Estimated reading time: 6 minutes
In hierdie tweede artikel oor veeproduksiestelsels in Suid-Afrika, kyk ons na spesifieke aspekte wat oorweeg moet word wanneer kleinveeproduksiestelsels teen mekaar opgeweeg word. Kleinvee word hoofsaaklik vir die produksie van vleis en vesel aangehou, met die oorgrote meerderheid van kleinveegetalle wat uit skape bestaan.
Skape kom wyd verspreid oor Suid-Afrika voor, met die grootste persentasie van die nasionale kudde wat in die Oos-Kaap, Noord-Kaap en Vrystaat aangetref word, terwyl die grootste persentasie van die land se bokkuddes in die Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal voorkom.
Algemene kleinveestelsels
In speenlamproduksiestelsels bemark produsente hul lammers in speentyd aan voerkrale. Met die afrondingstydperk wat korter is, is dit meer algemeen dat skaapprodusente self op die plaas hul lammers markgereed kry, as in die geval van beeste.
Wol- en dubbeldoelskape het die voordeel dat nie net met die verkoop van aanwas inkomste verdien word nie – die verkoop van wol help ook om verligting vir die vertakking se kontantvloei te bied. Die wolopbrengs, mikron, en prys van die wol gaan natuurlik ’n invloed hê op hoeveel wins gemaak kan word.
Boer met hamels
Hamelboerdery is nog ’n algemene praktyk waar speenlammers ingekoop, sowat drie maal geskeer en uiteindelik geslag word. In die proses voorsien die hamels inkomste met hul wol en is daar ook ’n toename in waarde vanweë die toename in gewig. Dit is belangrik om in ag te neem dat die lammers nie geslag word nadat hulle begin wissel het nie, wat ’n laer karkasprys sal beteken.
Die voordeel van hamelboerdery is dat geen jong lammers spesiaal opgepas hoef te word nie en geen ooie dragtig gekry moet word nie. Omdat die diere al ouer is en slegs moet groei, word hulle gewoonlik gebruik om bergagtige areas te benut. Die insette wat vir die lammers vereis word, is ook laer as in die geval van produserende ooie.
Bokboerdery
Bokke het die voordeel dat hulle ook blare en bosse kan benut, wat skape nie kan doen nie. Hulle kan dus goed aanpas in gebiede waar baie bome en bosse voorkom. Dit beteken dat ekstra drakrag só tot die plaas bygevoeg kan word. ’n Bokvertakking kan dus oorweeg word om, parallel met ’n skaap- of beesvertakking, meer van die beskikbare hulpbronne te benut.
Bokboerderye is ook meer gewild in die droër dele van die land.
Intensiewe stelsels
Oor die laaste paar jaar het intensiewe stelsels meer gewild onder skaapprodusente geraak. Dit bied die voordeel dat ’n groter persentasie van die lammers wat gebore word oorleef, omdat hulle die eerste paar dae ná geboorte in lamhokkies gehou word.
In dié stelsels word gebruik gemaak van laparoskopiese inseminasie, waarvoor diere gesinkroniseer word en daarna in hokkies lam. Speenpersentasies van ver bo 100% word by sommige produsente aangeteken.
Omdat die ooie laparoskopies geïnsemineer word, kan genetiese vordering in die kudde versnel word deur een of twee goeie ramme te koop, eerder as ’n klomp ‘goedkoper ramme’. Met dié stelsels kan meer lammers op dieselfde plaas gespeen word.
Intensiewe stelsels is wel baie arbeidsintensief en vereis meer kapitaal (voer, infrastruktuur, ens.) as ekstensiewe stelsels.
Die bestuur van so ’n stelsel het ’n groot invloed op die sukses daarvan en uiteraard ook die winsgewendheid van die boerdery. Die doeltreffende bestuur daarvan sal dus bepaal of dit finansieel gaan sin maak om die ekstra koste aan te gaan met die hoop om produksie te verhoog.
Hoe vergelyk die somme?
Die aannames in Tabel 1 is gebruik om ’n vergelyking te tref tussen wol-, dubbeldoel- en vleisskaaprasse. Die finansiële resultate word in Tabel 2 aangedui. Dieselfde vleis- en wolpryse is by al drie scenario’s gebruik, terwyl die hoeveelheid wol wat geskeer word en die gewig van die diere tussen rasse verskil.
Om die getal ooie wat gehuisves kan word te bereken, is gewerk op die Meissner-tabelle en kan gesien word hoe die getal ooie deur die gewig van die diere beïnvloed word. Waar van toepassing, is inkomste verdien uit die verkoop van speenlammers, uitskotooie en wol. Wat koste betref is slegs vir basiese winter- en somerlekke voorsiening gemaak, asook vir algemene entstof en parasietbeheer.
Volgens die aannames wat gebruik is, is die grootste inkomste gemeet per produserende ooi by ’n dubbeldoelras, waar die speenpersentasie dieselfde gehou word tussen die drie rasse.
Hoewel wolskape nie die grootse inkomste op ’n ‘per ooi’-vlak behaal nie, beteken die groter getal ooie wat aangehou kan word, dat die grootse totale inkomste vir die plaas uit dié ras verkry word. Selfs met aftrekkings vir lekke en medikasie bygereken, presteer dié tipe skape beter met die aannames wat gemaak is.
Om ’n akkurate winsmarge uit te werk, sal bykomende, relevante koste egter ook in berekening gebring moet word volgens elke produsent se unieke omstandighede.
Hoe lyk die mark?
Skaapvleis word as ’n luukse produk beskou, met die vraag daarna wat deur die hoërinkomstehuishoudings in die land bepaal word. Dit blyk dat die uitvoer van lewende skape in die toekoms sal mag voortduur en daar was al sprake dat meer skape deur dié kanale kan beweeg.
Dit sal die skaapvleismark help om nie uitsluitlik van plaaslike verbruik afhanklik te wees nie. Dit gaan waarskynlik ook help om skaappryse te ondersteun.
Let op die risiko’s
Net soos nie almal dit regkry om suksesvol op die aandelemark te presteer nie, gaan nie almal wat met skape boer ewe goed presteer nie. Dit is baie belangrik dat soveel as moontlik inligting oor die verskillende stelsels en risiko’s van elk ingewin word, voordat op ’n stelsel besluit word.
Skape het die vermoë om veel beter as beeste te presteer, indien die verliese beperk kan word. Ongeag watter ras of tipe skaap die meeste geld op papier maak, moet faktore soos die omgewing, plaasomstandighede en infrastruktuur steeds in ag geneem word.
Een van die grootste risiko’s by skaapboerderye is diefstal. Talle produsente het weens dié probleem hul skaapvertakkings verkoop en na beesboerdery oorgeskakel, bloot omdat die risiko van beesdiefstal kleiner is. Dan is daar ook roofdier- en gesondheidsrisiko’s, soos kriptosporidiose, wat grootskaalse verliese by jong lammers kan veroorsaak.
Uiteindelik bly dit egter elke produsent se keuse watter stelsel die beste by sy of haar omstandighede en bestuurstyl gaan inpas. Maak net seker dat alle aspekte goed oorweeg word, sodat ’n ingeligte besluit geneem kan word. – Dr WA Lombard, Departement Landbou-Ekonomie, Universiteit van die Vrystaat
Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr WA Lombard by lombardwa@ufs.ac.za.