Estimated reading time: 7 minutes

  • Goeie bestuur tydens die eerste 24 uur ná die geboorte van klein varkies is noodsaaklik vir hul oorlewing en lewenslange goeie produksie.
  • ’n Mens moet egter versigtig wees om nie té veel kos te gee of te lank voor die tyd daarmee te begin nie, aangesien die fetusse dan te vinnig swaarder word en geboorteprobleme dan kan ontstaan.
  • In die eerste 24 uur is dit lewensbelangrik dat varkies genoeg biesmelk inkry.
  • Nuwe tegnologie is beskikbaar om die hoeveelheid biesmelk, proteïen, vet, laktose en vastestowwe in elke sog se melk te meet.
  • Dierewelsyn is hoog op Mockford Farms se prioriteitslys.

Goeie bestuur tydens die eerste 24 uur ná die geboorte van klein varkies is noodsaaklik vir hul oorlewing en lewenslange goeie produksie. As die varkies in dié tyd afgeskeep word, raak dit ’n gesukkel om hulle groot te maak.

Bradley Mockford van die bekende Mockford-varkboerdery digby Polokwane, sê die varkies word normaalweg ná 28 dae gespeen. As ’n mens in dié relatiewe kort tyd nalatig is en foute maak, sal die varkies ná speen ook sukkel om optimaal te groei.

Die grondslag vir gesonde, lewenskragtige werpsels word egter al twee weke vóór die varkies aankom gelê, wanneer die sôe ekstra kos gegee word. In hierdie tyd gaan feitlik al die voeding vir die ontwikkeling van die fetusse. As voeding voor jong reg gedoen word, kan die produsent ’n gesonde werpsel van sterk varkies verwag.

Omdat varkies sonder enige immuniteit gebore word, is biesmelk hul enigste bron van belangrike teenliggaampies en noodsaaklike immunoglobulien.

Versorging voor en tydens jong

’n Mens moet egter versigtig wees om nie té veel kos te gee of te lank voor die tyd daarmee te begin nie, aangesien die fetusse dan te vinnig swaarder word en geboorteprobleme dan kan ontstaan. Dit is dus ook belangrik om teelsôe te selekteer wat nie ’n geskiedenis van geboorteprobleme in hul stambome het nie.

Hulle gebruik vyf kraamhuise waarin die sôe sodanig gehuisves word dat almal in dieselfde huis binne een week jong. Sowat 800 tot 1 000 varkies kom elke week aan. Daarna jong die sôe in die volgende kraamhuis. Op dié manier kan die sôe en pasgebore varkies intensiewe aandag vir 24 uur nadat hulle aangekom het, kry. Elke geboorte word aangeteken, en as dit langer as 30 minute vat vir die volgende varkie om aan te kom, word die sog gehelp.

Wat die bestuur van die proses ’n uitdaging maak, is dat die klein varkies warm en die sog koel gehou moet word. Die klein varkies is nie toegerus om direk na geboorte warm te bly nie aangesien hulle nat is, baie min hare het en, omdat hulle so klein is, vinnig liggaamshitte verloor.

Lees meer oor varkvleis verbruik hier.

Die boerdery maak gebruik van verhitte ‘neste’ met warm ligte en verhitte matte op die vloer om die varkies teen ’n temperatuur van 30 tot 35˚C warm te hou. In die gedeelte van die krat waar die sog is, hou hulle die temperatuur tussen 19 en 22˚C. Die varke word op ’n plastiekhortjiesvloer aangehou.

Wanneer die klein varkies aankom, word hulle dadelik eers droog gemaak. Daarna word hulle op ’n speen geplaas om so gou as moontlik biesmelk in te kry. Tydens die proses skreeu die varkies, wat help om hul lugweë goed oop te kry. Daar word baie moeite gedoen om die varkies in dié tyd so rustig as moontlik te hou.

Belangrikheid van biesmelk

In die eerste 24 uur is dit lewensbelangrik dat hulle genoeg biesmelk inkry. Die varkies word sonder enige natuurlike weerstand gebore en kry dus hul weerstandbiedendheid uit die biesmelk. Bradley en sy span mik vir ’n gemiddelde geboortegewig van 1,4kg. Varkies wat minder as ’n kilogram weeg, kry ekstra aandag en daar word toegesien dat hulle minstens elke uur voldoende biesmelk inkry.

Na 24 uur word die varkies gemerk. Die kleiner varkies kry steeds ekstra biesmelk, en vitamiene word deur die bek ingegee om hul immuunstelsels te stimuleer.

