Estimated reading time: 7 minutes
Hoe gemaak as ’n trop beeste skielik die pad voor jou oorsteek? Loslopervee hou nie net ’n ernstige gevaar vir padgebruikers in dorpe en selfs stedelike gebiede in nie, maar kan ook tot die verspreiding van siektes bydra. In sulke gevalle behoort diere volgens praktyk in ‘n veeskut geskut te word totdat ’n eienaar opgespoor word.
Skutmeester benodig
Volgens prof Theo Venter, veteraan politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit en DA-burgemeesterskandidaat vir die JB Marks-munisipaliteit, word oop stukke grond in woongebiede dikwels vir weidingsdoeleindes gebruik. Hy het die kwessie begin ondersoek nadat hy ’n trop beeste langs ’n besige pad in Potchefstroom sien wei het, terwyl motoriste moes wag terwyl die diere die pad oorsteek. Hoewel ’n veewagter daar naby gestaan het, was dit moeilik om met hom te kommunikeer. Dit het by hom die vraag laat ontstaan waar die stad se veeskut of skutmeester is.
Prof Venter meen die skutmeesterfunksie behoort deur Paws Haven Potchefstroom, ’n nie-winsgewende diereskuiling wat hoofsaaklik honde en katte red en rehabiliteer, verrig te word. Volgens prof Venter lê die kernprobleem daarin dat die munisipaliteit nie vir hierdie diens betaal nie, wat beteken dat daar in die werklikheid geen werkende skutmeester in die gebied is nie.
Hy sê die situasie vereis dringende aandag en verdere ondersoek na die bestuur van kommunale beeste. Dit blyk dat die stadsraad se uitgangspunt is dat daar te min geld is om na diere om te sien en dat mense daarom voorkeur geniet – iets wat ongrondwetlik is. Ten tyde van die skryf van die artikel het AgriOrbit nog op terugvoer van die munisipaliteit gewag.
Prof Venter waarsku dat loslopende beeste die risiko vir die verspreiding van bek-en-klouseer kan verhoog. Bykans die helfte van die nasionale kudde van sowat 14 miljoen beeste bestaan uit kommunale diere wat moeilik is om in te ent, aangesien hulle vrylik wei en dikwels buite krale gehou word.
Wat sê die wet oor veeskutte en rondloperdiere?
Volgens Hans-Jurie Moolman, direkteur by Moolman & Pienaar Ingelyf en ’n regskenner in grondreg, behoort die owerhede voorsiening te maak vir ’n skutmeester. Skedules 4 en 5 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) bepaal dat provinsiale of plaaslike regerings geriewe in plek moet stel vir die skut van vee, insluitend ’n plaaslike fasiliteit waar loslopervee of diere met onbekende eienaars tydelik gehuisves kan word nadat hulle verwyder is. Die doel hiervan is om diere tydelik te versorg en skade aan paaie of eiendom te voorkom.
Moolman verduidelik dat ’n skutmeester, in terme van veediefstal, deur plaaslike verordeninge of provinsiale skutwetgewing gereguleer word. Hierdie wetgewing bepaal dat die doel van ’n skutmeester juis is om diere te fasiliteer wat deur die polisie as bewysmateriaal in beslag geneem is, of om diere tydelik te huisves totdat die regmatige eienaar opgespoor kan word.
By loslopervee kan ’n skutmeester ook ’n heffing of boete oplê om die koste van versorging te dek voordat die diere aan die eienaar vrygelaat word. Volgens Moolman dien hierdie stelsel dus twee doelwitte: dit bevorder openbare veiligheid en dwing eienaars om behoorlike beheer oor hul diere uit te oefen.
Grondwetlike verpligtinge
Hoewel die Grondwet nie uitdruklik bepaal dat elke munisipaliteit ’n skutmeester móét hê nie, dui Skedules 4 en 5 aan dat dit ’n funksie van plaaslike owerhede is om dit te verskaf. Howe begin egter om hierdie bevoegdhede as ’n plig te interpreteer.
Moolman verwys na ’n hofsaak in die Oos-Kaap waarin landbou-organisasies die provinsiale regering en die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) hof toe gesleep het oor die swak toestand van paaie. Die saak het direk aanspraak gemaak op hierdie spesifieke bylae in die Grondwet. Die hof het by implikasie bevind dat die funksies wat die bylae aan nasionale, provinsiale en plaaslike regerings toewys, as ’n plig beskou behoort te word.
“Soos by paaie word die voorsiening van ’n skut in Deel B van Bylaag 5 van die Grondwet uitdruklik gelys as ’n funksionele gebied wat op die skouers van plaaslike regerings rus. Daarom kan geargumenteer word dat elke plaaslike munisipaliteit in Suid-Afrika ’n aangewese skut behoort te hê,” sê Moolman.
’n Skutmeester val tipies onder ’n munisipaliteit en die beheer van die provinsiale regering, en elke munisipaliteit behoort so ’n fasiliteit te hê. Moolman sê dit was vir baie jare die praktyk, maar oor die afgelope twee dekades het hierdie fasiliteite skaarser geword. In Noordwes moet mense in Vryburg byvoorbeeld van die skutmeester in Lichtenburg gebruikmaak. Volgens hom lê die probleem grootliks by ’n gebrek aan prioritisering en befondsing deur die staat, en is ’n verandering in ingesteldheid nodig, aangesien loslopervee ’n risiko vir die publiek inhou.
