Estimated reading time: 4 minutes

Die Wes-Kaap is bevoorreg om deur doeltreffende brandbeskermingsverenigings (BBV’s) en goeie distriksmunisipaliteite ’n sterk brandbeheernetwerk vir landelike gebiede te hê, sê Colin Deiner, hoofdirekteur van die Direktoraat Rampbestuur en Brand- en Reddingsdienste in die provinsie.

Die provinsie loop erg onder brande deur, veral van Desember tot April. In die Wes-Kaap is die strukture om veld- en bosbrande te beheer by distriksmunisipaliteite geplaas. Die provinsie is in vyf landelike distrikte opgedeel, elkeen met sy eie noodnommer vir veldbrande. Die distrikte is Weskus (022 433 8700), Sentraal-Karoo (023 414 2603), Kaapse Wynlande (021 887 4446), Tuinroete (044 805 5071) en Overberg (028 425 1690).

Hoewel die nommers gebruik kan word, beveel Colin aan dat die nommer 112 gebruik moet word om brande op enige plek in Suid-Afrika aan te meld. Die nommer kan ook met selfone geskakel word. Hy sê al vyf die distriksmunisipaliteite is goed toegerus met brandweervoertuie en -toerusting in goeie werkende toestand, sowel as goed opgeleide personeel.

Geïntegreerde veldbrandbestuur

Die Wes-Kaapse Rampbestuursentrum, waaronder die brandweerafdeling val, het in 2011 ’n geïntegreerde veldbrandbestuurstelsel in die Wes-Kaap ingestel om brande doeltreffend te beheer en groter ondersteuning aan munisipaliteite te gee.

Met dié bestuurstelsel is Working on Fire (WOF) gekontrakteer om lugsteun op ’n provinsiale vlak te bied. “Die program het die provinsie se lugsteunvermoë vergroot en verbeter ook die koördinering van die helikopters en vliegtuie.”

In totaal is daar nou 24 helikopters en vastevlerkvliegtuie om brande te beheer. Dit sluit in helikopters met ’n kapasiteit van 1 000ℓ, vliegtuie met ’n 3 000ℓ-kapasiteit en een helikopter met ’n 3 200ℓ-kapasiteit.

Vroeë lugsteun bepaal sukses

Colin sê die probleem met lugondersteuning tydens brande is dat dit baie duur is. Die beperkte begrotings van distriksmunisipaliteite maak hulle huiwerig om lugsteun aan te vra en wanneer hulle dit uiteindelik doen, is dit gewoonlik te laat.

Om die probleem te oorkom, het die rampbestuursentrum nou ’n program waarvolgens die sentrum die eerste uur van lugsteun betaal indien die brand aan sekere voorwaardes voldoen. Dit word bepaal deur kaarte wat oor al vyf distriksmunisipaliteite opgestel is om die brandrisiko van elke gebied volgens onder meer die plantegroei, bevolkingsdigtheid en infrastruktuur vas te stel.

As ’n brand nou in ’n hoë-risikogebied ontstaan, kan die distriksmunisipaliteit dadelik lugsteun vra. Die motivering hiervoor is dat die sukses van lugsteun hoër is wanneer ’n brand in sy beginstadium geteiken word.

“Hierdie vinnige-aanvalsprogram werk baie goed,” sê Colin. “In die eerste jaar is tussen 80 en 90% van dié brande binne die eerste uur heeltemal geblus of tot só ’n mate onder beheer gebring, dat die brandweer op grondvlak die brande kon blus. Die afgelope seisoen was die sukseskoers 98%.”

Die geïntegreerde veldbrandbestuurstelsel word jaarliks verbeter. Gespesialiseerde grondspanne word onder meer opgelei om onafhanklik in onherbergsame areas te werk en lewer ’n groot bydrae tot die beheer van veldbrande. Tans word volledige brandweerplanne vooraf vir elke gebied opgestel sodat almal presies weet wat gedoen moet word.

Collin sê die rampbestuursentrum het saam met ander brandbestrydingsagentskappe in die Wes-Kaap ’n brandbeheer-werkgroep gestig. Die groep sluit die vyf landelike distrikte, al die munisipaliteite, die Weermag, diensverskaffers soos WOF, die gespesialiseerde grondspanne, Cape Nature, Suid-Afrikaanse Nasionale Parke en die brandbeheerverenigings in. “Deur die werkgroep is almal betrokke by die opstel van brandplanne en die beplanning wat elke jaar gedoen word.”

Etienne du Toit, adjunkdirekteur brandweerdienste in die Wes-Kaap, sê bevel en beheer is baie belangrik by die bestuur van bos- en veldbrande. Die Wes-Kaap werk volgens ’n insidentbestuurstelsel wat op Los Angeles (Amerika) se stelsel gegrond is en internasionaal aanvaar word.

Brandbeskermingsverenigings

Hy sê BBV’s vorm ’n belangrike been van brandbeheer in die Wes-Kaap. “Hierdie verenigings is baie belangrik vir landbou, omdat die onus op grondeienaars rus om te verseker dat daar nie ’n brand op sy/haar eiendom ontstaan of versprei nie.”

In die Wes-Kaap is vier BBV’s wat binne die distriksgrense ingeskakel is. Die Sentraal-Karoo-distrik het nie ’n BBV nie, omdat ’n groot gedeelte van die distrik nie ’n brandrisiko het nie.

“Die Suid-Kaapse BBV is verantwoordelik vir die Tuinroete-distrik en ook die oostelike deel van Sentraal-Karoo, waar ’n brandrisiko bestaan. Die Wynland-BBV is verantwoordelik vir die Kaapse Wynland-distrik en die westelike deel van Sentraal-Karoo.  Die Overberg-BBV is verantwoordelik vir die Overberg-distrik en die Cederberg-BBV vir die Weskus-distrik.” – Hugo Lochner, Veeplaas

Lees van brandbestuur in die Wes-Kaap.

Vir meer inligting, kontak die kantoor van Rampbestuur en Brand- en Reddingsdienste in die Wes-Kaap by 021 937 6300/1.

brandbestuur
wegholveldbrande