Estimated reading time: 4 minutes

Te midde van stygende misdaadsyfers en die vlaag van gesinsmoorde in Suid-Afrika, word die uitwerking van hierdie tipe misdaad al hoe meer onder die loep geneem. Dit is omdat die veroordeelde moontlik van sy/haar slagoffer kan erf of finansieel baat vind, byvoorbeeld met betrekking tot pensioenbelange, versekeringspolisse, aansprake volgens die huweliksgoederereg, of voordele uit ’n trust.

’n Positiewe beleggingshorison

Hiervan is die Griekwastad-moorde, waar die Steenkamp-gesin deur die seun vermoor is, seker die bekendste voorbeeld.

Daar bestaan egter ’n regsbeginsel – de bloedige handt neemt geen erfenis – wat bepaal dat geen persoon wat die dood van ’n ander – hetsy opsetlik of nalatig – veroorsaak het, van daardie persoon mag erf nie.

Wie nié mag erf nie

Hierdie beginsel het sy oorsprong in die Romeinse en Romeins-Hollandse regstelsel. In die Romeinse reg was daar ’n paar kategorieë van persone wat nie kon erf nie – onder andere die persoon wat ’n ander se dood veroorsaak het. In ander gevalle, soos versuim en verwaarlosing, het daar genoeg rede bestaan om ’n persoon onwaardig van erwing te verklaar, hoewel dit nie meer toegepas word nie.

Die blootstelling van ’n ongetroude dame aan ongeoorloofde genietinge soos alkohol en dobbel, kon jou destyds diskwalifiseer om te erf, asook owerspel indien ’n kind uit die verhouding gebore is. Antonius Matthaeus, wat as ’n gesaghebbende kenner van die ‘bloedige hand’-beginsel beskou word, het verder aangedui dat nalatigheid en doodsveroorsaking ook grondige redes is om nie te mag erf nie.

Nalatige omstandighede

Omdat die Suid-Afrikaanse regstelsel op die Romeinse en Romeins-Hollandse reg geskoei is, word die ‘bloedige hand’-beginsel in Suid-Afrika toegepas, en is dit vanselfsprekend dat opsetlike doodsveroorsaking tot gevolg het dat die skuldige nie by sy/haar slagoffer kan erf nie. Wat egter onduidelik is, is of die nalatige doodsveroorsaker by sy/haar slagoffer kan erf.

Die howe is geneig om, waar nalatigheid betrokke was, baie op die moreel afkeuringswaardige aard van die situasie te steun, en om openbare beleid of die gemeenskapsopvatting as maatstaf te gebruik.

Sekere skrywers is van mening dat kriminele skuldigbevinding ’n vereiste is. In Caldwell vs. Erasmus en ’n Ander 1952 (4) SA 43 (T) het die regter in sy uitspraak na ’n Engelse saak verwys waarby strafbare manslag betrokke was – in die saak van Hall vs. Knight en Baxter CA 1914 is die skuldvereiste nalatigheid bewys en gevolglik kon die persoon nie erf nie.

Die bloedige hand-beginsel hou verder voor dat ’n persoon wat die dood van ’n ander veroorsaak, ook nie van die slagoffer se naasbestaandes kan erf nie.

In die saak Ex parte Steenkamp en Steenkamp 1952 (1) SA 744 (T), het ’n man sy skoonouers vermoor. Sy vrou was egter reeds swanger voor die moord van haar ouers, en die ongebore kind het geërf. Die kind is egter ’n paar maande later oorlede, en sonder testament erf die vader (die moordenaar) toe uit sy oorlede kind se boedel. Die hof het hom bevoeg verklaar om te erf, aangesien daar geen kousale verband tussen die moord op sy skoonouers en sy kind se dood was nie.

Maak voorsiening in jou testament

Soos reeds genoem, is die howe onseker of ’n persoon in die geval van nalatige doodsveroorsaking, byvoorbeeld ’n motorongeluk wat deur die nalatigheid van ’n erfgenaam veroorsaak is, uit die oorledene se boedel kan erf.

Dit sal ’n goeie idee wees om in jou testament te noem dat ’n erfgenaam in die geval van nalatige omstandighede wel kan erf. Dit behoort ’n uitgerekte hofsaak te voorkom en die afhandeling van jou boedel te bespoedig. Maak seker jou testament word deur ’n kundige, wat verkieslik ’n lid van die Fidusiêre Instituut van Suider-Afrika is, opgestel.

Wees ook maar versigtig as jy na afloop van ’n funksie besluit om self die stange te neem, indien jy ’n drankie of twee gehad het, want die pad plaas toe is lank en kronkelrig!

Die inligting in hierdie artikel is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy ’n gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Edms) Bpk is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer. – Rynoe Smith, PSG Wealth-adviseur

Vir meer inligting of bronverwysings, kontak Rynoe Smith van PSG Wealth Bloemfontein Preller Walk by rynoe.smith@psg.co.za of 082 453 3320.