Selfs in landbougebiede veroorsaak loslopervee konflik tussen grondeienaars en mense wat op plase woon. Die kern van die probleem is die gebruik van beperkte natuurlike hulpbronne. Wanneer vee onbeheerd wei en hulpbronne oorbenut, kan dit permanente skade aanrig wat jare kan neem om te herstel.
Aanspreeklikheid
Volgens Moolman bepaal die reg dat eienaarskap van diere met verantwoordelikheid gepaardgaan. Hetsy dit ’n munisipaliteit, grondeienaar of plaasbewoner is, die eienaar bly aanspreeklik vir sy of haar dier.
In stedelike gebiede word die aanhou van vee dikwels strenger gereguleer, en plaaslike verordeninge verbied diere soos beeste, varke of hoenders in woongebiede as gevolg van veiligheid, gesondheid en higiëne.
Waar sulke diere wel voorkom, behoort ’n skutmeester die bevoegdheid te hê om hulle tydelik te verwyder. Moolman sê hoewel daar regsmeganismes is om die probleem te hanteer, bly wetstoepassing egter die grootste uitdaging. Vee word in die reg as ‘huisdiere’ beskou – diere onder menslike beheer – wat beteken dat eienaars aanspreeklik gehou kan word vir enige skade. Indien ’n motoris byvoorbeeld teen ’n bees vasry, kan die eienaar sivielregtelik aanspreeklik gehou word vir enige beserings of skade aan voertuie.
Volgens Moolman verander die regsposisie nie wanneer kommunale beeste op munisipale of meentgrond rondloop nie; die beginsel van eienaarsaanspreeklikheid bly van toepassing.
Vee mag op meentgrond aangehou word, maar dit vereis infrastruktuur soos behoorlike heinings om die diere te beheer en skade te voorkom. Indien sulke infrastruktuur ontbreek en die grond onder beheer van ’n plaaslike owerheid val, kan die owerheid moontlik aanspreeklik wees vir enige skade.
Aanmelding
Gevalle kan by die polisie aangemeld word, aangesien dit ’n gevaar vir die publiek kan inhou. Provinsiale wetgewing of plaaslike skutverordeninge, wat landswyd verskil, laat gewoonlik die polisie toe om diere te verwyder en na ’n skutmeester te neem. Padveiligheidsrisiko’s kan ook by verkeersowerhede aangemeld word.
Nog ’n rol van die polisie is om veediefstal te ondersoek. Die Wet op die Identifikasie van Diere, 2002 (Wet 6 van 2002) vereis dat vee gemerk en identifiseerbaar moet wees, sodat die eienaars opgespoor en moontlike diefstal ondersoek kan word. Die Wet op Veediefstal, 1959 (Wet 57 van 1959) vereis ook dat eienaarskap van vee bewys kan word.
Veeskutte is ononderhandelbaar
Moolman sê dat die munisipaliteit in die Potchefstroom-geval nie losloperbeeste kan ignoreer nie en oor ’n plaaslike veeskut behoort te beskik. Die rol van Paws Haven Potchefstroom is egter omstrede, aangesien dit ’n privaatorganisasie is. Intussen kan inwoners die polisie of verkeersafdeling nader.
Volgens hom lyk dit in die betrokke geval nie of die beeste na ’n veiling of ander bestemming aangejaag is nie; dit is meer waarskynlik dat hulle op padreserwes wei. Hy sê dit gebeur dikwels omdat groot dele van die land met oorbeweiding worstel: te veel diere word op te klein stukke grond aangehou, wat weiding uitput. Produsente en veewagters begin dan padreserwes gebruik, wat ’n beduidende gevaar vir padgebruikers inhou. Padverkeersregulasies verbied hierdie praktyk ook uitdruklik.
Moolman glo ’n belangrike deel van die oplossing lê in die beskikbaarheid van funksionerende skutmeesters in dorpe. Daar moet groter druk op plaaslike owerhede geplaas word om hierdie verpligting na te kom, hetsy deur onderhandeling of, indien nodig, deur hofbevele wat munisipaliteite verplig om die nodige fasiliteite te skep. Volgens hom kan dit as ’n regsplig beskou word.
Ander regsroetes kan ook gevolg word: die polisie kan betrek word indien daar ’n vermoede van gesteelde vee is en benadeelde partye kan siviele eise instel wanneer skade veroorsaak word.
Dit geld veral wanneer munisipaliteite meentgrond beskikbaar stel vir vee, maar versuim om die nodige infrastruktuur, soos behoorlike heinings, in stand te hou om te verhoed dat diere uitbreek en skade aanrig. In sulke gevalle kan siviele eise ’n doeltreffende manier wees om druk op munisipaliteite te plaas om hul verpligtinge na te kom. – Christal-Lize Muller, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak prof Theo Venter by tpventer@iafrica.com of 082 415 9034, of Hans-Jurie Moolman by hj@mmlaw.co.za, 018 297 8799 (Potchefstroom) of 033 032 0241 (Pietermaritzburg).