Estimated reading time: 5 minutes
Overberg Agri het onlangs sy jaarlikse voor-plant inligtingsdag by Rietpoel naby Caledon in die Suid-Kaap gehou. Meer as 200 boere het na verskeie kenners kom luister om die jongste inligting oor die weerpatrone, koring-, hawer-, gars- en kanolakultivars, koringsiektes, en die toediening en bestuur van swamdoders en plantvoeding, te kry.
“Die winsgewendheid van graan is tans onder druk. Die inligting wat boere vandag gekry het, sal hulle help om voor planttyd die beste besluite te neem,” het Johan Lusse, algemene bestuurder: Graan en graandienste van Overberg Agri, gesê.

Onsekerheid oor bakteriese siektes
Prof Zakkie Pretorius, navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat, het daarop gewys dat die wydverspreide voorkoms van bakteriese mosaïek – ’n blaarsiekte by koring – in 2024 in die Wes-Kaap, beteken die siekte moes reeds lank voor 2024 in die gebied voorgekom het. Volgens prof Pretorius is daar tans geen chemiese middel wat in die groeistadium teen bakteriese mosaïek gespuit kan word nie. “Ek weet nie of koper sal werk nie. Koper word wel teen ander bakteriese siektes toegedien, maar die bakterieë is binne die plant en jy het ’n sistemiese produk nodig.”
Hy het gesê die verkeerde diagnose van bakteriese siektes op koring as swamsiektes en die gepaardgaande swambespuitings wat onnodige koste meebring, moet voorkom word. “Dit is nog nie duidelik watter navorsing oor bakteriese siektes gedoen moet word, wie dit moet doen en wie dit moet befonds nie”, het Pretorius gesê.

Kanola: Planttyd bepaal sukses
Piet Lombard, landboutegnikus by die Wes-Kaapse Departement van Landbou, het daarop gewys dat die plantdatum en plantdiepte ’n groot invloed op kanola se opbrengs, en dus winsgewendheid het. “Plant so naby as moontlik aan voldoende reën of vog, en plant 25 tot 30mm diep as die omgewings- en grondtemperatuur nog hoog is,” was sy raad aan boere. Kanola kan met relatief min vog ontkiem, maar ontwikkel dan stadig en onegalig. In die Swartland en ook die Suid-Kaap, kan 20 tot 25mm as betekenisvol gesien word. In die oostelike dele van die Suid-Kaap waar vog uit die somer voorkom, kan kanola met minder reën gevestig word, het Lombard gesê.

Rekord kanola-oes in 2025 wag
Volgens Zander Spammer, landbouhulpbronnebestuurder by Southern Oil (SOILL), is die kanolabedryf tans op ’n baie goeie plek. Kultivarproewe wys dat opbrengste van meer as 3 ton/ha moontlik is, terwyl die gemiddelde kommersiële opbrengste tans net meer as 2 ton/ha is. “Daar is dus nog ’n ton per hektaar op die tafel wat nog nie met kommersiële produksie behaal word nie.”
Volgens hom was die residu-vlakke in kanolasaad verlede jaar op lae vlakke, wat daarop dui dat boere al hoe meer noukeurig en volhoubaar chemie toepas. Die vooruitsigte is dat boere vanjaar 154 000ha se kanola sal plant. Dit is 10 000ha meer as verlede jaar, en daar kan ’n oes van meer as 300 000 ton in 2025 verwag word, het Spammer gesê.

Benader huurwaarde volhoubaar
Ruben Badenhorst, ’n landbou-adviseur van Overberg Agri, het gesê by die bepaling van die huurwaarde van landbougrond is die belangrikste dat die huurwaardes volhoubaar benader moet word. Die huurder en die verhuurder moet saam besluit wat haalbaar is om winsgewendheid en volhoubaarheid te verseker.
Die verhuurder wil graag die hoogste moontlike huur ontvang, maar die beskerming van die grond as bate is belangrik. Volhoubare wisselbou is byvoorbeeld nie altyd die wingsgewendste praktyk nie.
“Huurwaardes moet dus realisties en haalbaar wees, en eskalasie van die huur moet nie teen ’n hoër tempo as graanpryse en opbrengste groei nie. Die beste sal wees om die eskalasie van die kontrak elke jaar te hersien”, het Badenhorst gesê.

Geen resep vir bemesting in nat jare
Dr Izané Crous, Omnia se landboukundige in die Swartland, het gesê daar is nie ’n resep vir die toediening van plantvoeding in nat jare nie. “In nat jare moet jy jou bemesting aanpas by die maksimum aanvraagstadium van die plant. Dit is wanneer die plant die meeste stikstof uit die grond opneem.
“By kanola lê 60 tot 70% van die totale stikstofaanvraag in die tydperk van die vierblaarstadium tot net voor knopvorming. In hierdie periode moet die stikstof in die regte vorm beskikbaar wees.” Sy het ook boere gemaan om nie hul geld op kalium te mors as hul plante se voete in die water staan nie, omdat die plante nie die kalium kan opneem nie. – Hugo Lochner, Plaas Media
