Beeste daag mekaar soms uit vir ’n hoër posisie in die kudde-hiërargie.

Estimated reading time: 6 minutes

Orde is oral in die natuur te bespeur. Mens én dier het ’n instinktiewe neiging na orde en hiërargie. In dieregroepe bestaan daar ook ’n rangorde, met natuurlike leiers en volgers, maar, net soos mense, het diere ook die behoefte om mekaar so af en toe uit te daag om te sien wie is baas van die plaas.

By beeskuddes, waar voer of weiding ’n belangrike oorlewingsmeganisme is, kom die rangorde en dominansie van sommige beeste duidelik na vore.

Die stryd om leierskap

In ’n studie deur ’n Franse navorser, Marie-France Bouissou, sê sy dat diere outomaties ’n rangorde bepaal sodra diere van verskillende groepe saamgevoeg word. Die rangorde word binne tien minute nadat groepe saamgevoeg is, bepaal en aggressie speel nie ’n noemenswaardige rol nie. Dit is eerder diere met ervaring in verhoudings, wat as die leier van die trop aangewys word.

Fisiese faktore wat ook bepalend is vir dominante diere, is die teenwoordigheid van horings, ouderdom en gewig.

In sy navorsing oor die gedragspatrone van diere by voerkrippe, het dr Klaas-Jan Leeuw van die Landbounavorsingsraad (LNR) gevind dat een of meer dominante beeste gewoonlik leiding neem in die kudde. Soms sal beeste mekaar uitdaag om hul plek in die hiërargie te bepaal.

“Dit gebeur gewoonlik in die namiddae, wanneer die beeste mekaar op ’n speelse wyse begin stamp of mekaar ry, bokspronge maak en deur die kraal of kamp draf. Op die oog af lyk dit na ’n spelery, maar eintlik is hulle besig om vas te stel waar hulle in die rangorde pas. Die dominante koeie in die kudde is gewoonlik die ouer, ervare koeie en hulle word minder gereeld uitgedaag vir hul posisies.”

Dr Leeuw sê aggressiewe gedrag kom veral voor wanneer diere van verskillende plase in ’n nuwe kudde saamgevoeg word. Diere wat van dieselfde plaas kom, het gewoonlik klaar hul hiërargie gevorm, maar wanneer nuwelinge bykom, moet die proses van vooraf plaasvind. Sy raad in so ’n situasie is om diere van dieselfde geslag en min of meer dieselfde gewigsklas saam te voeg.

In die voerkraal vs. oop veld

Hoewel beeste se gedrag in die voerkraal teenoor die oop veld nie baie verskil nie, sê hy die kwessie van dominansie raak dikwels ’n probleem by die voeding van diere, veral in voerkrale. In die oop veld kan die diere wei waar hulle wil en onderdanige diere word nie deur dominante diere onderdruk nie. Diere vreet in die oggend en die dominante diere sal eerste vir hulself ’n plek kry waar die beste gras is. As hulle voel die onderdanige diere het ’n beter porsie beet, sal hulle wel die diere verjaag om daardie gras te kry.

In die voerkraal is die keuses egter beperk en al die kos word in ’n krip voorsien. Volgens die hiërargie sal die dominante diere eerste vreet en daarna die res, volgens hul plek in die rangorde. “Genoeg voer in die krippe keer dat druk op onderdanige diere geplaas word. Beeste is ook gewoontediere en sal, waar moontlik, altyd binne ’n paar meter op dieselfde plek in die voerkrip vreet,” sê hy.

Die invloed van kripspasie

Kripspasie het nie ’n werklike groot invloed op voerinname nie, maar wel op die aggressiewe manier waarop die dier vreet. Dr Leeuw vertel dat hulle in ’n studie by die LNR se voerkraal in Irene gevind het dat diere minder begin vreet het namate meer kripspasie beskikbaar gestel is. Die hoeveelheid kripspasie was 10, 15, 20 en 25cm. Hulle afleiding was dat die diere meer aggressief begin vreet as die plek waar hulle kos kry, kleiner raak.

