Estimated reading time: 2 minutes
Agri-Expo, in vennootskap met Hollard, doen ’n beroep op die suiwelbedryf om jong uitblinkers vir die derde jaarlikse Hollard Game Changer-toekenning te nomineer. Hierdie toekenning vereer uitsonderlike talent wat reeds ’n tasbare verskil in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf maak.
Die 2026-wenner sal op Donderdag, 23 April tydens die Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings by Nederburg in die Paarl aangekondig word. Die wenner ontvang ’n kontantprys van R50 000, geborg deur Hollard.
“Ons nooi rolspelers in die bedryf om persone jonger as 40 wat reeds ’n betekenisvolle en meetbare bydrae tot die suiwelbedryf lewer, te nomineer,” sê Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo.
Vorige wenners se talent verstom
Pamella Dzindikwa (31), produksiehoof by Puglia Cheese in Somerset-Wes, het die toekenning verlede jaar ontvang. Die eerste bekroonde in 2024 was Clement October (34), hoofkaasmaker van Klein River Cheese in Stanford. “Beide hierdie wenners se loopbane getuig van merkwaardige groei – van junior rolle tot sleutelposisies waarin hulle gevestigde handelsmerke versterk en uitbrei deur uitnemende suiwelprodukte,” sê Milford.
“Die sukses van vorige wenners bevestig hoe noodsaaklik dit is om doelbewus in jong talent te belê,” voeg Andries Wiese, hoof van landbou by Hollard, by. “Wanneer jong mense tot sleutelrolspelers in die suiwelwaardeketting ontwikkel, is dit nie net wonderlik vir hul individuele loopbane nie, dit versterk ook die sektor se langtermyn-mededingendheid en volhoubaarheid. Die Hollard Game Changer-toekenning is ons bydrae om die volgende geslag se kundigheid, innovasie en leierskap te erken en aan te moedig.”
Nomineer ’n grensverskuiwer
Voltooi die nominasievorm by https://sadairychamps.co.za/. Nominasies sluit op 30 Maart 2026. Rig navrae aan charlotte@agriexpo.co.za. – Agri-Expo persverklaring