Estimated reading time: 6 minutes
- Sybokhaar in Suid-Afrika word hoofsaaklik ekstensief geproduseer in die suidoostelike en westelike gebiede, waarvan groot dele as semi-woestyn gereken word.
- Fred Colborne van FEC Farming skryf sy sybokhaarboerdery aan deursigtigheid, goeie besluitneming en ekonomiese bestuursmetodes toe.
- Fred se Angora-boerdery fokus baie streng op diere wat die ‘oog vang’ en veral die ramme wat hulle vir hul Colborne Angora-stoet terughou. “Ons bokke moet ’n uitstaande vag en bouvorm met diepte van lyf hê,” sê hy.
- Die meeste bokhaareienskappe is subjektief. Daarom doen hulle hand-en-oogbeoordeling op die bokke waarna die vesel deur die kopers ontleed word.
- Dit is Fred se ondervinding dat die diere wat aanpas op die grond waarop ’n produsent boer, die diere is wat ’n mens op die ou end op die plaas sal hou.
Sybokhaar in Suid-Afrika word hoofsaaklik ekstensief geproduseer in die suidoostelike en westelike gebiede, waarvan groot dele as semi-woestyn gereken word. Daarom neem dit ’n besonderse Angora-produsent om ’n kleinbokkiehaar-wêreldrekord los te slaan in die nadraai van ’n uitmergelende droogte in die Grootriviervallei van Willowmore.
Fred Colborne van FEC Farming is vroeër vanjaar die hoogste prys ooit by ’n openbare veiling (Zegna-kompetisie uitgesluit) vir ’n baal superstyl kleinbokkiehaar aangebied. Die baal, BSFFK, is vir R1 051/kg aan Vitale Barberis Canonico Fabrics in Italië verkoop. Veeplaas het saam met OVK ’n draai op Fred se plaas, Kilborne, gemaak om met dié Angorabok-produsent te gesels oor sy prestasie en meer te wete te kom van enkele tegniese aspekte wat tot sy boerdery se sukses bydra.
Bou voort op ’n nalatenskap
Fred skryf sy boerderysukses aan deursigtigheid, goeie besluitneming en ekonomiese bestuursmetodes toe. Met sy voete stewig op die aarde, deel hy ook graag sy kennis met ander. Hy glo dat die Suid-Afrikaanse Angora-bedryf vandag in ’n goeie plek is en selfs nog beter vaar as twee of drie jaar gelede.
Die storie van Angora-bokke het by sy oupa, Frederick Colborne, begin. Frederick was die eerste produsent in hul familie om met Angoras te boer. Hy is gevolg deur sy seun, Billy, en toe Fred as die derde generasie. Fred het soveel as moontlik van die ras by sy pa en oom, Neville Colborne, geleer. Hy sê sonder skroom dat Angora-bokke baie aandag verg en dat dit nie aldag maklik is om sekere doelstellings met jou kudde of stoet te bereik nie. In sy eie woorde: “Verskeie faktore moet deurgaans in ag geneem word, waaronder die weersomstandighede, voeding en voorbereiding van bokhaar wat al drie maande voor skeertyd begin.”
In dieselfde asem praat Fred met groot lof van Cassie Carstens wat ’n groot aandeel in hul sukses het deurdat hy die boerdery vir 30 jaar as ’n senior tegniese veldbeampte van OVK bygestaan het.
Lees meer oor die suksesvolle Jackson Angora-sybokhaarstoet.
Slim lesse wat ’n premie lewer
Seleksie: Fred se Angora-boerdery fokus baie streng op diere wat die ‘oog vang’ en veral die ramme wat hulle vir hul Colborne Angora-stoet terughou. “Ons bokke moet ’n uitstaande vag en bouvorm met diepte van lyf hê,” sê hy. “Alhoewel die bedryf neig om meer haar te produseer, selekteer ons nie vir diere wat te veel vesel dra nie, omdat dit gewoonlik die diere is wat die vinnigste kondisie sal verloor en swakker reproduseer. Ons hou ook streng by seleksie vir vrugbaarheid, sodat ons goeie reproduserende diere het met die soort moedereienskappe waar ’n ooi jaarliks ’n kleinbokkie sal gee en grootmaak.”
