Estimated reading time: 3 minutes
Suid-Afrika en veral wildboere het baie geld verloor weens die minister van bosbou, visserye en die omgewing, dr Dion George, se versuim om die jaarlikse jagkwotas vir olifante, luiperds, en swart renosters vir 2024 en 2025 uit te reik.
Die Gautengse hooggeregshof het die minister beveel om binne tien dae besonderhede te verskaf oor die voortgesette versuim om die kwotas uit te reik.
Traagheid krap bedryf om
Dit het nie net die wildbedryf boos gemaak nie, maar hou verdere komplikasies in wat wildbewaring kan strem. Daar is kommer dat boere veral luiperds onwettig van kant sal begin maak om vee- en wildverlies te beperk.
Richard York, uitvoerende hoof van Wildbedryf SA (WRSA), het die hofuitspraak verwelkom. Die geding is deur WRSA aanhangig gemaak. Die bedryf het sedert 2020 nog nie ’n bruikbare kwota gekry nie, wat hom gedwing het om hom tot die hof te wend.
Die jaarlikse kwotas is ’n wetlike verpligting ingevolge die Suid-Afrikaanse omgewingswetgewing en is ’n bindende vereiste ten opsigte van die land se verpligtinge teenoor die Konvensie vir Internasionale Handel in Bedreigde spesies (CITES).
Finansies klop nie
York het bygevoeg dat dié krisis nie net regsekerheid en Suid-Afrika se internasionale handelsgeloofwaardigheid ondermyn nie, maar ook wildboere en landelike gemeenskappe verlam wat wildbewaring op grondvlak dryf. Hulle word verplig om olifante teen laer pryse te laat jag terwyl die minister se pligsversuim hulle van hul wettige reg ontneem om trofeë te kan uitvoer teen die volle waarde daarvan. In die proses ly landelike gemeenskappe; rafel bewaringspogings uit; kom biodiversiteit in gedrang; en stort die volhoubare gebruiksekonomie in duie. Dit plaas ook provinsiale owerhede onder geweldige druk.
Afgesien van die jagpermit, bestee die jagter aansienlike bedrae aan ’n beroepsjagter, verblyf, toerusting, en dikwels ook toerisme vir hom en sy gesin. Die inkomste uit die jag gaan vir bewaringsaksies, om personeel te betaal, en infrastruktuur in stand te hou.
York sê 80 olifante het al in die Madikwe-wildtuin van die honger gevrek. Madikwe staan voor ’n ramp met meer as 1 600 olifante op ’n geraamde 65 000 hektaar. Die minister het niks daaraan gedoen nie. Veral luiperds word in die steek gelaat deurdat die beleid lamgelê word. Boere staar toenemende mens-dier-konflik in die gesig. Wat swart renosters betref, rig die minister se nalatigheid waarskynlik meer skade as stropers aan, meen York.
Veeboere lei ook skade
Douw Pelser, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie in Limpopo (RPO Limpopo), sê luiperds wat vir jag bestem was vang nie net wild wat gejag kan word nie, maar ook vee. Hy het die afgelope paar jaar talle kalwers verloor wat deur luiperds gevang is. Hy het in 2018 een van die laaste twee luiperds wat wettig gejag is, op sy plaas laat jag.
Indien wildboere nie in staat gestel word om die diere wettig te laat jag nie, bestaan die moontlikheid dat van die diere onwettig van kant gemaak sal word om die skade wat hulle aanrig te beperk. – Andries Gouws, Plaas Media

