Die veranderende Suid-Afrikaanse volstruisbedryf

219

Estimated reading time: 7 minutes

  • Die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf is die wêreldleier in terme van toegang tot uitvoermarkte, produkontwikkeling, naspeurbaarheid, dierewelsyn en gefokusde navorsing.
  • Die volstruisbedryf het ontwikkel uit ’n agtergrond waarin mode ’n sleutelrol speel.
  • Die hedendaagse volstruisbedryf is steeds op uitvoere geskoei. Vleis, vere en leer word uitgevoer waarvan die laaste twee vir eksklusiewe markte in die modeomgewing bestem is.
  • Vandag word die bedryfstelsels in ’n streng gereguleerde omgewing toegepas.
  • Volstruisgedrag kan teenoor mense moontlik verbeter word deur genetiese seleksie en/of ’n verandering in boerderypraktyke.

Die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf is die wêreldleier in terme van toegang tot uitvoermarkte, produkontwikkeling, naspeurbaarheid, dierewelsyn en gefokusde navorsing.

Die volstruisbedryf het ontwikkel uit ’n agtergrond waarin mode ’n sleutelrol speel. Daarbenewens is innoverende strategieë gevolg om nuwe markte vir leer, vere en vleis te ontsluit. Hierdie innovasie en dryf tot toegang tot uitvoermarkte lei tot noue vennootskappe met verskeie handelsvennote.

In die verlede is volstruise vir hul vere gejag, maar hierdie praktyk was nie volhoubaar nie. Gou is drade gespan en lusern aangeplant. Daarmee saam het tegnologiese verwikkelinge in 1869 vir broeikaste gesorg en teen die vroeë twintigste eeu was volstruisprodukte Suid-Afrika se vierde-grootste uitvoerproduk.

Spesifieke teelprogramme met ingevoerde genetiese materiaal uit Noord- en Oos-Afrika het bygedra tot verbeterde veerkwaliteit, reproduksie-seleksie en hanteringsgemak. Gevolglik het die bedryf ’n verdere hupstoot ontvang tot vestiging en uitbreiding.

Ekonomiese aspekte

Mode- en nisprodukte, waarvan volstruisvere deel uitmaak, ondervind dikwels piek- en inplofsiklusse. Gevolglik het die volstruisbedryf verskeie sulke siklusse ondergaan as gevolg van politiese en ekonomiese druk waarby dit deurlopend moes en steeds moet aanpas.

Die hedendaagse volstruisbedryf is steeds op uitvoere geskoei. Vleis, vere en leer word uitgevoer waarvan die laaste twee vir eksklusiewe markte in die modeomgewing bestem is. Veral die uitvoer van vleis se voorsprong lê in die beskikbaarheid van groeiende markte en stabiele pryse vir markte wat op soek is na eksotiese en gesondheidsprodukte.

Lees meer oor die Suid-Afrikaanse volstruisleerbedryf.

Die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf het sedert sy ontstaan skommelinge in die mark ervaar, omdat daar skielike veranderinge in vraag en aanbod was, wisselkoerse verander het, en siektes uitgebreek het. Ten spyte van al hierdie uitdagings neem die plaaslike volstruisbedryf wêreldwyd die voortou.

Stelsels vir volstruisproduksie

In die verlede kon volstruisprodusente verskeie produksiestelsels implementeer. Hierdie stelsels was egter gefragmenteer en volstruise is na gelang van beskikbaarheid van lusernweiding en vir finale afronding verskuif.

Die risiko wat sulke gefragmenteerde stelsels in terme van die potensiële verspreiding van siektes en moeiliker naspeurbaarheid inhou, het tot geïntegreerde spesialisstelsels gelei. Hierdie stelsels streef om produksie te optimaliseer, maar steeds naspeurbaarheid, oorsprong, gesondheidstatus en siektemonitering te benadruk.

