hawerkuilvoer
Bull van Rensburg in een van die lande waar die hawer en korog sowat 1,2m hoog staan.

Die maak van kuilvoer as ’n belangrike voedingsbron, is daarop gemik om plantmateriaal se voedingswaarde te bewaar en terselfdertyd droëmateriaalverliese te beperk. Dit vorm ’n integrale deel van veeprodusente se voervloei- en vooruitbeplanning, en dit is belangrik dat goeie kuilvoerpraktyke toegepas word.

Daarom is dit voorwaar ’n riem onder die hart vir die organiseerders van die sewende Plaas Media en Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie, wat aan baie hoë standaarde gekoppel word, dat die gehalte van kuilvoer jaarliks verbeter.

‘n Waardige wenner

Die onderskeie kategoriewenners in die kompetisie is tydens ’n virtuele aanbieding op 21 Oktober 2020 aangekondig, en uit die 14 inskrywings in die hawerkategorie, is Bull van Rensburg van Groenwei Boerdery as die wenner aangewys.

kuilvoer
Hawer word op Groenwei Boerdery se lande gesny.

Prof Robin Meeske van die Outeniqua-navorsingsplaas en voorsitter van die kompetisie se protokolkomitee, het onder andere oor Groenwei Boerdery gesê: “Behalwe vir ’n hoë proteïenwaarde, het ons gevind dat hul kuilvoer ’n lae neutraalbestande vesel (NDF)-verteerbaarheid en laer veselinhoud het, asook ’n hoër styselinhoud.”

Die styselinhoud van kuilvoer is volgens prof Meeske ’n belangrike aspek wat die energie daarvan kan affekteer. “Dit is kommerwekkend dat ’n groot hoeveelheid graankuilvoer in die land ’n lae styselinhoud toon, wat dus ook op laer energievlakke dui,” het hy gesê. “Om hierdie rede wil ons graag vir Bull van Rensburg gelukwens met wat hulle reggekry het.”

Kuilvoer vir melkbeeste

Groenwei Boerdery is ’n paar kilometer buite Humansdorp in die Oos-Kaap geleë, in ’n gebied gekenmerk deur landbou en ligte industriële aktiwiteite. Veeplaas het by Bull gaan aanklop om meer oor hulle suksesvolle kuilvoermaakproses te leer.

Bull plant withawer en koring op droëlande, wat dan verwerk word om as winterkuilvoer te dien. “Ons maak die kuilvoer met die doel om dit in ons weidingsgebaseerde melkboerdery te gebruik. Die kuilvoer word dan as ’n aanvulling gedurende tye van weidingstekorte ingespan. Een van die redes waarom goeie gehalte hawerkuilvoer met hoë proteïen- en energiewaardes vir ons belangrik is, is omdat die lakterende melkkoeie en groeiende verse hoër kragvoer benodig.”

Op die vraag waarom dié deel van hul boerdery so belangrik vir hulle besigheid is, antwoord Bull dat hulle kuilvoeras ’n vuller aanwend wanneer daar weidingstekorte is. “Dit is dus belangrik vir ons besigheid omdat dit ons van ’n volhoubare voervloei verseker. Dit vergroot ook ons melkplatform deurdat ons die lande wat te ver van die melkstal af is, vir voerproduksie vir die koeie kan aanwend. Só verhoog dit ons winsgewendheid – kuilvoer in die bunker is so goed soos geld in die bank.”

Groenwei Boerdery is gelukkig in die opsig dat hulle goeie kontrakteurs met die nodige toerusting in hulle omgewing het. Dit stel hulle in staat om op enige skaal kuilvoer te maak. “As ’n mens jou eie toerusting wil aanskaf, sou ek dink die area of volume moet genoeg wees om dit te regverdig.”

Goeie kuilvoerkultivars

“Ons gebruik Pannar Saad se Majoris, wat ’n withawerkultivar is en ongelooflik baie materiaal per hektaar produseer. Daar is natuurlik ook kultivars wat meer vir weidingsdoeleindes gebruik word, maar Majoris werk op hierdie stadium vir ons en lewer die hoogste produksie per hektaar.”

