Jagters wil al hoe meer ’n ervaring in die natuur hê eerder as om net ’n bok of twee te skiet. Dit raak ’n vakansie waarop die gesin dikwels saamgaan om weg te kom van die gejaag van hul daaglikse lewe en in gerief na ’n ervaring gaan soek om weer krag en energie uit die natuur te put.

Wildboere kan self kies of hulle deel wil wees van ’n vertakking van die bedryf van jagters wat op skoon-geharkte plekke onder ’n groot boom wil kamp of deel wil wees van die groeiende sektor waarby die ander skakels van die wildwaardeketting, soos ekotoerisme en vleisproduksie en -verwerking, maklik en geslaagd ingeskakel kan word.

Met goeie beplanning en verbeeldingryke afronding kan die geriewe vir die jagseisoen, wat op oop plase ’n skamele drie tot vier maande duur, omskep word in ’n gesogte bestemming vir die hele jaar. Dit sal nie net die inkomste van die plaas aanvul nie, maar bykomende geleenthede vir gesinslede of personeel skep wat hul meewerking aan die onderneming se welslae bevredigend sal maak.

’n Unieke ervaring

Proff Peet van der Merwe en Elmarie Slabbert.

Proff Peet van der Merwe en Elmarie Slabbert van die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom het op Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se Expand your Game-konferensie naby Polokwane in Limpopo aan wildboere gesê dit is die ervaring, uniekheid en wow-faktor wat jagters en toeriste na jou plaas teruglok.

“Kyk in die eerste plek na die mark. Die ligging van jou plaas bepaal of jy jou moet toespits op naweek-besoekers of toeriste wat langer gaan bly. Vir ’n naweek-wegbreek wil mense nie langer as twee tot drie ure ry om hul bestemming te bereik nie. Die ligging sal nie besoekers wat langer wil bly afskrik nie, mits die boer iets aanbied wat hulle daarheen sal lok.

“Toegangsroetes is baie belangrik. As die plaas in die boendoes is, lig voornemende besoekers in sodat hulle nie die pad in hul duur Duitse motors aandurf en omgekrap en gefrustreerd op die plaas aankom nie. Mik dan liewer vir die viertrekmark. Rigtingwysers is van groot belang, want as ’n besoeker ver genoeg verdwaal, slaap hy sommer net daar waar hy kan plek kry en jy sien hom nie weer nie,” sê hulle.

Gerief is belangrik

In die Serengeti is die grond baie kleierig en dikwels nat. Die paadjies is met olifantmis uitgelê. Dit absorbeer die water, wat besoekers droogvoets kan laat loop.

Proff Van der Merwe en Slabbert is dit eens dat selfsorg nie primitief beteken nie. “Verskaf ordentlike en smaakvolle toebehore en mik hoofsaaklik vir twee- tot vierbed-eenhede. Gesinne het kleiner geword en vreemdes wil selde saam slaap. As daar ’n landingstrook is, probeer dit weg van die blyplek hou. Maak ’n kronkelpad deur die mooi dele van die plaas na die blyplek, want dié rit is die begin van die ervaring.”

Water, elektrisiteit (sonkrag sus die meeste mense se gewetens) en ’n mooi uitsig gee besoekers ’n groter geleentheid om die natuur te ervaar. Goeie beddens is noodsaaklik, want hulle kom om te ontspan en wil lekker slaap.

Laat die huisvesting met die natuur en kulturele omgewing saamsmelt, gebruik natuurlike boumateriaal op die plaas (dit is gewoonlik goedkoper), kleure wat by die omgewing pas en versier die omgewing met natuurlike plante. Vermy groot grasperke wat baie water nodig het. Probeer om die huisvesting so te rangskik dat daar privaatheid vir die besoekers is.

Interessante aktiwiteite

Proff Van der Merwe en Slabbert meen die aktiwiteite wat aangebied word, gaan dikwels nie oor wat dit is nie, maar eerder oor hoe dit gedoen word. “Kikker ’n wildrit op met ’n verversingsbreuk waartydens drinkgoed en versnaperings op ’n mooi gedekte tafel onder ’n groot koelteboom aangebied word. Dit is dan ’n goeie tyd om aan die besoekers te verduidelik wat op die plaas aangaan, asook hoekom en hoe met wat geboer word. Speel die klanke van voëls en diere, want dit is deel van die ervaring.”

Om die ervaring onvergeetlik te maak, hoef nie noodwendig duur insette te verg nie. Aangesien die besoekers die natuur wil ervaar, maak ’n groot deur wat wyd kan oopskuif, bring ’n buitestort aan en stel ’n toilet beskikbaar waar dié wat wil oor ’n wonderlike landskap kan uitstaar as die natuur roep. Indien die plaas aan ’n groot rivier grens, bou ’n drywende swembad in die rivier met ’n sterk staalnetwerk wat die gevare in die water uithou en skep so ’n onvergeetlike ondervinding om veilig tussen die krokodille te swem.

Dié foto wys die dak van ’n chalet in die Golden Gate Nasionale Park wat met gras beplant is om dit met die omgewing te laat saamsmelt.

’n Mens kan al die basiese dinge reg hê, maar as jy dit nie reg bemark nie, gaan niemand daarvan weet nie. Met die bemarking moet ’n mens daardie unieke eienskap bekendstel wat jou van ander wildplase onderskei en terselfdertyd die mark ontleed om die mense te bereik wat jy verwag jou produk sal gebruik.

Beweging in die mark

Proff Van der Merwe en Slabbert sê die beweging in die mark is grootliks weg van die tradisionele media af na die elektroniese media. Navorsing wys dat sowat 82% van al die besprekings vir akkommodasie deesdae met slimfone gedoen word.

“As gevolg van die ontwikkeling van die elektroniese media, is die algemene neiging van besoekers om langer te kuier omdat hulle met die Internet hul werk van hul vakansiebestemming af op datum kan hou. Besoekers moet dus weet of daar Internet beskikbaar is op die plaas. Net so speel die resensies op sosiale media van besoekers wat dié spesiale ondervinding gehad het, ’n groot rol om jou geriewe gratis te adverteer.

“Die samelewing beweeg meer terug na kos, en smaaklike, gesonde kos is ’n treffer. Mense wil deesdae graag nuwighede ervaar wat hulle as ’n prestasie met hul vriende kan deel. Dit kan kleinighede wees wat vir plaasmense alledaags, maar vir stedelinge iets besonders is. Mense is nie meer tevrede om uit hul motors na wild te kyk nie, hulle wil eerder tussen die diere kan beweeg,” verduidelik hulle.

Wonderlike herinneringe

Dries van Coller, voorsitter van die Beroepsjagtersvereniging van Suid-Afrika, het gesê jag wat net daarop gemik is om ’n trofee te kry, skiet ver tekort van die unieke ondervinding wat dit kán wees. “Die grootste uitdaging om jagters na Suid-Afrika te lok, is om die vraag na jaggeleenthede te laat toeneem, transformasie te bevorder, geleenthede te skep vir die jeug om te ontwikkel, die land ’n veilige bestemming vir besoekers te maak en die Departement van Toerisme betrokke te kry.

“Die beste ding van ’n jagervaring is dat ’n mens dit nie noodwendig nou hoef te doen om dit te geniet nie. Jy kan gaan slaap en dink oor die wonderlike ervarings wat jy 20 jaar gelede beleef het, en dan sal die beelde so helder soos maanlig terugkom.”

Vir meer inligting, skakel prof Peet van der Merwe by 082 926 9240 of stuur ’n epos aan 10219382@nwu.ac.za.

Brahman, Boer Goat, predasiebeheer
,hartwater, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom