Monday, March 10, 2025

Die Swartlandskou vier 90 jaar

Estimated reading time: 8 minutes

Die Swartland-skou op Moorreesburg het in September sy 90ste verjaarsdag gevier. Die skou is die grootste landbouskou in die Wes-Kaap en is bekend vir sy sterk vleisbeesafdeling, waar meer as 300 vleisbeeste in verskillende klasse vanjaar teen mekaar meegeding het en ’n groot perde-afdeling waar meer as 400 Hackney-, Vlaamse en Saalperde in verskillende klasse vertoon is.

Ander afdelings was ’n Merino- en SA Vleismerino-skou, ’n pluimveeskou, ’n jeugskou waaraan meer as 200 kinders deelgeneem het en ’n landbou-oggend wat deur meer as 400 landbouers bygewoon is. Meer as R300 miljoen se masjinerie is vanjaar uitgestal.

Van links is Coenie de Beer van Standard Bank, Jacques Bester, voorsitter van die Swartland-skou, Norman Cilliers, uitvoerende hoof van Afgri, en Julianna Riddles van Standard Bank.

Skou met gesonde hartklop

Die Swartland-skou se 90ste verjaardag is tydens ’n spesiale geleentheid gevier waar spesiale erkenning gegee is aan organisasies, maatskappye en individue wat ’n groot rol in die sukses van die skou gespeel het.

Jacques Bester, voorsitter van die Swartland-skou, het by die verjaardagvieringe gesê Moorreesburg se gemeenskap is die hartklop van die Swartland-skou. “Dit is die lekkerte van menswees om in Moorreesburg te skou. As jy die mense ken, dan trek hulle jou in en as jy deel geraak het, spoeg die gemeenskap jou nie weer uit nie.”

Volgens Bester is die skou se bestuur dinamiese mense vol energie wat dinge laat gebeur. “Almal doen dit uit die liefde vir die dorp. Die bestuur probeer om elke jaar ’n bietjie beter doen. Ons jaag nie iets na wat onbereikbaar is nie, maar glo in groei. Ons moet wys waarheen ons op pad is en in die proses die landbou bevorder en ook die hele gemeenskap betrek.”

Hy het sy dank uitgespreek teenoor die huidige bestuur wat baie van hul eie tyd insit sonder dat hulle vergoed word. “Die Swartland-skou het ’n gesonde hartklop.”

  • Van links is Boffie Strydom, burgemeester van die Weskus-distriksmunisipaliteit, Jacques Bester, voorsitter van die Swartland-skou, Pierre Vlok van BKB, Herold Cleophas, burgemeester van die Swartland-distriksmunisipaliteit en Sherí Fourie van BKB.

Belegging in landbou werp vrugte af

Norman Cilliers van Afgri het tydens die geleentheid gesê die skou se bestuur kan baie trots wees op hulself. By ’n geleentheid soos die Swartland-skou is dit gewoonlik ’n klein groepie mense wat hande vat en sekermaak dat die geleentheid plaasvind en ’n groot sukses daarvan maak.

Landboumaatskappye soos Afgri is afhanklik van boere se bestaansreg. As boere goed doen, doen landboumaatskappye ook goed. Afgri se posisionering is om die realiteit van minder boere te aanvaar en om seker te maak die maatskappy kan meer saam met die minder boere doen.

“Ons moet in gemeenskappe en in geleenthede soos die Swartland-skou belê. Deur dit te doen, is daar hopelik nog verskeie generasies boere op die plase en het ’n maatskappy soos Afgri nog verskeie generasies om mee besigheid te doen in die landbou,” het Cilliers gesê.

Breyton Milford van Agri-Expo het by die geleentheid gesê waar dit met skoue goed gaan, daar gaan dit ook met die dorpe goed. Op dorpe waar nie meer skoue is nie, trek die gemeenskappe nie meer lekker saam nie. “Die Swartland-skou is ’n voorbeeld van ’n dorp (Moorreesburg) wat saamtrek om die skou te help bou.”

  • Van links is Hans Burger en Leon de Klerk van Voermol, Jacques Bester, voorsitter van die Swartland-skou, Marné Anderson van Plaas Media en Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo.

Landbou-oggend wys groot geleenthede wag

Die landbou-oggend wat elke jaar tydens die Swartland-skou gehou word, is vanjaar deur ongeveer 400 produsente en ander rolspelers in die landbou bygewoon. Die tema van die seminaar was “Landbou in 2025: Waarheen is ons op pad”. Plaas Media is die mediaborg van die Swartland-skou se landbouseminaar.

Sean Walsh, uitvoerende hoof van die Kal-groep en ook voorsitter van Agbiz, het gesê die landbou het nou ’n massiewe venster van geleenthede om landbou te verander. “Alles is in plek om oor die lang termyn ’n verskil te maak. Georganiseerde landbou se organisasies word nou gereeld gevra om bydraes vir onderhandelings te maak en is bevoeg en in die regte posisie om ’n verskil te maak.

