Estimated reading time: 4 minutes
Anaplasmose, of galsiekte, kan groot amok onder beeste saai. Ondanks die waarskynlikheid dat daar ’n onderrapportering van galsiektevrektes is, word die jaarlikse gemiddelde vrektesyfer konserwatief op ongeveer 3% vir beeste beraam.
Dr Nicola Collins, ’n deeltydse navorser aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veeartsenykunde, sê dié syfer is gegrond op 13,7 miljoen beeste in die land in 2015, wat deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se direktoraat vir statistiek en ekonomiese ontleding verskaf is.
Die koste van bosluisbeheer, behandeling van besmette diere en produksieverliese weens verminderde melk- of vleisproduksie, is nie hierby ingereken nie. “As ’n lakterende koei anaplasmose opdoen, sal dit haar melkproduksie vir die hele laktasiesiklus beïnvloed,” sê dr Collins.
Sy verwys na ’n artikel deur dr Theo de Waal, ’n veterinêre parasitoloog verbonde aan die Dublin-universiteitskollege, oor die beheer en diagnose van anaplasmose in Suid-Afrika. Daarin word aangedui dat meer as 99% van die land se totale beesbevolking die risiko loop om galsiekte op te doen.
Volgens dr De Waal vind 18% van alle aangemelde beesvrektes plaas weens bosluisoorgedraagde siektes soos rooiwater, anaplasmose en hartwater. Daarvan maak anaplasmose 3% uit.
Siektetekens en oordrag
Anaplasmose is ’n rickettsia-tipe organisme wat in die rooibloedselle van besmette diere voorkom en koors, bloedarmoede, geelsug, rumenstase en hardlywigheid veroorsaak. ’n Daling in melkproduksie kan enige van dié siektetekens voorafgaan.
Anaplasmose word deur minstens vyf verskillende bosluisspesies oorgedra. Die bloubosluis is waarskynlik die belangrikste oordraer van die gevaarlike galsiekte-organisme, Anaplasma marginale. Dié organisme veroorsaak ernstige siekte en vrektes by vatbare beeste, terwyl Anaplasma centrale selde enige ernstige siektetekens veroorsaak. Volgens dr Collins kan anaplasmose ook deur spuitnaalde of bytende vlieë oorgedra word.
Diere wat een keer met Anaplasma marginale of Anaplasma centrale besmet was, bly waarskynlik lewenslank draers van die parasiet, en bou gewoonlik ’n langdurige immuniteit teen die siekte op. Omdat immuniteit teen Anaplasma centrale beeste teen Anaplasma marginale-verwante siektes beskerm, word bloed wat met Anaplasma centrale besmet is, as ’n lewende entstof gebruik om beeste mee in te ent.
Verspreiding en vatbaarheid
Volgens dr Collins hou die verspreiding van anaplasmose verband met die verspreiding van bosluisvektore, en dit kom in alle provinsies van die land voor, behalwe in groot dele van die Noord-Kaap.
Anaplasmose is permanent gevestig in groot gebiede van die land se ander agt provinsies waar vektorbosluise teenwoordig is. Uitbrekings kom meer gereeld tydens die warmer somer- en herfsmaande voor, as gevolg van die hoër voorkoms en aktiwiteit van bosluise en bloedsuiende vlieë in hierdie tyd.
Beeste wat nie voorheen besmet of ingeënt is nie, is vatbaar vir anaplasmose. Volgens dr Collins bou kalwers vir die eerste nege maande ’n natuurlike immuniteit teen Anaplasma marginale-infeksie op as hulle voortdurend deur besmette bosluise gebyt word. Immuniteit sal in volwassenheid gehandhaaf word solank die dier fiks en gesond bly en ’n konstante blootstelling kry. Hierdie situasie staan bekend as endemiese stabiliteit.
In gebiede waar bosluisvektore voorkom en immuniteit goed gevestig is, sal gevalle van anaplasmose sporadies wees. In produksie-omgewings soos voerkrale of melkplase, waar beeste dig saamgepak word en bosluise goed beheer of afwesig is, is die waarskynlikheid van oordrag deur bytende vlieë groter.
Voorkoming en beheer
Dr Collins verwys na dr De Waal se langtermynbenadering tot die bestuur van bosluise en bosluisoorgedraagde siektes, wat die strategiese gebruik van bosluisdoders en die toediening van entstowwe behels.
Bosluisbeheer alleen sal nie infeksie in endemiese gebiede verhoed nie, en dit is feitlik onmoontlik om bosluise heeltemal uit te wis. Die nastreef van endemiese stabiliteit in endemiese gebiede word dus aanbeveel, deur blootstelling van kalwers aan bosluisoorgedraagde siektes toe te laat gedurende die tydperk waarin hulle natuurlik weerstandbiedend is.
Die beste voorkomende maatreël teen anaplasmose is inenting. Dr Collins sê die Anaplasma centrale-lewende entstof, wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) vervaardig word, kan toegedien word om natuurlike immuniteit te versterk. In gebiede waar die vektorbosluise nie goed gevestig is nie, moet dit beslis toegedien word.
Kalwers behoort tussen vier en nege maande oud ingeënt te word, terwyl hulle nog natuurlike immuniteit het wat ernstige reaksies op die entstof sal beperk. Ouer diere kan erger reageer op inenting en moet noukeurig dopgehou en behandel word indien nodig. Weens die moontlikheid van reaksies by ouer diere, behoort slegs ’n beperkte aantal ouer diere ingeënt te word.
Beskermende immuniteit ontwikkel sewe tot agt weke ná inenting en duur gewoonlik etlike jare. Dit word aanbeveel dat ingeënte diere kort ná inenting aan ‘velduitdaging’ blootgestel word om die ontwikkeling van immuniteit te verseker.
Vir meer inligting, kontak dr Nicola Collins by 012 529 8022 of nicola.collins@up.ac.za.