Estimated reading time: 4 minutes
Hoewel kriptosporidiose niks met ’n kriptogeldeenheid te make het nie, kan dié dieresiekte veeprodusente baie geld uit die sak jaag. Volgens dr Minnaar Lyell, ’n veearts en konsultant by Elanco Animal Health, moet produsente waaksaam teen hierdie siekte wees.
“Cryptosporidium parvum,” sê hy, “is ’n mikroskopiese parasiet wat aanleiding gee tot die protosoïese siekte kriptosporidiose. Dit kom gewoonlik by jong of pasgebore kalwers en lammers voor, en veroorsaak akute diarree by kalwers so jonk as vyf tot 15 dae en lammers tussen vier en tien dae oud.
“Die organisme kom in die ingewande van 15 tot 20% ouer diere voor wat gewoonlik geen kliniese simptome toon nie. Ongelukkig is dieselfde diere ook die bron van diarree-uitbrekings onder kalwers en lammers.”
Die grootste gemene deler by kriptosporidiose
Cryptosporidium as sulks veroorsaak nie erge siektes of diarree nie, maar sodra ander organismes, soos rotavirus, koronavirus, E. coli of Salmonella, ook in die prentjie kom, kan dit diarree veroorsaak.
In sekere dele van die Karoo het heelwat produsente in die vorige lamseisoen tussen 30 en 85% van hul lammeroes verloor weens ’n kombinasie van Cryptosporidium en E. coli wat in die meeste van die gevalle gediagnoseer is. Dit is kommerwekkend dat hoë E. coli-vlakke in die Groot Visrivier aangeteken is en laat ’n groot vraagteken oor die gehalte van die water.
Die bron van besmetting
Volgens dr Lyell word gesonde jong diere gewoonlik besmet wanneer hulle in kontak met die mis van volwasse diere kom, of met kalwers of lammers wat reeds besmet is. Miljoene oösiete word in dieremis uitgeskei en besmet die omgewing op hierdie wyse. Die eiers word dan deur jong vee ingeneem en beland in hul dermkanale, waar dit vermenigvuldig.
So infiltreer kriptosporidiose die ingewande en vernietig die absorberende laag selle van die dermkanaal. Dit lei daartoe dat die ingewande nie voedsel kan verteer of absorbeer nie. Gewoonlik word die eerste tekens van diarree waargeneem tussen twee tot vyf dae ná aanvang van besmetting.
Kalwers en lammers met ’n onderdrukte immuniteit is meer vatbaar vir besmetting as gesonde, sterk diere. Immuunonderdrukking kan plaasvind as kalwers of lammers nie genoeg teenliggaampies in die biesmelk ingekry het nie, of geen biesmelk ontvang het nie.
By intensiewe stelsels waar die ooie nie genoeg ruskans kry tussen lamseisoene nie, is die gevaar vir bemetting selfs groter, omdat hulle in ’n swakker liggaamskondisie lam en dit die gehalte van hul biesmelk beïnvloed. Dieselfde geld by beeste, veral in die melkbedryf, waar diere soms ’n negatiewe energiebalans ervaar en nie biesmelk met hoë immunoglobulienvlakke produseer nie.
Tekens van kriptosporidiose om voor uit te kyk
Een van die eerste tekens waarna opgelet moet word, is ’n depressiewe en/of anoreksiese dier, asook geel of vaal misuitskeiding wat waterig is en slym bevat. Gewigsverlies vind vinnig plaas, en kan daartoe lei dat die liggaam uitteer. Volgens dr Lyell is dehidrasie weens diarree een van die grootste oorsake van vrektes onder dié lammers en kalwers.
By die eerste tekens van kriptosporidiose is die belangrikste stap om gesonde diere so gou as moontlik uit die omgewing en weg van die siek diere te neem, waarna die siek diere geïsoleer moet word. Biosekuriteit is hier uiters belangrik.
Dit is raadsaam om werkers aan te stel wat uitsluitlik met die siek diere werk. Hul oorpakke, waterstewels en hande moet ontsmet word voordat hulle die siekhokke verlaat, asook alle gebruikte toerusting.
Onverwylde behandeling
Die siek diere moet onder geen omstandighede ontwater nie en moet genoeg vloeistof inkry. Dit kan per maagbuis gegee word of met ’n binne-aarse drup onder die vel. Siek diere moet steeds melk kry sodat hulle die nodige minerale en vitamiene kan inneem.
“Afhangende van die vlak van dehidrasie en die dier se gewig, moet tussen 5 en 10% van hul liggaamsgewig in vloeistof per dag ingeneem word. Verdeel dit in drie tot vier behandelings per dag om te verseker dat die dier die volume vloeistof kan hanteer. Elektroliete moet aangevul word by diarreegevalle.”
Daar is in hierdie stadium min produkte en metodes wat Cryptosporidium kan doodmaak. Daarom is goeie higiëne en biosekuriteit in werklikheid die enigste manier om kriptosporidiose te beheer. Kalwers en lammers se voer- en drinkbakke moet daagliks skoongemaak en ontsmet word om die verspreiding van siekte tussen diere te beperk.
Hoewel behandeling vir kriptosporidiose beskikbaar is, kan dit slegs by ’n veearts verkry word wanneer die plaas positief gediagnoseer word. Dr Lyell voeg by dat antibiotika gewoonlik aanbeveel sal word om sekondêre besmetting van E. coli en Salmonella te beveg.
“Skaap- en beesprodusente kan baie wen deur voorkomend met hul veeartse oor parasiete soos Cryptosporidium parvum te gesels – onthou, voorkoming is altyd beter as genesing,” sluit hy af. – Carin Venter, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Minnaar Lyell
by 082 578 9419 of minnaar.lyell@gmail.com.

