Friday, June 6, 2025

RPO Noordwes: Geleenthede wink vir rooivleisprodusente ondanks uitdagende jaar

Estimated reading time:7 minutes

Die afgelope jaar was uitdagend vir Suid-Afrikaanse produsente, maar by die Noordwes Rooivleisprodusente-organisasie (RPO Noordwes) se jaarkongres in Lichtenburg is verskeie positiewe vooruitsigte en geleenthede uitgelig. RPO Noordwes voorsitter, Nico Kilian, wat tydens die kongres herverkies is, het na uitdagings verwys soos droogtes van die vorige seisoen tot vroeg in 2025, lae vleispryse, hoë rentekoerse, ’n stagnerende ekonomie, en stygende voerkoste. Dit het nie net verbruik laat afneem nie, maar ook produsente genoop tot kostebesnoeiings. Tog toon die mark tekens van herstel, met stygende slag- en speenkalfpryse, en goeie onlangse reënval.

blank
Die RPO Noordwes-span is van links Wanda Potgieter, bedryfsbestuurder; Sarel Pretorius, voorsitter van die Noordwes veediefstalvoorkomingsforum; en Danie de Villiers, visevoorsitter van RPO Noordwes.

Grondvlakbetrokkenheid, biosekuriteit, en veediefstal

Kilian het die belang van grondvlakskakeling beklemtoon. Danie de Villiers, ook herverkies as RPO Noordwes visevoorsitter, is sedert Januarie vanjaar aktief by landbouverenigings, veilings, en regeringsinstellings betrokke in ’n poging om die RPO Noordwes se teenwoordigheid op grondlak te versterk. Kilian het die belangrikheid van aktiewe deelname deur RPO-afgevaardigdes in landbouverenigings aan die RPO Noordwes se algemene raad beklemtoon om ’n sterk grondvlakvoetspoor te vestig.

Hy het produsente aangemoedig om siektebeheer ernstig op te neem. Siektes soos bek-en-klouseer (BEK), besmetlike misgeboorte, trigomoniase, en vibriose bly ’n bedreiging  vir kuddegesondheid in die provinsie. Daarom moet produsente gereelde kudde- en bultoetse doen. Hoewel Noordwes sedert Maart 2024 as BEK-vrye gebied verklaar is, het Kilian teen verslapping gewaarsku ná nuwe uitbrekings in Gauteng en Limpopo. Streng biosekuriteit, toegangsbeheer en goeie kommunikasie tussen bure bly steeds noodsaaklik.

Hy het ook beklemtoon dat veediefstal steeds ’n groot kopseer is. In 2023/24 is sowat 13 000 beeste, 22 000 skape, en 13 000 bokke ter waarde van R139 miljoen in Suid-Afrika gesteel. Dit is net die helfte van die werklike voorvalle wat by die polisie aangemeld is en die werklike syfers kan beduidend hoër wees. Die RPO se nuwe mobiele toepassing help met verslagdoening, maar formele aanmelding by die polisie bly noodsaaklik.

Benutting van geleenthede

Kilian het produsente aangemoedig om huidige gunstige vleispryse en uitvoergeleenthede te benut ondanks BEK-uitdagings. Hulle moet ook voordeel uit verbeterde ekonomiese toestande, dalende rentekoerse, en voerkoste trek, asook die uitbreiding van die BRICS-lande se ooreenkoms wat verdere geleenthede vir uitvoere en ondersteuning van plaaslike speenkalfpryse bied.

Daarmee saam het invoere van speenkalwers vanaf Namibië en Botswana van Januarie tot April vanjaar afgeneem. Volgens landbou-ekonoom prof Johan Willemse vind die invoer van speenkalwers binne die raamwerk van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) plaas. Hierdie ooreenkoms behels vrye handel en vrye beweging van goedere en produkte tussen die vyf lande: Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Lesotho, en Swaziland. Daar is tussen hierdie lande geen beperking of tarief nie.

Vir Suid-Afrika is daar ’n 40% ad valorem-heffing vir invoere van produkte van ander lande, maar dit geld nie vir Suid-Afrika se vier SADU-vennote nie. Hy het benadruk dat hoewel daar persepsies bestaan dat Namibiese kalwers die plaaslike mark oorstroom, is handel wederkerig en bestaan hierdie vryehandelsooreenkoms al sedert 1903.

Prof Willemse het benadruk dat invoere vanaf Namibië en Botswana altyd deel van die mark en van droogtesiklusse was. Volgens hom is byna 400 000 speenkalwers in 2023 van Namibië ingevoer, en meer as 357 000 in 2024. Dit was hoofsaaklik weens droogte-uitslagtings in dié buurland wat saam met Suid-Afrika se droogteslagtings geval het en druk op die plaaslike mark geplaas het. Volgens Kilian het hierdie getal tussen Januarie en April vanjaar tot gemiddeld 8 000 per maand gedaal, teenoor 25 000 tot 30 000 per maand verlede jaar. Prof Willemse sê dit is ’n daling van tot 20% van die vorige jaar se vlakke, en kan toegeskryf word aan goeie reën in albei lande wat slagtings laat afneem het.

Namibiese produsente en plaaslike produsente is nou in ’n kuddeboufase. Volgens prof Willemse gaan hierdie ingevoerde speenkalwers deur die Suid-Afrikaanse voerkraalstelsel wat jaarliks sowat 2,8 miljoen slagbeeste lewer. Hoewel hierdie speenkalwers ’n klein persentasie daarvan uitmaak, speel dit steeds ’n rol. Voorheen het speenkalwers uit Namibië en Botswana 10–12% van die land se totale volume slagtings gevorm en tans is dit net 3,3%. Dit is goeie nuus vir Suid-Afrikaanse produsente.