“Die geleentheid om ’n groot verskil te maak, plaas ’n groot verantwoordelikheid op ons as bedryfsleiers. Ons moet dit nie misbruik nie en verseker dat ons oor die lang termyn ’n volhoubare toekoms vir die land en die landbou skep.”

  • Die paneel by die landbou-oggend was, van links, dr Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), Sean Walsh, uitvoerende hoof van die Kal-groep en voorsitter van Agbiz, en dr Dirk Strydom, besturende direkteur van Nampo. Saam met hulle is Daneel Rossouw, regs, funksionele hoof van landbou by Nedbank se verhoudingskanale. Nedbank, die Kal-groep en Graan SA is die borge van die geleentheid. Plaas Media is die mediaborg.

Fokus op die werklikhede

Dr Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het gesê produsente en ook landboubesighede is geneig om so na die horison te kyk om te bepaal waarheen hulle op pad is, dat hulle struikel oor die klippe wat reg voor hulle lê. “Dit is moeilik met al die geraas van buite, maar produsente en besighede sal moet fokus op die werklikheid, op dit wat voor hul voete gebeur, soos faktore wat pryse beïnvloed en uitsette duurder maak.

“Organisasies soos Graan SA en die RPO kan ’n groot deel van hierdie geraas van buite hanteer, maar kan nie op plase ’n verskil maak nie. Die produsent moet self voor sy voete kyk en seker maak hy struikel nie.”

Benut die geleenthede

Dr Dirk Strydom, besturende direkteur van Nampo, het gesê kommoditeite soos graan en vleis beweeg altyd deur siklusse. Die geheim is om deur die siklusse te kom. Die huidige lae pryse is ’n wêreldwye tendens. Iewers moet die stelsel homself regstel. Die geheim is om aan die voorpunt te bly om die geleenthede te benut as daar ’n regstelling kom.

“Ons weet Suid-Afrika het sy probleme, maar dit skep groot geleenthede. Ons het moeilike tye, maar as ons deurdruk en deur die huidige moeilike siklus kom, kan ons die geleenthede wat daaruit voortvloei, benut.”

Landbou doen goed

Daneel Rossouw, funksionele hoof van landbou by Nedbank se verhoudingskanale, het gesê daar moet nie net na landbou se prestasie oor die kort termyn gekyk word nie. Met al die vloeibaarheid in die landbou, het landbou oor 20 jaar in terme van groei die res van die ekonomie met minstens een persentasiepunt uitgestof.

Suid-Afrika is ’n netto uitvoerder van landbouprodukte. “Ons totale handelsoorskot vir 2023 was R112 miljard. Dit is heelwat beter as in 2022. Eintlik gaan dit nie sleg in die landbou nie. Ons doen regtig goed.”

Swartland spog met van beste vleisbeeste in SA

Meer as 400 vleisbeeste van verskillende rasse (Swart en Rooi Angus, Simmentalers, Santa Gertrudis, Charolais en Afrikaner) neem elke jaar aan die Swartland-skou se vleisbeesafdeling deel. As gevolg van die gevaar van bek-en-klouseer is vanjaar net sowat 300 beeste vertoon.

Andrew Masterson, beoordelaar van die interraskampioenskap by die vleisbeesafdeling, het gesê die Swartland-skou spog met goeie geriewe vir vleisbeeste en ’n ongelooflike atmosfeer en samesyn. Die gehalte van die diere was deurgaans baie goed.

Hy het gesê al is Moorreesburg aan die suidwestelike punt van die land wat nie veronderstel is om beeswêreld te wees nie, is die standaard van die beeste in die Swartland uitstekend. “Ek nooi telers van enige ras uit die res van die land om Swartland toe te kom om te kyk vir genetiese materiaal. Dit is na my mening van die beste diere in die land.”

Die opperste kampioen interrasbul van die skou is die Santa Gertrudisbul, XX 2014 Skymountain, van Franco Koch, Kochbo Santa’s, Moorreesburg. Masterson het gesê al dra die bul ’n ongelooflike klomp vleis, was dit die mees atletiese bul in die interraskampioenskap. “Die bul behoort wyd oor die land gebruik te word.”

Die opperste kampioen interraskoei is die Anguskoei, Locheim 21 38, van Philip de Waal se Locheim Angusstoet, Moorreesburg. Volgens Masterson is sy baie naby aan ’n foutlose koei. “Dit is nie ’n baie groot koei nie, maar die koei is korrek, vroulik en het ’n uitstekende uier. Sy beweeg maklik en is die tipe koei wat baie goed sal teel.”