Vandag word die bedryfstelsels in ’n streng gereguleerde omgewing toegepas. Alle kommersiële volstruiseenhede val onder direkte oorsig en toesig van die staatsveearts. Gereelde monitering en bewegings gegrond op ’n permitstelsel nadat ’n negatiewe toetsuitslag verkry is van die trop en plaas, word aan individuele identifikasie gekoppel.

Navorsing as hulpmiddel

Die bedryf se navorsingsprojekte op produksieparameters (soos vrugbaarheid) gaan voort, maar verwerkers identifiseer deurentyd spesifieke behoeftes wat tot verhoogde uitvoere kan bydra.

Dieregesondheid en die meegaande status wat daaraan gekoppel is, is vir handelsvennote baie belangrik. Die volstruisbedryf is die eerste om ’n spesifieke hitteproses, soortgelyk aan pasteurisasie, in rooivleis, te gebruik om die risiko van siekte-oordrag te voorkom.

Daar is ook uitgebreide navorsing wat op vleisgehalte en nuwe, innoverende produkontwikkeling gedoen word. Hierdie suksesse kan net bereik word met navorsers en instansies wat entoesiasties en gemotiveer die landbou ondersteun.

Insameling van vere

Benewens die voorafgenoemde, word daar ook navorsing oor dierewelsyn gedoen. Navorsers verbonde aan die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Universiteit Stellenbosch is besig om navorsing op manlike en vroulike teelvolstruise op die departement se Oudtshoorn Navorsingsplaas te doen. Die studie ondersoek die effek van verskillende vere-insamelingspraktyke op die gesondheid en welstand van volstruise. Die studie word befonds deur die deur die Navorsings- en Tegnologiefonds.

Aangesien die liggaam ’n fisiologiese reaksie tydens periodes van stres of immuunuitdagings toon, kan witbloedselle gebruik word om so ’n reaksie te meet. Bloedsmere word gebruik om die verhoudings van verskillende witbloedselle te ondersoek. Die verhouding tussen twee tipes witbloedselle, naamlik heterofiele en limfosiete, kan aandui of ’n dier stres ervaar.

’n Hoë verhouding van heterofiel tot imfosiet (H:L) dui op hoë vlakke van stres en is voorheen suksesvol gebruik om stres by voëlspesies te meet. Daarom is bloed versamel van volstruise wat aan verskillende vere-insamelingspraktyke onderwerp is en bloedsmere is voorberei om die effek van behandeling op die H:L-verhoudings te bepaal.

Volgens die voorlopige resultate was daar geen effek op die H:L verhoudings tydens vere-insameling nie, wat daarop dui dat die diere nie hoë vlakke van stres ervaar het as gevolg van vere-insameling nie. Dit het wel gelyk of die mannetjies hoër H:L-verhoudings as wyfies getoon het. Dit is waarskynlik omdat mannetjies meer aggressief is en oor die algemeen moeiliker is om te hanteer as wyfies. Hierdie resultaat stem ooreen met soortgelyke navorsing wat op hoenders gedoen is.

Hierdie voorlopige resultate het aangedui dat hanteringstyd H:L-verhoudings kan beïnvloed. Meer studies, met gestandaardiseerde hanteringstye, is nodig om die resultate te bevestig.

Navorsing oor hantering

Die volstruise se wilde en onvoorspelbare gedrag asook ‘n gebrek aan duidelik uiteengesette bestuurspraktyke, het in die verlede die verhouding tussen volstruise wat in kommersiële stelsels grootgemaak is en mense bemoeilik. Ten spyte hiervan toon sommige voëls egter ’n gewilligheid om met mense te assosieer.

Onlangse literatuur het voorgestel dat omvattende menslike sorg kort na die uitbroei van kuikens tot verskeie voordele gelei het. Daarom kan volstruisgedrag teenoor mense moontlik verbeter word deur genetiese seleksie en/of ’n verandering in boerderypraktyke. Gevolglik het die navorsers verbonde aan die Wes-Kaapse Departement van Landbou die effek van vroeë mens-volstruisinteraksies op gedragsreaksies teenoor mense later in volstruise se lewe geëvalueer, terwyl dit ook oorerflikheid vir gedragsreaksies teenoor mense beraam het.

