Monday, March 10, 2025
HomeMagazinesKruipvoeding lei tot winsgewende skaapboerdery

Kruipvoeding lei tot winsgewende skaapboerdery

-

In die moderne landbougemeenskap is baie tegnologie en wetenskap beskikbaar vir veeprodusente om maksimaal te produseer, goeie genetika is beskikbaar teen ’n bekostigbare prys, infrastruktuur soos lamhokke word opgerig om maksimum wins te kry, bestuursprogramme word noukeurig uitgewerk om soveel moontlik lammers in die mark te kry, en kunsmatige inseminasie en laparoskopie is niks nuuts nie. Maar word die jong dier se genetiese potensiaal optimaal ontsluit?

Dr Jasper Coetzee, ’n bekende naam onder skaapprodusente, het by geleentheid gesê: “Kruipvoeding is ononderhandelbaar en ’n móét vir winsgewende skaapboerdery. Weens die uiters doeltreffende voeromsetting van ’n jong lam moet alles moontlik gedoen word om te verseker dat die lam volgens sy maksimum genetiese groeipotensiaal groei.”

’n Goeie belegging

Sommige produsente skram weg van die idee van kruipvoeding omdat die oprigting van kruipvoerkrippe, ekstra rantsoene wat aangekoop moet word, ekstra versorging en so meer ekstra kostes veroorsaak. Raché Stofberg, ’n voedingkundige by Wesfed Voere in Moorreesburg, glo egter die korrekte en strategiese gebruik van kruipvoer as aanvulling kan groot finansiële voordele vir ’n veeplaas inhou.

“Dit is nie net voordelig vir die lam en sy toekomstige prestasie nie, maar help ook om die ooi se laktasiedruk te verlig en dus kan die ooi ook vinniger herstel.”

Sy verduidelik dat lammers juis teen hul maksimale genetiese potensiaal groei in tye wanneer ooie op hul piekmelkproduksie is. Nadat dié piektyd bereik is, begin die ooie se melkproduksie drasties afneem, terwyl die lammers se voedingsbehoeftes toenemend groei.

Raché sê ondervinding het haar geleer dat dit baie belangrik is om hierdie voedingsbehoeftes van lammers met kruipvoer aan te vul om die groeitempo vol te hou. Navorsing het bewys dat die voordele wat goeie kruipvoer vir die ontwikkeling van jong diere inhou, die negatiewe persepsies oorskadu.

Voordele vir skaapboerdery

Die voordele wat kruipvoeding vir ’n veeplaas kan inhou is legio en dit kan alles teruggeneem word na die produsent se beursie.

Raché noem die volgende voordele van kruipvoeding:

  • Lammers wat kruipvoer ontvang, sal ’n groter gewigstoename hê en kan ook op so vroeg as 60 dae, in plaas van die gewone 90 dae, gespeen word.
  • Wanneer die lammers vroeg gespeen word, kan die ooi vinniger herstel en die voedingstowwe vir reproduktiewe funksies gebruik. Op dié manier kan die volgende teelseisoen vroeër begin. ’n Verhoogde liggaamskondisietelling van ooie sal ook ’n beter konsepsietempo verseker, wat tot ’n hoër lampersentasie in die volgende lamseisoen sal lei.
  • Kruipvoeding verlaag die stres wat met speen gepaardgaan omdat die lammers reeds aangepas is en gewoond is aan ’n droë dieet.
  • Lammers wat kruipvoer ontvang, is klaar vir die voerkraal aangepas. Dit verhoog dus die winste omdat swaarder speenlammers vir ’n korter tyd in die voerkraal afgerond word.
  • Kruipvoeding help ook om die herkouerstatus so vinnig as moontlik te ontwikkel, want die rumen van ’n jong lam is nog nie ten volle ontwikkel nie.
  • Minder druk word op weiding geplaas omdat beide ooie en lammers minder vreet.
  • Dit is meer kostedoeltreffend om die lam direk te voer as om die ooi vir melkproduksie te voer.

Selfmeng teenoor aankoop

Raché sê kenners is dit egter eens dat ’n mens jou nie teen die rantsoenkoste moet blind staar wanneer jy ’n kosteberekening ten opsigte van kruipvoer doen nie. “Daar is maniere om self jou kruipvoer te meng en as jy van die materiale self produseer, is die koste nog laer.”

In ’n tegniese artikel deur dr Jasper Coetzee word van die faktore wat in ag geneem moet word, uitgewys. Die eerste is dat ’n lam ’n baie beperkte vermoë het om die voedingswaarde van ruvoere en weidings te onderskei, wat beteken dat ’n mens versigtig moet wees watter ruvoer jy by jou kruipvoer insluit. Verder moet die tekstuur van die kruipvoer reg wees om vinnige en volledige ontwikkeling van die rumen te verseker.

