Thursday, October 17, 2024

Geleenthede wink vir SA landbouers om nasies te voed

Agri Noordwes se jaarkongres in Lichtenburg het ‘n boodskap van hoop vir die toekoms van landbou oorgedra. Landbouers is leiers op hul plase en moet ‘n gemeenskaplike doel hê waarin landbou as nasionale bate beskou word. Hulle moet sterk staan en moedig voortbeur in moeilike tye en saam ‘n beter toekoms skep. Hierdie boodskap het aangesluit by die kongrestema, “Praat saam, werk saam, verseker saam ‘n toekoms”.

Die kongres was die laaste van AgriSA se provinsiale organisasies se kongresse vir die jaar. Jaco Minnaar, president van AgriSA, sê die gevoel oor landbou onder lede is positief, ondanks uitdagings soos droogte, lae pryse, uitvoere en oeste. Landbou dra ruim by tot Suid-Afrika se ekonomiese groei en het die afgelope vyf jaar ‘n positiewe bydrae gelewer. AgriSA vier vanjaar sy 120ste bestaansjaar, wat volgens hom die belangrikheid beklemtoon om uit die geskiedenis te leer. Minnaar het opgemerk dat daar ‘n beter gesindheid teenoor die regering van nasionale eenheid (RNE) is, maar landbouers moet verantwoordelikheid neem en self aan ‘n toekoms bou.

Voedselsekerheid

Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA, sê voedselsekerheid is wêreldwyd van groot belang en dit is skrikwekkend dat daar mense is wat nie elke dag kos het nie. Suid-Afrika speel ‘n sleutelrol in die wêreldekonomie, veral in kosvoorsiening. Met die wêreldbevolking wat na verwagting van 8 miljard na 10 miljard in 2050 gaan toeneem, en 68% wat in stede sal woon en nie kos kan produseer nie, is die rol van Suid-Afrikaanse landbouers uiters belangrik. Die verantwoordelikheid op landbouers vergroot, aangesien 3 miljard van die 8 miljard mense in armoede leef, van wie ongeveer 700 miljoen in uiterste armoede. Hy het verduidelik dat Afrika groot uitdagings in voedselsekerheid ondervind, wat gemeet word aan die beskikbaarheid, bekostigbaarheid en veiligheid van kos, asook volhoubaarheid en aanpasbaarheid. Hoewel Afrikalande veilige en voedsame kos het, kan baie dit steeds nie bekostig nie. In Suid-Afrika kan 40% van die bevolking nie kos bekostig nie, ondanks die groter voedselsekerheid in vergelyking met ander Afrikalande. Die uitdaging vir Suid-Afrikaanse boere is om kos bekostigbaar te produseer en sodoende ‘n impak in Afrika te maak, waarvan die helfte van die bevolking 18 jaar en jonger is. Kotzé het die belangrikheid van kleinboere beklemtoon. Hulle is ‘n bate en saam met ‘n kommersiële komponent, kan voedselsekerheid bereik word. Suid-Afrika het groot sukses as uitvoerland behaal, met ongeveer 50% van die produksie wat uitgevoer word, waarvan 30% na Afrika gaan. Dit dui op potensiaal vir verdere uitvoere. Minnaar het bygevoeg dat Suid-Afrika in staat is om kos vir Afrikalande te produseer, soos gesien met die uitvoer van mielies na Zambië, Zimbabwe en Botswana weens droogte. Die land speel ‘n stabiliseringsrol, maar daar is ruimte vir verbetering en geleenthede moet reg benut word.

Fokusareas

Naudé Pienaar, waarnemende uitvoerende hoofbestuurder van Agri NW, het verduidelik hoe dié organisasie waardevolle bydraes lewer en vordering maak in sy fokusareas. Pienaar neem waar ná die uittrede van Boeta du Toit, wat 18 jaar in die posisie was en diep spore in landbou getrap het. Volgens Pienaar is die voorgestelde minimum loon 4% laer, danksy druk van AgriSA en sy provinsiale organisasies. Dit kom neer op ‘n besparing van R185 per werker per maand. Met 1 800 Agri NW-lede en gemiddeld vier werkers per lid, is dit ‘n besparing van ongeveer R8 880 per lid per jaar, of in totaal R15 984 000 per jaar vir Agri NW. Die organisasie het sewe werksessies oor elektrisiteit gehou, waar lede hul rekeningprobleme met Eskom bespreek het. Gemiddeld 12 lede het deelgeneem, wat gelei het tot ‘n regstelling van meer as R600 000 op een rekening.

Eretoekennings is aan verskeie lede vir hul besondere bydrae tot Agri NW oorhandig. Van links is Cornet du Toit, haar man Boeta du Toit, voormalige uitvoerende hoofbestuurder, en André Strydom, voorsitter van Agri Rysmierbult en Agri Ventersdorp. Cobus van Zyl, voormalige visepresident, en Imiel Bellingan, wat ‘n eretoekenning aan sy pa, wyle Leon Bellingan, ontvang het, is nie op die foto nie.

Agri NW bevorder ook samewerking in veiligheid. Projekte het gelei tot die vonnis van ‘n plaasaanvaller, Josua Sibanda, en daar word gewerk om ‘n veediefstalsindikaat aan die kaak te stel. Dié organisasie fokus al jare op waterbesoedeling, en die ingryping van die departement en ander instansies is ‘n prestasie. Teenstand teen onaanvaarbare watertariewe en swak onderhoud by waterskemas bring groot besparings vir boere mee. Prospektering en mynbou bly uitdagings en die stryd teen onwettige watergebruik duur voort. Agri NW kon baie prospekteeraansoeke vertraag deur beswaar te maak oor verkeerde prosesse. Die protokol vir die herstel van paaie wat as beskerming dien vir mense wat geen ander keuse het as om self aan paaie te werk nie, is steeds in plek. Pienaar het gesê vordering is ook in terme van skakeling en steunwerwing gemaak met onder meer Sakeliga, die nasionale energiereguleerder (NERSA) en die munisipale infrastruktuurondersteuningsagent (MISA). Willem de Chavonnes-Vrugt, herkies as president, het gesê Agri NW vier sy 29ste bestaansjaar en maak ‘n groot verskil in landbou. Hy het trots aangekondig dat studiebeurse uit Agri NW se studiefonds, wat geskep is deur skenkings van voormalige presidente en visepresidente, vanjaar aan drie studente toegeken is.

Agri Noordwes se visepresidente is van links Daan van der Merwe van die Marico-Bosveld-landbouvereniging en Gideon van Zyl van die Vryburg/Reivilo-landbouvereniging, wat herkies is as visepresident.

Vir meer inligting, kontak Agri NW by 018 632 2612/3624/2987 of besoek www.agrinw.co.za.

Trigomoniase: As jy nie toets nie, sal jy nie weet nie

Estimated reading time: 4 minutes Trigomoniase is die algemeenste geslagsoorgedraagde siekte ter wêreld by ekstensiewe...

Verantwoordelike versorging van melkkalwers

Estimated reading time: 7 minutes Verbruikers se aankoopbesluite word meer beïnvloed deur dierewelsyn, smaak en...

Cattle selection decisions based on objectives, resources and environment

Estimated reading time: 9 minutes Genetics are a crucial aspect of the livestock industry, influencing...

Wees lief vir jou motor

Estimated reading time: 4 minutes “Waarom poets Mbali ons Stout se wiele blink?” vra Gert...