste behels water wat vanaf riviere of damme na besproeiingskemas herlei word, soos by die Jacobsdal-/Rietrivier- en Vaalharts-besproeiingskemas. In die geval van die Oranje- en Vaalriviere word water direk uit die riviere onttrek en benut.

Volgens die destydse Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) het Suid-Afrika oor die afgelope 32 jaar gemiddeld 1,3 miljoen ton lusern per jaar geproduseer, met ’n produksie van 1,5 miljoen ton in 2021/22 (DALRRD, 2023).

’n Skatting van Suid-Afrikaanse lusernproduksie vir die tydperk van 1990/91 tot 2021/22 word in Figuur 3 getoon. Hierdie produksieskatting is egter beperk, aangesien geen onderskeid getref word tussen lusern wat vir beweiding of vir hooimaakdoeleindes aangewend word. Gevolglik bemoeilik dit die interpretasie van data en die verduideliking van faktore wat lusernproduksie beïnvloed.

Figuur 3: Suid-Afrikaanse lusernproduksie van 1990/91 tot 2022/23. (Bron: DALRRD, 2023)

Lusernhooi wat in Suid-Afrika geproduseer word volg verskeie roetes voordat dit die eindverbruiker bereik. Eerstens word dit vir eie gebruik aangewend. Tweedens vind dit sy weg na die informele mark, waar lusernhooi gewoonlik nie gegradeer word nie. Laastens word lusernhooi in die formele mark gegradeer en vir voerdoeleindes in melk- en veeboerderye gebruik.

Die amptelike NLT-graderingstelsel klassifiseer lusernhooi in verskeie grade volgens gehalte, hoewel nie alle hooi gegradeer word nie. Gegradeerde lusernhooi word in die formele mark gebruik, terwyl hoër-gehalte hooi dikwels uitgevoer word om aan die internasionale vraag te voldoen.

Die enigste beskikbare data om die totale produksie van lusern en lusernhooi akkuraat te beraam, is die syfers wat deur DALRRD bereken is, asook data van lusernhooi wat in die formele mark volgens die NLT se amptelike graderingstelsel gegradeer is.

Die NLT-graderingstelsel speel ’n kernrol in die gradering van Suid-Afrikaanse lusernhooi. Die hoeveelheid gegradeerde lusernhooi wissel jaarliks tussen 350 000 en 450 000 ton, wat die aanbod in die formele mark wesenlik beïnvloed.

Weertoestande en hooigehalte

Weertoestande het ’n groot invloed op die gehalte en beskikbaarheid van lusernhooi tydens die hooimaakproses. Produksievlakke en hooigehalte word grotendeels bepaal deur ongunstige faktore soos temperatuur, seisoenale tydsberekening, neerslag en bestuursbesluite tydens produksie.

Die graderingstelsel is in 2004 op die been gebring en teen 2012 as die amptelike graderingstelsel van die Suid-Afrikaanse lusernhooibedryf ingevolge statutêre maatreëls geïmplementeer. Suid-Afrikaanse lusernhooiproduksie (gegradeer) vanaf 2014 tot 2023 word in Figuur 4 uiteengesit.

Die data toon ’n geleidelike toename in produksie tot en met 2019, hoewel dit moeilik is om te bepaal of die toename uitsluitlik aan gunstige weerstoestande toegeskryf kan word. Produksie het in 2019 ’n hoogtepunt bereik as gevolg van optimale weerstoestande en ’n hoë produsenteprys. Daarna het weertoestande ’n toenemende invloed op produksie gehad, met ’n duidelike afname wat waargeneem kan word.

Ongunstige weertoestande beïnvloed die totale opbrengs van lusernhooi asook die gehalte daarvan. Aanhoudende reënval gedurende die produksieseisoen ontwrig die hooimaakproses, verleng die droogtyd van hooi en noodsaak verhoogde meganiese hantering. Hierdie eksta ingrypings het nadelige gevolge vir die blaarbehoud van lusernhooi. – Dr Hermias van Niekerk, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Figuur 4: Suid-Afrikaanse lusernhooiproduksie (amptelik gegradeer) van 2014 tot 2023. (Bron: DALRRD, 2023)

*Data vir 2023 is onvolledig.

In die volgende uitgawe van Veeplaas fokus ons op die produsenteprys van lusern. Vir meer inligting of verwysings, stuur ’n e-pos na vNiekerkHN@ufs.ac.za

Related

Dinamika en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse lusernhooibedryf: Produsentepryse (Deel 4)

Estimated reading time: 7 minutes Vorige artikels in hierdie reeks het gefokus op aspekte soos die gradering, gehalte, produksiegebiede en produksiemetodes van lusernhooi. In hierdie...

Mosdene Borans make their mark

Estimated reading time: 7 minutes When the bid closed on R2 million for the Boran bull Odysseus (E18-138), it took mere minutes for the Mosdene...

FMD in dairies: Centrifuging fact from fiction

Estimated reading time: 6 minutes Where FMD is present, milk must be pasteurised before sale. In fact, in many municipalities selling raw milk is illegal...