Volgens Raché moet die kruipvoerrantsoen fyngemaal wees vir baie jong lammers en soos die lammers ouer word, kan hulle growwer mengsels gevoer word. Sy beklemtoon dat dit belangrik is om die rantsoen nie te fyn te maal nie en dat dit ook nie stowwerig moet raak nie, anders lei dit tot laer innames.

Dr Coetzee beklemtoon in sy artikel dat kruipvoer van ’n baie hoë gehalte moet wees en veral ’n hoë persentasie deurvloeiproteïene met die regte aminosuurprofiel moet bevat.

Raché sê kruipvoer kan saamgestel word uit roumateriale wat op die plaas geproduseer word, of andersins kan klaar geformuleerde kruipvoerpille by ’n veevoervervaardiger aangekoop word.

Sy verduidelik dat dit goedkoper is om jou eie kruipvoermengsel tuis te meng, maar die gebruik van kruipvoerpille hou egter baie voordele in wat in ag geneem moet word. “Kruipvoerpille is reeds gebalanseerd geformuleer om aan al die voedingsbehoeftes van ’n sogende lam te voldoen. Die innames op kruipvoerpille is ook hoër en verseker vinniger groei. Tuismengrantsoene is soms baie stowwerig, wat aanleiding gee tot swak innames en probleme met lammers se longe en oë.”

Heelwat boere maak gate in ’n PVC-pyp wat net groot genoeg is vir ’n lam se kop om deur te kom, maar te klein vir die ooie is. (Foto: Izak Hofmeyr)

Inhoud van kruipvoer

Volgens Raché is ’n tipiese kruipvoerrantsoen baie hoog in energie (ongeveer 50 tot 60% grane), dit bevat hoë gehalte deurvloeiproteïene wat uit sowat 20% oliekoekmeel bestaan, asook ’n volledige reeks hoë gehalte vitamien- en mineraalvoormengsel vir optimale resultate.

“Hoë gehalte, blaarryke lusern kan ingesluit word teen 10% van die totale mengsel. Dit is belangrik dat ’n ionofoor ingesluit word om koksidiose te help beheer. Om nierstene te voorkom, is dit ook belangrik om ammoniumchloried in te sluit.”

Stadium vir kruipvoer

Die normale aanbeveling is dat kruipvoer vanaf tien tot 14 dae nadat die eerste ooi gelam het, aan die lammers voorsien word. Raché sê egter navorsing het getoon dat lammers so vroeg as sewe tot tien dae na geboorte kruipvoer kan ontvang.

“Die eerste paar dae sal hulle net peusel en van die derde week af opsigtelike innames begin toon. Hoewel die kruipvoer-innames aanvanklik laag is, is dit belangrik om dit vars te hou en gereeld te voer,” verduidelik sy.

Sy beveel aan dat indien kruipvoer eers vanaf die ouderdom van 30 dae gevoer word, die produsent met 200g per dag kan begin en dit geleidelik oor sewe dae na 600g per dag kan verhoog.

“Ons het gevind dat lammers wat reeds vanaf die ouderdom van sewe dae aan kruipvoer blootgestel word nie nodig het om aangepas te word nie. Boonop kan lammers reeds op agt tot twaalf weke gespeen word indien die innames konstant bo 650g per dag is.

“Innames sal egter varieer na gelang van die hoeveelheid weiding, die ras, kondisie van die ooi en die aantal lammers per ooi. Oor die algemeen kan ’n mens aanvaar dat die lam aanvanklik aan sowat 20g kruipvoer sal peusel, maar later kan dit toeneem tot sowat 650g per dag. Die totale kruipvoerinname kan tussen 25 en 30kg per lam wissel, afhangende van die ras en speengewig van die lammers.”

Aanbring van kruipvoerkrippe

Raché gee die volgende wenke vir die aanbring van kruipvoerkrippe:

  • Maak seker die kruiphokmates is geskik vir die spesifieke ras waarmee jy boer, asook vir die speengewig van die lammers.
  • Die kruiparea moet genoeg voer en skoon water bevat, en daar moet ’n droë, skoon bedding rondom die krip wees.
  • ’n Kruipoppervlak van 0,16m² per lam is voldoende.
  • Die openinge waardeur die lammers moet kruip, moet tussen 20 en 25cm wees, afhangende of die lammers op 25 of 30kg gespeen word.
  • Die voorgestelde kripspasie is sowat 5cm per lam.

Vir meer inligting, skakel Raché Stofberg by 072 662 2829. 

Must Read

Die bestuur van somatiese seltelling in melkbeeste (Deel 1)

Estimated reading time: 5 minutes Hoë somatiese seltelling (SST) in melkkoeie is ’n simptoom van ’n onderliggende probleem. Somatiese seltelling is ’n aanduider van uiergesondheid. Die uitdaging...