Bradley sê pasgebore varkies wat genoeg goeie biesmelk inkry, sal gedy. Omdat varkies sonder enige immuniteit gebore word, is biesmelk hul enigste bron van belangrike teenliggaampies en noodsaaklike immunoglobulien. Dit speel ’n belangrike rol in hul oorlewingsvermoë en prestasie later in hul lewens. Die sog produseer net voldoende biesmelk in die eerste ongeveer twaalf uur nadat sy gejong het, en ná 24 uur produseer sy slegs gewone melk.

Om te verseker dat die varkies nie onnodige spanning ervaar nie, word hul tande nie geknip nie en die beertjies ook nie gekastreer nie. Hulle knip ook nie die naelstringe af nie, maar laat dit eerder toe om droog te word en self af te val. Hierdie praktyk verhoog die ystervlakke in die varkies se bloed. As die varkies drie dae oud is, kry hulle ’n inspuiting om hul ystervlakke verder aan te vul. In die natuur sou hulle die yster uit die grond waarin hulle rondvroetel kry.

Genetika en tegnologie ingespan

Die sôe in hulle boerdery het gemiddeld 16 spene. Die verskaffers van die teelmateriaal wat hulle gebruik, selekteer voortdurend om die getal spene te vermeerder. In die Mockford-boerdery word sôe met minder as 14 spene nie as teeldiere gebruik nie.

Dit gebeur egter gereeld dat groter werpsels as die getal spene wat die sôe het, aankom. Daar was al werpsels van 25 varkies. In sulke gevalle word die varkies in twee groepe verdeel en kry hulle vir die eerste 24 uur om die beurt kans om te suip. Daarna word die sterkste varkies weggevat en aan pleegsôe gegee om groot te maak. Sôe wat minder varkies as spene het, word vir dié doel gebruik.

Van die sôe wat hul varkies gespeen het, word ook ’n week langer in die kraamhuis gehou om van die ekstra varkies groot te maak. Hiervoor word sôe met ’n hoë melkproduksie uitgesoek, gemeet aan die speengewigte van hul werpsel, wat normaalweg sowat 7 tot 8kg per varkie is.

Nuwe tegnologie is ook deesdae beskikbaar om die hoeveelheid biesmelk, proteïen, vet, laktose en vastestowwe in elke sog se melk te meet. Met dié tegnologie kan die hoeveelheid en gehalte van die biesmelk en melk akkuraat bepaal word. Dit kan gebruik word om daardie sôe te identifiseer wat genoeg gehalte biesmelk en goeie melkproduksiepotensiaal het.

Voeding en welsyn van varkies

Die klein varkies moet elke 30 tot 40 minute soog. Soos wat die varkies groter word en kruipvoer begin vreet, sal hulle met groter tussenposes suip totdat hulle 28 dae oud is en gespeen word. Daarna moet hulle ’n gebalanseerde groei- en afrondingrantsoen kry.

Klein varkies leer vinnig om kruipvoer te vreet. Die area waar die kruipvoer beskikbaar is, bied ook ’n veilige omgewing waar die varkies weg van die sog af kan lê.

Mockford se personeel is toegewyd en het ’n passie vir hul werk, sê Bradley. Hulle verstaan hoe belangrik die eerste 24 uur vir die klein varkies se oorlewing en prestasie is, en almal is saam teleurgesteld wanneer ’n werpsel varkies swak vaar. Die spanne word deur Werner Kenmuir gelei, wat hom ten volle daartoe beywer om te verseker dat alles moontlik gedoen word om die beste produksie te bereik, sonder dat dierewelsyn agterweë gelaat word.

Dierewelsyn is hoog op die onderneming se prioriteitslys. Oupa Frank het, toe hy met varke begin boer het, die kratte groter en die huise ruimer gemaak as wat die voorskrifte vereis, om te verseker dat die varke in ’n omgewing aangehou word waar hul produksie nie ingeperk is nie.

Pa Peter het die boerdery verder uitgebrei en dieselfde maatstawwe gehandhaaf. Vandag sit die seuns, Bradley en Shaun, dit voort. Die personeel is almal bewus daarvan dat die welsyn van die varke voorrang moet geniet om maksimale produksie te verseker. Bradley sê hulle is ook baie gelukkig dat hul kuddeveearts, dr Shani van Lochem, dié benadering deel en ten volle ondersteun. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel 015 225 7097 of stuur ’n epos na leanside@mweb.co.za.