Hy het verder aangedui dat Namibië tans vier uitvoerabattoirs bou om vleis na Europa uit te voer wat plaaslike druk sal verlig. Dit is belangrik om in ag te neem dat Suid-Afrika egter ook buite die SADU en Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) handelsooreenkomste, sekere vleisprodukte vanuit die Verenigde State van Amerika (VSA) invoer.

blank
Sprekers op die kongres was van links, prof Johan Willemse, landbou-ekonoom; dr Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk; en Kobus Bester, direkteur van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF)

Rooivleisuitvoere die sleutel tot groei

Volgens prof Willemse is rooivleisuitvoere noodsaaklik aangesien Suid-Afrika meer vleis produseer as wat plaaslike verbruikers in ’n verarmende mark kan bekostig. Premiepryse is dus nie intern haalbaar nie. Killian het daarby aangesluit en gesê Suid-Afrika het in 2024 sowat 38 000 ton beesvleis uitgevoer. Dit is ongeveer 7% van totale produksie teenoor 4% in vorige jare. Hierdie groei toon vordering met Visie 2030, wat mik om teen 2030 sowat 20% van plaaslike produksie uit te voer. Skaapvleisuitvoere het 11 000 ton beloop in 2024 met bestemmings soos die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Jordanië, China, Koeweit, en Mosambiek. Dit is ’n aanduiding van verdere groeipotensiaal.

Kilian het ook na vooruitsigte van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) verwys dat plaaslike beesvleisverbruik teen 2034 met 17% sal groei, terwyl skaapvleisverbruik stabiel sal bly, en varkvleisverbruik met 20% kan styg. Prof Willemse het beklemtoon dat uitvoere ’n belangrike buffer was, want sonder dit sou produsentepryse die afgelope drie jaar veel laer gewees het. Hy het die belang van ekonomiese en produksie-siklusse onderstreep en gesê daar is redelike konsensus dat die Suid-Afrikaanse ekonomie tussen 1,5 en 2% kan groei, met rentekoerse wat waarskynlik gaan daal, en brandstofpryse wat laag gaan bly.

Volgens prof Willemse is die sewejaar-beesvleispryssiklus tans in ’n opwaartse fase. Na droogte-uitslagtings en swak pryse, het A-graad beesvleis die afgelope vier maande R70/kg bereik, met speenkalwers wat teen R40 tot R42/kg verhandel. Willemse het produsente aangemoedig om hierdie siklusse te verstaan en hul boerderystrategieë daarvolgens aan te pas.

Dieregesondheid: Noodsaaklike stelsels en planne

Dr Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk het gesê  die Nasionale Siekterapporteringstelsel wat hy 14 jaar gelede begin het, help veeartse met siektebeheer. Hy het egter gewaarsku dat daar dringend ’n nasionale operasionele sentrum nodig is vir BEK-beheer, insluitend daaglikse opdaterings via die RPO se gedrewe GIS-stelsel met die Rooivleisbedryfdienste (RMIS) wat die stelsel van stapel stuur. Papierpermitte vir veevervoer is ook onvoldoende en ’n elektroniese stelsel is nodig vir akkurate data-insameling.

Hy het ook kommer uitgespreek oor die tekort aan entstof teen BEK, met Botswana se fabriek gesluit en beperkte voorraad beskikbaar. Volgens parlementêre terugvoer behoort plaaslike vervaardiging teen Junie 2025 gereed te wees. Entstof is reeds in beperkte hoeveelhede vervaardig, maar grootskaalse produksie moet dringend begin. Dr Odendaal het aanbeveel dat die RPO ’n tegniese span stuur om produksiegereedheid te bevestig.’n Nasionale gebeurlikheidsplan vir uitbrekings van BEK is glo reeds opgestel, maar nie aan die bedryf bekend nie. Opleiding en voorbereiding is krities.

Nuwe vleisgraderingstelsel vir volhoubare produksie

Kobus Bester, direkteur van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) het gepraat oor die noodsaaklikheid van ’n vleisgraderingstelsel om Suid-Afrika se huidge vleisklassifikasiestelsel te vervang. In lyn met die kongrestema “Volhoubare rooivleisproduksie”, het hy beklemtoon dat beesvleis ’n belangrike bydrae tot die ekonomie lewer en produsente help om hul bedrywighede te diversifiseer. Boonop dra beesboerdery, veral die hoefaksie van vee, by tot grondverbetering, ekologiese herstel, en verhoogde opbrengspotensiaal.

Beesvleisproduksie het in 2024 met 7,3% gestyg na 777 000 ton ondanks minder slagtings, wat ’n aanduiding is van toename in karkasmassa.’n Nuwe graderingstelsel kan verbruikersvertroue versterk deur ’n konsekwente eetervaring en premie-uitvoere moontlik te maak. Volgens Bester bly grondbenutting soos in die tradisionele osproduksiestelsel, belangrik. Hy beklemtoon dat sukses van ’n funksionele naspeurbaarheidstelsel en produsente se toewyding aan volhoubare praktyke afhanklik is. – Christal-Lize Muller, Plaas Media.

Vir meer inligting kontak Nico Kilian by rponw@rpo.co.za of nmkilian@lantic.net.

Desert Beef Voerkraal hou kompetisie in die Kalahari

Estimated reading time: 7 minutes Desert Beef Voerkraal en Boomplaats Abattoir het op 27 Mei...

Agricol Groendag beklemtoon somer- en winterweidingsgewasse

Estimated reading time: 5 minutes Agricol se 11de Groendag, wat by hul navorsingstasie net buite...

Vertrou maar ’n Japannese bakkie in die Kalahari

Estimated reading time: 4 minutes Verlede maand het ek besluit om twee vlieë met een...

Mineral deficiencies in game

Estimated reading time: 6 minutes One of the goals of a game rancher is to...