  • Die Santa Gertrudisbul, XX 2014 Skymountain, is as die senior kampioen interrasbul aangewys. Die eienaar is Franco Koch van Kochbo Santa’s. Saam met hom is sy vrou Elné en seun Danie Koch.
  • Die kampioen Fase D-bul in die interrasafdeling, BMH 220119, is deur Bertus Mong se PP Mong Trust van Villiersdorp vertoon. Van links is Maronel Groenewald en Tanya Beukes, onderskeidelik tweede en eerste skouprinses, en Fachulyn Kotze, bestuurder van die PP Mong-stoet.

Skeerkompetisie nou deel van kleinvee-afdeling

In die kleinvee-afdeling van die Swartland-skou op Moorreesburg is vanjaar met sowat 250 Merino’s en SA Vleismerino’s geskou. Jannie Durr, hoofsameroeper van die kleinvee-afdeling, sê buiten die twee rasskoue, was daar ook ’n slaglamkompetisie en is vir die eerste keer skeerkampioenskappe aangebied waar sowat 70 deelnemers 300 skape geskeer en die wol geklas het.

Wes-Kaapse Merino-kampioenskap

Altesame nege telers met 146 skape het aan die Wes-Kaapse Merino-kampioenskap deelgeneem. Die vertoners wat deelgeneem het, is Johannes Groenewald van Jolo Merino’s, Riversdal, Hennie Geldenhuys van Koringplaas Merino’s, Riversdal, Uysie Willemse van Goedeverwachting Merino’s, Heidelberg, Johan Kotzé van Korhaansrug Merino’s, Moorreesburg, Adriaan Geldenhuys van Uitkyk, Riversdal, Adam van As van die Van As-broers se Kinko Merino’s van Swellendam, Jan en Hennie de Villiers van Koringland Merino’s, Moorreesburg, Eric Louw van Houmoed Merino’s, Moorreesburg, en Eben Schellink van Swartland Merino’s, Hermon.

Die vertoner wat die meeste punte op die skou behaal het, is Johan Kotzé van Korhaansrug Merino’s, Moorreesburg.

  • Magdel Mostert, middel, die sameroeper van die Merino-afdeling op die skou, saam met, van links, Hans Burger van Voermol, aankondiger, Cecilia Fourie van BKB, inweegbeampte, Pieter Groenewald van OVK, beoordelaar, Riaan Rabe van OVK, ringbeampte, Keith Coetsee van BKB, beoordelaar, en Pierre Vlok van BKB, beoordelaar.
  • Die kampioenram met die beste wol is deur Jan en Hennie de Villiers van Koringland Merino’s, Moorreesburg, ingeskryf. Van links is Wicus Taljaard, ABEBiotech, borg, Hennie en Kleinjan de Villiers, en Carlo Benjamin, hanteerder.

Super 10 SA Vleismerino-kampioenskap

Meer as 100 diere van agt telers het aan die Super 10 SA Vleismerino-kampioenskap deelgeneem. Die telers wat deelgeneem het, was AJ van Wyk van Vetkragga-boerdery, Riversdal, Nickie Pienaar van De Klip SA Vleismerino’s, Vredenburg, Du Toit Cillié van Agterland SA Vleismerino’s, Porterville, Jan du Toit van Vlakkerug SA Vleismerino’s, Riebeek-Kasteel, Hannes Kotzé van Alexandershoek SA Vleismerino’s, Moorreesburg, Suzanne Kotzé van Bastion SA Vleismerino’s, Moorreesburg, Jean Cillié van Agterland SA Vleismerino’s, Porterville, en Riana Cillié van Agterland SA Vleismerino’s, Porterville.

Hannes Kotzé van, Alexandershoek SA Vleismerino’s, Moorreesburg, het die Victor Ludorum-trofee ontvang en is ook as die Teler van Ram- en Ooikampioene aangewys.

  • Die kampioen-superramlam is deur Luzanne Kotzé, links, van Bastion SA Vleismerino’s, Moorreesburg, vertoon. Saam met haar is Donovan Syster, hanteerder.
  • Die reserwe junior kampioenram is deur Jannie du Toit, links, van Vlakkerug SA Vleismerino’s, Riebeek-Wes, ingeskryf. Saam met hom is die hanteerder, Leroy Solomons.

Die bestuur van somatiese seltelling in melkbeeste (Deel 1)

Estimated reading time: 5 minutes Hoë somatiese seltelling (SST) in melkkoeie is ’n simptoom van...

On buying a cheaper Chinese vehicle

Estimated reading time: 4 minutes Gert, our farm mechanic, often gets consulted by young staff...

The future calf in mind: Supplementation of beef cows

Estimated reading time: 5 minutes The nutritional requirements of beef cows change as they proceed...

Laat die beeste die praatwerk doen

Estimated reading time: 7 minutes Hulle is aangewys as KwaZulu-Natal se Jongboer van die Jaar...