Die navorsers het drie soorte interaksies onder jong voëls op groepvlak waargeneem. Die eerste is dat sommige voëls ’n bereidwilligheid toon om ’n mens te nader, die tweede is dat aanraking toegelaat word, en die derde is dat voëls hulle afstand hou. Daarbenewens is oorerflikheid vir die aangetekende gedragseienskappe beraam.

Die studie het bevind dat voëls wat aan omvattende menslike teenwoordigheid en sagte hantering blootgestel is, meer geneig was om mense te nader en aanraking toe te laat in vergelyking met standaard- en pleegvoëls.

Boonop was voëls wat aan menslike teenwoordigheid en sagte hantering blootgestel is, meer gewillig om met ’n bekende mens interaksie te hê as ‘n onbekende mens wat nooit die voëls hanteer het nie. Oorerflikheidsberamings van meer as 50% vir die drie soorte interaksies is aangeteken.

Resultate van hierdie studie dui daarop dat die mens-volstruisverhouding verbeter kan word deur omvattende menslike teenwoordigheid en gereelde sagte hantering in die boerderypraktyke vir volstruiskuikens te integreer, asook deur seleksie vir gewenste gedrag. Seleksie van voëls wat bereid is om met mense te assosieer kan die makmaak van die spesie op die langer termyn versnel.

Verdere navorsing behoort op genetiese korrelasies van temperament-eienskappe met ander eienskappe van ekonomiese belang te fokus.

Navorsing op hittestres

Ander navorsing deur navorsers verbonde aan die Wes-Kaapse Departement van Landbou en die Universiteit van die Witwatersrand fokus daarop om tegnieke vir omgewingsverryking te vind wat vir die grootmaak van volstruiskuikens onder hoë temperature gebruik kan word.

Volstruise kom in droë en semi-droë gebiede voor, waar hulle sonder baie skaduwee in die warm somerwoestyntoestande rondloop. Daarom moet kommersiële boerderypraktyke die voëls in staat stel om hul liggaamstemperatuur aan te pas en te bestuur volgens die omgewingstoestande waaraan hulle in ’n ekstensiewe stelsel blootgestel word.

Die volstruisbedryf ondervind talle uitdagings, insluitend die optimalisering van kuikenoorlewing. Omdat volstruise meestal buite grootgemaak word, kan klimaatsverandering hulle meer beïnvloed as ander pluimvee wat onder omgewingsbeheerde toestande binnenshuis grootgemaak word. Daar is gevolglik ’n toenemende behoefte aan inligting oor hoe om die kommersiële boerdery-omgewing te bestuur en te verbeter.

Hittestres is ’n werklike bekommernis gedurende die somer. Navorsing ondersoek hoe die verskaffing van verskillende vlakke van kunsmatige skaduwee en die byvoeging van ’n misverkoelingstelsel die prestasie van volstruiskuikens gedurende die somer beïnvloed. Die eerste eksperiment het gekyk na skaduvoorsiening vir kuikens met twee tipes skadunet (50 en 95%).

Die eksperiment se voorlopige resultate het getoon dat kuikens met vrye toegang tot die 50% skadunet, meer termoregulering getoon het in vergelyking met dié met toegang tot 95% skadunet. Kuikenoorlewing was hoër in die 95%-skadunetgroepe as in die 50%-skadunetgroepe. Hierdie voorlopige resultate dui daarop dat die omgewing op so ’n manier verryk kan word om termoregulering moontlik te maak en welsyn te verbeter.

Meer ondersoeke word gedoen om die effek van hittestres op die fisiologie van volstruiskuikens te bepaal. Hierdie ondersoeke kan lig werp op die verskille wat met wisselende vlakke van skadunet waargeneem word. – Renate Louw, Veeplaas

Vir meer inligting oor die bedryf, kontak die Suid-Afrikaanse Volstruissakekamer by info@saobc.co.za of kontak Renate Louw by renate@plaasmedia.co.za vir bronverwysings.