Estimated reading time: 4 minutes
Die gebruik van honde op ’n veeplaas, vertel Bruce MacLarty, kan die boer geweldig help in die doeltreffende hantering van sy kudde. Honde is doodgewoon vinniger en handiger as mense om vee bymekaar te maak en troppe te manipuleer.
Kyk ‘n video oor die Australiese beeshond of lees meer hoekom ‘n beeshond jou beste vriend kan wees.
Die MacLartys boer in die Elandslaagte-omgewing, tussen Ladysmith en Newcastle in KwaZulu-Natal, op die plaas The Knapp.
“Ons is in die eerste plek beesboere (sowat 500 koeie), maar is ook besig om ons Dohne Merino-kudde op te bou (tans sowat 300 ooie) omdat ons ’n baie goeie afset vir ons skape het. Maar ons gebruik ons honde vir beide die beeste en die skape. Om die waarheid te sê, ek sal nooit weer sonder ’n goeie skaaphond wil wees nie.”
Leerskool met Kyle
Toe hulle sowat 25 jaar gelede plaas toe gekom het, het Bruce reeds beplan om honde te gebruik. Toe hy dus ’n ou Border Collie genaamd Kyle as ’n geskenk kry wat ’n kompetisie-agtergrond gehad het, wou hy graag leer om met die hond te werk. Die eienaar het die basiese bevele op ’n stuk papier neergeskryf en vir Bruce gesê die hond sal die res doen en hom sommer in die proses leer ook.
“Dis hoe dit was. Ou Kyle het my geleer en gewys hoe onontbeerlik ’n goeie hond vir ’n veeboer kan wees. Destyds het ek aan my veewagter, Ambrose Mtshali, gesê hy moet ook honde gebruik, maar hy was ’n tradisionalis en het geglo dat hy baie beter kan doen met ’n sweep en ’n goeie perd. Dit was egter nie lank nie of Ambrose het my gevra of hy sy eie twee hondjies kon kry. Van toe af was Ambrose ’n geswore skaaphond-man.”
Een van die heel belangrikste beginsels om suksesvol met skaaphonde te werk, glo Bruce, is om te verstaan hoe die hond se instink werk en wat hy dus geprogrammeer is om te doen of nie te doen nie.
“Skaaphonde is geselekteer om te gaan haal. Hulle is nie aanjaaghonde nie, hulle is bringers. Die tradisionele aanjaaghonde is die Australiese beeshond en die Nieu-Seelandse Huntaway. Maar dit beteken nie dat skaaphonde nie ook geleer kan word om aan te jaag nie. Sommige verstaan dit net vinniger as ander.”
Afrigting
Daar is baie inligting beskikbaar oor hoe om skaaphonde af te rig en met hulle te werk. Die Skaaphondvereniging het byvoorbeeld baie goeie DVD’s wat mens by hulle kan bestel. Omdat die honde so opleibaar is, kan mens jou hond werklik na jou hand leer. Daar is geen vaste stelsel wat gevolg moet word nie.
Met ’n goeie hond kan een man die werk van drie manne te perd doen, en in ’n baie vinniger tyd.
“Dis nie ongewoon om Ambrose se twee honde te sien vee bymekaarmaak in een kamp terwyl hy self nog twee kampe weg is, op pad na die kamp toe, nie. Die doeltreffendheid van die honde is net ongelooflik.”
Hoewel sekere honde meer aangelê is om met beeste of met skape te werk, sê Bruce, kan jy jou hond leer om met albei te werk. Die skaaphond is sagter en stiller met baie sterk oogkontak met die skape. Die tipiese beeshond werk gewoonlik in pare en sal nie skroom om ’n bees aan te vat en selfs aan die neus te byt nie. Die ideaal is natuurlik ’n hond wat met albei kan werk.
“Hier in ons wêreld is dit niks vreemds om agter ’n trop beeste in die pad te ry en net twee honde te sien wat die trop aanjaag nie. As jy dan by die trop verbygaan, sien jy doer voor in die pad ry die veewagter vooruit op sy perd.”