Estimated reading time: 2 minutes
Die rand het in Junie aansienlik versterk teenoor die dollar en die euro. Die rand het tydens die maand sy sterkste vlak vir die jaar nog bereik en het teen R17,96 teenoor die dollar verhandel. Die rand het die maand teen R18,00 teenoor die Amerikaanse dollar en R19,36 teenoor die euro gesluit. Die verbruikersprysindeks (VPI) het in Mei onveranderd gebly op 5,2% (jaar-op-jaar), terwyl die produsenteprysindeks (PPI) na 4,6% (jaar-op-jaar) gedaal het. Die prima-uitleenkoers het onveranderd op 11,75% gebly.
Die geelmielieprys het in Junie verder gedaal met R219/ton en die maand afgesluit teen R3 782/ton. Die wolmark het versterk met ‘n 3,03%-verhoging in die markaanwyserprys vanaf die laaste veiling in Mei, wat toegeskryf kan word aan ‘n verbetering van 1,86% in die Australiese wolmark. Die aanwyserprys vir gesertifiseerde skoonwol het in Junie teen R170,05/kg gesluit. Die bokhaarmark het ‘n daling in pryse beleef, met die aanwyserprys wat met R8,41/kg gedaal het, maar steeds hoër is as in April. Die aanwyserprys vir Junie het teen R384,21/kg gesluit.
Beeskarkaspryse het in Junie stabiel gebly met ‘n sywaartse beweging. Die maand het afgesluit met ‘n gemiddelde A2-prys van R55,68/kg, ‘n B2-prys van R47,02/kg, en ‘n C2-prys van R43,58/kg. Die gemiddelde speenkalfprys het ook ‘n sywaartse beweging getoon en teen R31,84/kg gesluit, wat sterk korreleer met die tendens in 2018.
Skaapkarkaspryse het in Junie gestyg en volg steeds die opwaartse tendens sedert Mei. Die A2-prys het teen R86,26/kg gesluit, die B2-prys teen R65,26/kg, en die C2-prys teen R60,68/kg. Die gemiddelde speenlamprys het aan die einde van Junie gestyg en bly opwaarts beweeg sedert April, met ‘n sluitingsprys van R41,58/kg.
Klik hier om nog markverslae te lees.
Die prys van klas O-varkkarkasse het in Junie ‘n effense verhoging ervaar, maar bly steeds relatief laag, met ‘n sluitingsprys van R30,61/kg. – Meyer van der Merwe, Siphiwe Tshabalala en WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat.