Dieregedrag by melkstalle en voerkrale is die opvallendste, omdat almal uit dieselfde krip moet vreet. By velddiere is dit minder opmerklik.

Ondanks die feit dat diere meer aggressief vreet as die spasie krimp, bly voerinname dieselfde. “Hoewel die diere se produksie nie verander as die kripspasie verander nie, het ons wel ervaar dat ander sekondêre probleme kan ontwikkel. Omdat hulle mekaar stamp en stoot by die krip, kan hulle beserings opdoen wat weer tot kneusings op die karkas kan lei as hulle geslag word.”

Kripbestuur en -ontwerp

Dr Leeuw benadruk dat die ontwerp van die vreetplek by ’n voerkraal belangrik is, omdat diere veilig moet voel wanneer hulle vreet en daar genoeg plek vir almal moet wees. Daar is baie teorieë en planne om die vreetplek voldoende te maak, maar die ontwerp van die krip sal nie die diere se gedrag direk beïnvloed nie. Dit is eerder die beskikbaarheid van kos in die krip wat die grootste invloed gaan hê.

Hy sê voerkrale se krippe moet 95% van die tyd gevul wees. As die son op sy hoogste is en die diere nie eintlik vreet nie, kan die krippe vir 30 tot 60 minute leeg gelos word, sodat die son die krippe kan steriliseer.

Om diere veilig te hou, word ’n traliewerk bokant die krip geplaas waardeur die dier net sy kop steek om te vreet. Dit verhoed dat een dier ’n ander binne-in die krip kan stamp.

Ander faktore beïnvloed dieregedrag by die voerkrip. Een daarvan is water. As die water te vuil of die vloei te swak is, kan diere minder vreet en dus minder tyd by die krippe deurbring. Dit verminder dalk die aggressie, maar benadeel prestasie.

“Voergehalte en die aanwesigheid van water, skimmel of vuilheid in die voerkrip sal tot ’n laer voerinname en dus laer prestasie lei, maar dit bring nie noodwendig verandering in die diere se gedrag nie.”

Voerbestuur

Goeie bestuur in ’n voerkraal is dus noodsaaklik. Observasies moet vroegoggend gedoen word om te bepaal hoeveel kos elke kraal moet kry. Alle nat en vuil voer moet dan uit die krip verwyder word. Navorsing toon dat diere skoon, vars kos verkies.

Krippe behoort minstens twee keer per dag volgemaak te word. In die reënseisoen moet minder kos uitgesit word, maar wel meer gereeld. In die somermaande is beeste geneig om meer in die nag te vreet en is dit dus belangrik om meer voer in die namiddag uit te sit.

Wat die voer van veldbeeste betref, sê dr Leeuw dit is beter om vervangingsverse apart te hou, omdat ouer diere die jonges by die krip sal verjaag en vervangingsverse meer voer nodig het as die ouer beeste. Dieselfde geld vir eerste- en tweedekalfkoeie, omdat hulle nog nie hul volwasse gewig bereik het nie.

Dit is egter nie altyd moontlik om verskillende troppe gelyktydig aan te hou nie. Daarom is dit wenslik om genoeg kripspasie te hê, sodat jou veldbeeste ook almal gelyk kan vreet.

“Voerbestuur moet rondom die hiërargie van die kudde beplan word. As dit reg bestuur word, sal hierdie gedragspatrone nie die produksie van die diere beïnvloed nie. Die belangrikste is dat daar genoeg kos vir die diere moet wees, sodat aggressie nie ’n probleem raak nie,” sê dr Leeuw. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Klaas-Jan Leeuw by 072 567 4089. Vir bronverwysings, stuur ’n epos aan die outeur by koos@plaasmedia.co.za.

Boerbokmark, grain, acidosis, mikotoksiene
,hartwater, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom