Estimated reading time: 6 minutes
- Melkerye is hoë-koste bedrywe wat daagliks intensiewe aandag en baie emosionele energie verg.
- Suksesvolle melkproduksie verg deurlopend die regte bestuursaksies.
- Daar is direkte en indirekte koste verbonde aan ’n hoër ouderdom by vervangingsverse met eerste kalf.
- Die gemiddelde dae in melk (DIM) moet gereeld beraam word vir al die koeie in melk.
- Melkprodusente behoort deurgaans te weet wat die proporsionele verdeling van die produksiekoste vir melk is.
Melkerye is hoë-koste bedrywe wat daagliks intensiewe aandag en baie emosionele energie verg. Goeie winsmarges is oor die kort- en langtermyn moontlik, indien die onderneming reg bedryf word. Soms lei onverwagse veranderinge soos droogtes, melkprysverlagings of siekte-uitbrekings tot vinnige agteruitgang in die finansiële situasie van ’n melkery. Dink maar aan onlangse bek-en-klouseer uitbrekings.
Tog is die verwagting dat ’n besigheid met ’n goeie inkomste finansieel volhoubaar behoort te wees. Indien dit dan nie die geval is nie, is dit eenvoudig omdat die melkery-inkomste minder as die produksiekoste was. Daar is verskillende redes hiervoor. Soms is daar te veel ander (indirekte) koste wat deur die melkinkomste betaal moet word.
Is jou bestuursaksies reg?
Min word geskryf oor die rede(s) waarom melkkuddes misluk en daar is min post mortems oor so ’n gestorwe besigheid. Dit is wel algemeen bekend dat finansiële verliese voorkom indien sekere bestuursnorme nie gehandhaaf word nie.
Suksesvolle melkproduksie verg deurlopend die regte bestuursaksies. Daar is baie wetenskaplike navorsing en nuwe bevindinge hieroor. Dié inligting kan gebruik word om te bepaal of bestuursaksies reg uitgevoer word. Ongelukkig word verkeerde afleidings dikwels op bestuursvlak gemaak.
Neem byvoorbeeld hoë melkproduksiepeil. Hoewel dit winsgewendheid beïnvloed, bepaal dit nie finansiële sukses nie. Weens laer voerkoste kan ’n laer-produserende kudde soos melkkoeie op weiding, meer winsgewend wees as een met ’n heelwat hoër melkproduksiepeil op ’n volvoerstelsel. Direkte koste geld om ’n hoë melkproduksie te handhaaf en dit behoort nie as ’n uitgangspunt van sukses gebruik te word nie.
Ouderdom met eerste kalf
Daar is direkte en indirekte koste verbonde aan ’n hoër ouderdom by vervangingsverse met eerste kalf. Die direkte daaglikse grootmaakkoste van verse word daarom op twee maniere verhoog, naamlik ’n langer voertydperk en meer verse in die kudde. ’n Indirekte koste is dat koeie eers op ’n latere ouderdom ’n positiewe winsmarge bereik. Plaaslike navorsing het ook getoon dat verse wat later kalf, ook ’n korter leeftyd en laer leeftydsdoeltreffendheid (leeftydsproduksie gedeel deur produktiewe leeftyd) het.
Verse hoef nie later as ouderdom 24 maande te kalf nie. Dit is egter verkeerd om verse eers vanaf ouderdom 15 maande in ’n dekgroep op te neem. Hulle moet reeds vanaf ouderdom 12 tot 13 maande in ’n dekgroep geplaas word vir ’n jong kalfouderdom. Selfs verse wat op daardie ouderdom minder weeg as hul ideale liggaamsmassa, kan gedek word. Die oogmerk is om hulle so vroeg as moontlik in produksie te kry.
Dit word dikwels aanbeveel dat verse vir langer gevoer moet word om ’n optimale liggaamsmassa te bereik. Die verhoging in melkproduksie gedurende eerste laktasie vergoed egter nie vir dié ekstra voerkoste nie. Teen die derde laktasie is verskille in melkproduksie in elk geval uitgeskakel.
Gemiddelde dae in melk
Die gemiddelde dae in melk (DIM) moet gereeld beraam word vir al die koeie in melk. Hierdie syfer vergroot wanneer koeie minder gereeld kalf en vir langer (meer dae) tydens hul laktasies gemelk word. ’n Hoër DIM-syfer beteken daarom dat meer melkkoeie in laatlaktasie is en die daaglikse kuddemelkproduksie laer is.
Vir ’n spesifieke melkkudde is gevind dat die gemiddelde melkproduksie van 21,8 tot 20,1kg/koei/dag afneem met ’n toename in die DIM van 150 tot 165 dae. ’n Hoër DIM-syfer vir die kudde het daarom ’n direkte verlies aan melkinkomste. Wanneer die syfer hoog is, kan koeie baie laat in laktasie opgedroog word. Die syfer neem weer af wanneer koeie meer gereeld kalf. Dié probleem ontstaan wanneer koeie nie betyds beset raak nie en is eintlik ’n reproduksieprobleem.
Om dié syfer laag te hou, is deurlopende goeie reproduksiebestuur nodig. ’n Belangrike onderbou hiervan is gereelde dragtigheidstoetse en die beraming van bepaalde waarnemings, waaronder dat bestuurders ná elke toets moet weet hoeveel koeie in die kudde wat veronderstel is om beset te wees, wel dragtig is. Gewoonlik word die koeie meer as 100 en 200 dae in melk gemonitor. Net so moet alle droë koeie ook dragtig wees. Daar moet ’n plan van aksie wees met koeie wat meer as 100 DIM is en nog nie dragtig is nie.
Ander reproduksienorme soos die aantal dae vanaf kalf tot eerste inseminasie, persentasie koeie wat die eerste keer gedek word binne 80 dae ná kalf, aantal dae oop (tydperk vanaf kalf tot konsepsie), gemiddelde totale aantal inseminasies per konsepsie, en die persentasie koeie beset binne 100 en 200 dae in melk, moet ook deurlopend beraam en grafies gemonitor word. ’n Tussenkalfperiodesyfer slegs een keer per jaar, is heeltemal onvoldoende om die reproduksiebestuurspeil van ’n kudde te bepaal.
Gemiddelde laktasienommer
Die gemiddelde laktasienommer gee ’n aanduiding van die ouderdom van die koeie in ’n melkkudde. Hoewel koeie lank kan leef, is hul produktiewe leeftyd nie baie lank nie. Dit is omdat daar ’n groot uitval van koeie ná eerste laktasie is. Baie koeie word weens voorkombare redes uitgeskot. Hiervan is die meeste aan bestuursaksies soos mastitis, onvrugbaarheid, siektes en beserings gekoppel. Min koeie word uitgeskot weens lae melkproduksiepeile.
In sommige melkkuddes is die huidige tendens om eerder ’n jonger melkkudde te bedryf. Die algemene gevoel is dat jonger koeie (eerste- en tweedelaktasiekoeie) minder bestuursprobleme ondervind. Geen bevestiging hiervan is in navorsing verkry nie. ’n Jonger melkkudde (’n laer gemiddelde laktasienommer) het direkte en indirekte melkproduksie- en melkinkomsteverliese, omdat die meeste koeie eers tydens tweede laktasie ’n positiewe leeftyd-winsmarge bereik, waarna dit met ouderdom toeneem.
Produksiekoste
Melkprodusente behoort deurgaans te weet wat die proporsionele verdeling van die produksiekoste vir melk is. Dit is meer as net die voerkoste en sluit die koste van reproduksiebestuur, onderhoud van infrastruktuur, arbeid, lone en dies meer in. Gewoonlik is die voerkoste sowat 75% van die totale produksiekoste. Indien hierdie hoeveelheid dieselfde bly maar die verhouding neem af, beteken dit dat ander kostes by die produksiekoste gevoeg word.
Dit is ’n probleem wanneer daardie kostes nie noodwendig deel van die direkte koste van melkproduksie is nie. Die melkinkomste uit koeie is sowat 90% van die kudde-inkomste en moet nie gebruik word om ander bedryfsaksies te subsidieer nie. Die grootmaak van bulkalwers vir die vleismark is soms so ’n nie-winsgewende bedryfstak.
Ten slotte
Hoewel melkkuddes jaarliks geoudit word, loop die langtermyn-effek van sommige bestuursprobleme oor finansiële jare. ’n Besparing op semenkoste in die huidige finansiële jaar kan die balansstaat bevoordeel, maar indien lae-genetiese-meriete semen gekoop is, gaan dit die melkinkomste oor vyf tot agt jaar later benadeel.
Dieselfde geld vir die grootmaak van verse. Dit is daarom problematies wanneer ouditeure tegniese advies oor teling en voeding begin lewer. Die vergelyking van bestuursnorme tussen kuddes het min waarde indien die finansiële impak nie ook in ag geneem word nie.
Vir meer inligting, kontak dr Carel Muller by careljcmuller@gmail.com. – Dr Carel Muller, navorsingsgenoot, Universiteit Stellenbosch