Estimated reading time: 6 minutes
Dit gaan goed met die Boran-ras in Suid-Afrika, ondanks uitdagings wat beestelers oor die land heen in die gesig staar. Die ledetal van die Boran-beestelersgenootskap bly stabiel en diergetalle het oor vyf jaar met 40% gegroei. Hierdie sukses was duidelik tydens die genootskap se dinee en nasionale veiling by die Afridome in Parys.
Gerrit Potgieter, wat al vier jaar op die genootskap se raad in die portefeulje bemarking en klubs dien, is as president verkies. Hy neem die leisels by Francois Smit oor, wat uittree en hierdie posisie vir vier jaar beklee het. Potgieter se visie is ’n verlengstuk van die stewige grondslag wat deur sy voorgangers gelê is. Sy fokus is eenheid en ’n gedeelde visie onder Boran-telers om groei te versnel.
Potgieter sê die genootskap se doel is om die kommersiële potensiaal van die Boran verder uit te brei en meer beesboere bewus te maak van sy waarde as ’n winsgewende, langtermynbelegging. Die 40%-groei in vyf jaar bevestig volgens hom dat die ras op die regte pad is. Hy beskou uitdagings soos klimaatsverandering en hoë produksiekoste as konstant, maar glo die Boran is goed geposisioneer om dit te hanteer: Die ras verg min onderhoud, is aanpasbaar, en toon sterk veerkragtigheid en gehardheid. Verder hanteer die ras bosluisladings goed en het goeie siekteweerstand. Potgieter is oortuig daarvan dat die genootskap en sy telers goed vir die toekoms belyn is.
Nasionale veiling bring uitskieterpryse en goeie gemiddelde
Potgieter sê die nasionale veiling is ’n sleutelgeleentheid op die Boran-kalender en dien as die ras se amptelike vertoonvenster. Dit bied telers die kans om hul genetika te wys en topdiere aan te bied. Die veiling skep ’n gelyke platform vir groot én kleiner telers om mededingend te wees en hul kuddes se waarde te toon. Slegs diere wat aan ’n streng keuringsproses voldoen, word toegelaat. Die genootskap handhaaf hoë standaarde om die ras se integriteit te beskerm. Volgens Potgieter is produksieveilings die lewensaar van die Boran. Dis waar nuwe telers begin en kommersiële boere hul kuddes met Boran-bloed versterk.
Ian Grobbelaar, stoetvee-afslaer van Vleissentraal, sê goeie gemiddelde pryse is behaal ten spyte van uitdagende marktoestande. Een van die uitskieters was die bul Hotspot Mufasa, HOT 150034, wat die hoogste prys van R1 miljoen behaal het. Die verkoper was Stompie Olivier van Hotspot Cattle by Ventersdorp. Die kopers was Danie Velthuysen en Yolandie Botha van Iminathi Ranch by Vaalwater. Olivier beskryf dié bul as korrek, gebalanseerd, en waardevol vir enige kudde. Dit is ’n goed beproefde bul met baie karakter wat werklik waarde aan die Iminathi Ranch se kudde sal toevoeg.
Die dragtige vers BMB 230011 van Ridwaan Moola van MB Moola-boerdery by Heilbron, Vrystaat, is vir R400 000 aan Jarren en Simeon Hurwitz van Hurwitz Farms by Davel, Mpumalanga verkoop. Dit was die hoogste prys vir ’n dragtige vers. Keith Peinke van Peinke Ranch in Oos-Londen se dragtige koei PRB 180048 is teen R280 000 aan Paul de Wet van Green Valley Borane van Kestell verkoop. Die hoogste prys vir ’n 3-in-1 was R220 000 vir JJP 210020 van Johannes (Wors) Prinsloo van Jolopahe Boran van Bela-Bela. Die koper was Danny Consalves van Koedoeskop.
Die gemiddelde pryse was:
- Bulle: R256 000.
- Koeie met kalwers (3-in-1): R67 740.
- Dragtige koeie: R83 263.
- Dragtige verse: R68 625.
Grobbelaar beklemtoon dat biosekuriteit streng toegepas is en protokolle nougeset gevolg is te midde van bek-en-klouseerkwessies tydens die veiling. Daarmee saam is Boran-produksieveilings landwyd steeds in volle swang met goeie pryse en groot belangstelling. Grobbelaar moedig boere aan om protokolle na te kom en vertroue in die gesondheid van diere te behou.
Boran-telers se passie word beloon
Top presteerders is vereer tydens die dinee wat voor die veiling plaasgevind het. Die Douglas en Tim Ralfe-trofee vir rasbevordering is aan Gerrit Potgieter toegeken.
Die Jacques Moll senior-gedenktrofee vir kuddes van 100+ koeie is aan Vastrap Borane van Quentin en Marisa de Bruynvan Ladybrand in die Oos-Vrystaat toegeken. Die Janvos Landgoed Borane-stoetery naby Davel in Mpumalanga van Jan Grey en kuddebestuurder, Hendy-Hein Mathews, was tweede. Gerrie Oelofsese van Gerben Borane CC van Louis Trichardt was derde.
Die Simon Hodgson-trofee vir kuddes met 25–49 koeie is aan Henk Botha van die Botha Familie Trust (BFT Borane) in Cedarville, KwaZulu-Natal toegeken. Bloodline Borane van Zippo Lamprech by Dewetsdorp was tweede, en Jannie Meyer & Seuns Boerdery se Mountain View-stoetery by Mosselbaai was derde.
Die Dave Green-gedenktrofee vir kuddes met 50–99 koeie het aan Keith Peinke gegaan. Palmyra Boran-stoetboerdery van Jordaan Jansen van Vuuren van Petrusburg was tweede, en Danie Strydom se Jabea Boran van Kroonstad derde.
The Crown Ranch van Pieter Strydom van Alma, Limpopo het die toekenning ontvang vir die beste vordering in vrugbaarheid onder kuddes met meer as 25 koeie. Die toekenning vir die vrugbaarste kudde (ook meer as 25 koeie) is aan die BFT Borane toegeken.
Benewens Potgieter wat as president verkies is, is die nuwe raadslede vir 2025 ook aangekondig. Gideon Botha is as visepresident herverkies en Pieter Genis as raadslid vir finansies. Marthinus Botha is as raadslid vir organisering, strukturiërin,g en lidmaatskap herkies. Johan Henning is raadslid vir produksie-opname, genomika, en SA Stamboek-skakeling. Quentin de Bruyn is nuut verkies as raadslid vir beleid en protokolle, sowel as nasionale en internasionale skakeling. Potgieter sal, benewens sy rol as president, steeds as raadslid vir bemarking en klubs dien. – Christal-Lize Muller, Plaas Media
Besoek gerus die Boran-genootskap se webtuiste by www.boran.org.za of skakel 051 410 0951 vir meer inligting.