Estimated reading time: 3 minutes
’n Nuwe rekordprys vir ’n lamkarkas is gister tydens die eerste Lamb Champs Boland-kompetisie opgestel. Die uitverkoopte veiling, wat 4 000 mense gelok het, het by Hoër Landbouskool Boland plaasgevind.
Die hoogste prys van die dag, R72 000, is vir ’n Dorper-kruislam van Pierre Cilliers van Philippolis in die Vrystaat, betaal. Die karkas is deur Kalahari Cuts gekoop en sal nou deel van hul Premium-produkreeks vorm. Die vorige rekord van R64 500, wat in 2007 by die Royal-skou opgestel is, is hiermee oortref.
Volgens dr Theo de Jager, voorsitter van Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), wys die rekordprys op die groeiende erkenning van lam as ’n premie-produk. “Ons is nog ver van die pryse van topwyne, maar Lamb Champs verhoog die waarde van lamsvleis op ’n betekenisvolle manier,” het hy gesê.
Cradock-boer wen Lamb Champs
Louis Botha van Cradock in die Oos-Kaap is as wenner van Lamb Champs Boland 2025 aangewys met ’n uitsonderlike Meatmaster-lam. Hy het ’n kontantprys van R40 000 en ’n trofee deur kunstenaar Nic van Rensburg ontvang. Die tweede plek is aan Nollie Stofberg van Fraserburg toegeken (R20 000), en die derde plek aan Loffie en Micheal Smuts van Moorreesburg (R10 000).
Pick ʼn Pay, hoofborg van die geleentheid, het saam met Toyota, Old Mutual, en ZARbet die inisiatief ondersteun. Tessa Chamberlain van Pick ʼn Pay het beklemtoon dat die projek nie net uitnemendheid vier nie, maar ook volhoubare plaaslike boerdery bevorder.
Familieboerderye vereer
Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, het die belangrikheid van winsgewendheid vir familieboere onderstreep. “Klein- en mediumskaal-boerderye staar ernstige uitdagings in die gesig. Lamb Champs is ’n antwoord daarop.”
Die nasionale finaal van Lamb Champs 2025 vind op 17 Oktober by NAMPO Alfa in Bothaville plaas. Alle winste uit die veiling en die verkoop van Lamb Champs-gemerkte lamsvleis in Pick ʼn Pay-winkels gaan direk na familieboere. Die vleis is volledig gemerk met die boer se naam, plaas, ras, en streek van herkoms.
“Lamb Champs het lamproe tot ’n kuns verhef, vergelykbaar met wynproe,” het Rossouw afgesluit. “Dit herstel die skakel tussen verbruiker en grond.” – Saai-persverklaring verwerk deur Plaas Media


