HomeMagazinesKVBA-saak ná ontslag van ’n werknemer

KVBA-saak ná ontslag van ’n werknemer

Estimated reading time: 4 minutes

  • Wanneer ’n werknemer afgedank word, kan hy of sy ’n dispuut na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys ten einde die billikheid van die ontslag te betwis.
  • Die applikant het 30 kalenderdae ná die datum van ontslag om ’n dispuut aanlyn of in persoon na die KVBA te verwys.
  • Sodra die KVBA die verwysingsvorm ontvang, word ’n datum en tyd vasgestel waarop die partye moet aanmeld vir of ’n konsiliasie of vir ‘n proses genaamd ‘Con-arb’ waar die arbitrasie onmiddellik na konsiliasie volg.
  • Indien die werkgewer nie regverdige prosedures gevolg het nie, kan dit lei tot ’n KVBA-bevel teen die werkgewer vir die uitbetaling van tot 12 maande se salaris aan die werknemer.
  • KVBA-prosesse kan intimiderend wees en kundige advies is raadsaam.

Wanneer ’n werknemer afgedank word, kan hy of sy ’n dispuut na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys ten einde die billikheid van die ontslag te betwis. Vir daardie rede moet werkgewers seker maak dat hulle die korrekte prosedure volg en dat voldoende gronde vir ontslag bestaan voordat ‘n werknemer ontslaan word.

Wanneer ‘n werknemer ’n saak na die KVBA verwys, is die werknemer die applikant terwyl die werkgewer die respondent is. Die applikant het 30 kalenderdae ná die datum van ontslag om ’n dispuut aanlyn of in persoon na die KVBA te verwys. Die basis van die eis word in ’n voltooide verwysingsvorm uiteengesit en op die werkgewer beteken en by die KVBA geliaseer.

Indien die tydperk van 30 kalenderdae verstryk het, kan die applikant steeds die saak na die KVBA verwys, maar moet goeie redes vir die laat verwysing verskaf. Dit geskied gewoonlik as ’n aansoek om kwytskelding vir laat indiening, wat die respondent (werkgewer) dan by wyse van ’n skriftelike vertoë kan teenstaan. Die kommissaris wat die saak hanteer, sal die laat indiening oorweeg en uitkoms daarop lewer.

Sodra die KVBA die verwysingsvorm ontvang, word ’n datum en tyd vasgestel waarop die partye moet aanmeld vir of ’n konsiliasie of vir ‘n proses genaamd ‘Con-arb’ waar die arbitrasie onmiddellik na konsiliasie volg. In die geval van ’n konsiliasie of Con-arb, moet die KVBA die partye 14 dae skriftelike kennisgewing gee van die verrigtinge. In die geval van arbitrasie, moet 21 dae skriftelike kennisgewing gegee word, met nog sewe dae wat bykom indien dit per geregistreerde pos gestuur word.

Die KVBA-prosesse

  • Konsiliasie: Die kommissaris sal poog om die saak op ’n informele manier op te los. Die verrigtinge rondom konsiliasie is privaat en vertroulik. Niemand mag in enige daaropvolgende verrigtinge na enigiets verwys wat tydens konsiliasie-verrigtinge gesê is nie, tensy die partye skriftelik daartoe ingestem het of dit deur ’n hof gelas is.
  • Arbitrasie: Dit behels ‘n formele verhoor waartydens ’n kommissaris beide partye geleentheid gee om hul saak te stel. Dit sluit getuies en getuienis in. Sodra die verhoor afgehandel is, het die kommissaris 14 dae om oor die regverdigheid al dan nie, van die ontslag te besluit.
  • Con-arb: Konsiliasie en arbitrasie word op dieselfde dag aangehoor. Indien konsiliasie nie sou plaasvind nie, volg arbitrasie direk daarna. Enige van die twee partye betrokke in ‘n dispuut rakende onregverdige ontslag, kan ‘n skriftelike beswaar indien teen arbitrasie onmiddellik na konsiliasie. Die beswaar moet minstens sewe dae voor die geskeduleerde Con-arb-datum by die KBVA ingedien en aan die ander party verskaf word.

Die respondent (werkgewer) moet die volgende aan die KVBA bewys:

  • Prosedurele billikheid: Dit sluit in dat die werknemer ’n kennisgewing ontvang het van die dissiplinêre verhoor waarin die aanklagte uiteengesit was en dat die werknemer redelike tyd gegun was om vir die verhoor voor te berei. Tydens die verhoor kon die werknemer versoeke rig rakende die beskikbaarstelling van ’n tolk, verteenwoordiging, die stel van sy/haar saak, die roep van getuies, die bevraagtekening van die werkgewer se getuies, en dies meer. ’n Onafhanklike voorsitter moes die getuienis aanhoor en ’n bevinding maak.
  • Substantiewe billikheid: Genoegsame bewyse moet gelewer word dat die werknemer skuldig was aan wangedrag wat ernstig genoeg was om ontslag onder die spesifieke omstandighede te regverdig.

Wat om te verwag

Indien die werkgewer nie regverdige prosedures gevolg het nie, kan dit lei tot ’n KVBA-bevel teen die werkgewer vir die uitbetaling van tot 12 maande se salaris aan die werknemer. Indien bevind word dat die betrokke ontslag substantief onbillik was, kan die KVBA gelas dat die werknemer heraangestel of weer in diens geneem word, of, waar terugkeer na die werk onmoontlik is, vergoeding aan die werknemer toegestaan word.

KVBA-prosesse kan intimiderend wees en kundige advies is raadsaam. ’n Werkgewer kan deur enige werknemer of direkteur van die besigheid, of deur ’n ampsdraer/beampte van ’n werkgewersorganisasie wat by die Departement van Indiensneming en Arbeid geregistreer is, verteenwoordig word.

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan Anneline Scriven by anneline@lwo.co.za of info@lwo.co.za, of besoek www.lwo.co.za. – Anneline Scriven, senior regsadviseur, LWO-werkgewersorganisasie

Must Read

Government and ARC gives update on FMD vaccine numbers

Estimated reading time: 3 minutes The Agricultural Research Council (ARC) confirmed on 1 April that it has released another 20 000 doses of locally produced foot-and-mouth...

Meet the new NAMC board