Hulle produseer hulle hawer op droëlande en gebruik gewoonlik 50 tot 60kg saad per hektaar. “Op besproeiingslande sal daar natuurlik ‘n groter plantdigtheid wees, waar jy tussen 80 en 90kg saad per hektaar kan saai.”

Wat die berging van hulle kuilvoer betref, het hulle aanvanklik die kuilvoer op die grond gemaak en met plastiekseile toegemaak. “Sedert ons egter in 2020 ’n kuilvoerbunker laat grawe het, word die kuilvoer in hierdie put geberg. So bespaar ons op plastiek en die kompaksie van die kuilvoer is baie beter.”

As jy jou eie kuilvoer wil maak, sê Bull, is dit baie belangrik dat jou beginpunt, naamlik die verbouing van die gewas wat jy beplan om te gebruik, goed deurdink en beplan word. “Hoe beter die gehalte materiaal wat jy inkuil, hoe beter is die produk wat jy uithaal, mits jou bergingspraktyke in orde is en die inkuilingsproses reg geskied.”

Die Groenwei-resep

Bull sê hulle meng veral lusern, hooi en selfs verpulpte sitrus met die hawer. Daar is ’n groot verskeidenheid opsies, maar vir Groenwei Boerdery gaan dit daaroor dat hawer die basis van hulle voermengsels uitmaak. “Ons vul dan die nodige proteïen of energie aan om ’n gebalanseerde rantsoen vir die koeie te voorsien.”

kuilvoer
Hawer is ’n veelsydige kleingraan. Hier word dit gekerf om kuilvoer mee te maak.

Om hawerkuilvoer met lusern en mielies te maak is moeilik, verduidelik hy, omdat dit twee verskillende produkte is waar lusern meer proteïen- en veselgebaseer is en in die meeste gevalle vir lakterende koeie gebruik word, terwyl mielies ’n groter energiebasis lewer. “Hawerkuilvoer het by ons ’n spesifieke plek as ’n vuller, eerder as iets anders. Hoe beter die gehalte van die hawerkuilvoer, hoe minder aanvullings soos lusern of mielies is nodig om die rantsoen te balanseer.”

kuilvoer
Kuilvoer word in ’n nuwe kuilvoerput geberg.

Iets wat ’n mens nie uit die oog moet verloor nie, is hawerkuilvoer se NDF-vlakke; met ander woorde, die verteerbaarheid van die kuilvoer. “Hoe swakker die gehalte, hoe laer is die NDF, wat beteken die kuilvoer is minder verteerbaar vir die diere. Hoe hoër die gehalte, proteïen en energie van die kuilvoer, hoe beter die NDF-vlakke en hoe beter die verteerbaarheid.”

Voer vir die langtermyn

“Afhangend van jou bergingspraktyke en hoe goed die kompaksie van jou kuilvoer is, hoe langer kan jy dit stoor. Gewoonlik stoor ons dit gemaklik vir twee jaar, of twee seisoene, maar in sommige gevalle kan kuilvoer selfs vir langer geberg word.”

Ter afsluiting verwys Bull na die wyse woorde van ’n goeie vriend en konsultant, MC Veldsman, wat hom met die kuilvoerproduksieproses bystaan. “MC sal sê daar is nie kortpaaie met die maak van kuilvoer nie. Jy kry net een kans om dit reg te doen, so doen dit reg.” – Carin Venter, Veeplaas

Nasionale Kuilvoerkompetisie 2020 se hawerwenners:

Kategoriewenner:
Groenwei Boerdery, Bull van Rensburg
(kuilvoerhoop ingeskryf deur AFGRI Veevoere).

Tweede plek:
Waplaas Boerdery, Johan Wessels
(silosak ingeskryf deur BAG Budissa Agroserv).

Derde plek:
De Draay Boerdery, Awie Erasmus
(kuilvoerhoop ingeskryf deur Meadow Voere Natal).

Algehele 2020-kuilvoerwenner:
Simpson & Son Farming, KwaZulu-Natal.

Onthou, inskrywings vir die
2021 Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie
open op 1 Januarie 2021.

Kyk hier na ‘n inligtingsvideo oor die 2020 Plaas Media Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie:

Vir meer inligting, kontak Bull van Rensburg
by 082 498 0566 of info@groenwei.co.za.