Klassering: Diegene wat saam met Fred werk, vind hom gedurende skeertyd feitlik permanent in die skeerhuis waar hy self al die bokhaar klas. Hy het by sy oom, Neville, geleer om bokhaar te klas en beskou die skeerskuur as ’n geen-nonsens area waar sake reg moet verloop.
Vra ‘n mens hom daaroor uit, antwoord hy dat die waarde van goeie skeerselvoorbereiding iets is waaroor daar nie genoeg gepraat word nie. “Daar is baie produsente wat goeie gehalte bokke het, maar diegene wat die bokke se voorbereiding voor skeertyd afskeep, maak beslis minder geld as iemand wat die diere vooraf in ouderdomsgroepe klas, ondersoek instel na haarbesoedeling, en die bokke was en plaas waar hul vesel nie so maklik vuil sal raak nie. Ons bokke word ongeveer drie maande voor skeertyd al voorberei, soos om hulle te mikskeer. As ’n dier reeds skoongemaak is, sal ons alles van nuuts af doen indien dit nie die eerste keer gewerk het nie.”
Die meeste bokhaareienskappe is subjektief. Daarom doen hulle hand-en-oogbeoordeling op die bokke waarna die vesel deur die kopers ontleed word. “Een van die belangrikste aspekte van ’n Angora-bok is ’n soliede stapel, goeie kartel en ’n egalige vag aangesien die kopers altyd goeie vaglyne sal raaksien, wat vir ’n hoër premie sal sorg. ’n Mens moet onthou dat jou bokhaar se gehalte van jaar-tot-jaar sal verskil en daarom is goeie bestuur by klassering van kritiese belang.”
Infrastruktuur: Volgens Fred is dit glad nie so maklik om vanuit ’n ander vertakking soos skape, oor te gaan na Angoras nie. “Die infrastruktuur is heeltemal anders by ’n Angora-boerdery as by die meeste ander boerderye. Die bokke hanteer onnodige stres nie goed nie en die dipgeriewe en krale moet in orde wees vir ’n stresvrye omgewing. Goeie gehalte kampheinings maak ’n verskil en behalwe dat daar genoeg dakke vir skuiling teen koue moet wees, moet die kampe vir die ooie en hul bokkies goed ingerig wees.”
Voeding: Fred saai gewasse soos hawer, sorghum, tef en lusern op droëlande. Hy sê dit het ’n hoë risiko aangesien hulle in ’n lae-reënvalgebied geleë is. Dit betaal egter. “Ons het grootliks gemeganiseer en as daar net ’n derde van die gewasse vir die ooie en hul bokkies van die lande afgehaal kan word, betaal dit om te plant.
“My siening is dat diere wat gevoer word nog altyd ’n mate van spanning by die voerbakke verduur en dit is iets wat ’n mens moet probeer vermy. Die bokke sal slegs ekstra voer kry wanneer dit werklik nodig is en dan moet dit ’n topgehalte produk wees.” Die jonger diere word gehou in kampe met sagter en beter plantegroei. Een van die droogtelesse wat Fred geleer het, is om die kleinbokkies op ’n vroeër ouderdom te speen en op kruipvoer te sit.
Lees meer oor geslagspaling met kunsmatige inseminasie hier.
‘n Laaste woord
Dit is sy ondervinding dat die diere wat aanpas op die grond waarop ’n produsent boer, die diere is wat ’n mens op die ou end op die plaas sal hou. “Ons moes van tyd tot tyd al ramme inkoop, maar deur die jare het ons gevind dat die diere wat by ons op die plaas aangepas het, vir ons teelprogram gewerk het. Menslike foute sal altyd insluip en my enigste raad daarvoor is om dit so gou as moontlik reg te stel.” – Carin Venter, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Fred Colborne by 072 678 2156 of colmachounds@gmail.com.