Die Boran-genootskap wys weer sy staal

Estimated reading time: 5 minutes

Die Boran-beestelersgenootskap het weer sy staal gewys met sy jaarlikse dinee en nasionale veiling by die Afridome in Parys. Francois Smit, president van die genootskap, sê dit gaan goed in Borangeledere ondanks die ekonomiese druk waaronder beestelers in Suid-Afrika verkeer.

Hy skryf hul sukses en die groei van die ras grootliks toe aan die bykans 300 lede se aktiewe betrokkenheid. Die genootskap is trots op sy hegte familie-eenheid van telers wat saamwerk om die ras te bemark en te bevorder. “Daar is ’n sterk eensgesindheid en ’n gemeenskaplike doel om die Boran die bees van keuse te maak in die Suid-Afrikaanse beesbedryf.”  

Hy sê die Boran staan sterk met meer as 45 000 geregistreerde diere en dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe kuddes in die land groei, aangesien dit seleksiedruk verhoog. Smit glo deur selektiewe uitskot aan die onderpunt word die gehalte aan die bopunt voortdurend verbeter.    

Ekonomiese winsgewendheid in beesboerdery is tans ’n uitdaging, maar die genootskap bly op gehalte en verbetering gefokus. Veilingspryse bly sterk in die stoetmark, hoewel die kommersiële mark se druk uiteindelik die stoetmark kan beïnvloed. Die genootskap se antwoord hierop is om voortdurend die gehalte van hul aanbiedings op veilings en die nasionale veiling te verbeter. 

Lees meer oor die genootskap se 20 bestaansjaarvieringe hier.

Toewyding tot kuddeverbetering

Verskeie Boran-telers wat deur die jaar uitgeblink het in terme van kuddeverbetering, is op ’n spogdinee vereer. Christopher Havenga, rasdirekteur van die genootskap, het die Douglas en Tim Ralfe-trofee vir rasbevordering ontvang. Die Jacques Moll senior gedenktrofee vir 100+ koeie is aan Johan Henning van Marones Borane oorhandig. Jan Grey van Janvos-landgoed was tweede en Quentin du Bruyn van Vastrap Borane derde.

Gerrie Oelofse van Gerben Borane het die Dave Green-gedenktrofee vir 50 tot 99 koeie ontvang, met Paul Brits van Olifantsklip Borane en Henk Botha van die Botha-familietrust onderskeidelik tweede en derde. Brandon Brooks van Brooks Borane het die Simon Hodgson-trofee vir 25 tot 49 koeie ontvang. Gert Steffen van Kroonjuweel Borane was tweede en Keith Peinke van Peinke Ranch derde.

Stephnus Scheepers van SiRRS Borane het die toekenning vir die beste vordering vir vrugbaarheid met meer as 25 koeie ontvang. Die toekenning vir die vrugbaarste kudde met meer as 25 koeie is aan wyle Christo Crafford se Drostdy Borane toegeken.

Die genootskap se nuwe raad vir 2024 is ook tydens dié geleentheid aangewys. Smit is tot president en Gideon Botha tot vise-president herkies. Pieter Genis is die raadslid vir finansies, terwyl Marthinus Botha herkies is tot die raadslid vir organisering, strukturering en lidmaatskap. Johan Henning is die raadslid vir produksie-opname, genomika en skakeling met SA Stamboek, terwyl Gerrit Potgieter herkies is as raadslid vir bemarking en klubs.

Goeie pryse vir topgehalte-diere

Die hoogste prys op die veiling, wat deur Vleissentraal Frankfort aangebied is, was vir die bul JJP 180508 van Johannes (Wors) Prinsloo van Jolopahe Borane by Bela-Bela. Dié bul, Jolopahe Taboets, is vir R900 000 aan Rohan en Dylan Meintjes van Sterkfontein Borane by Krugersdorp verkoop.  

Kopers en verkopers van die duurste bul is, van links, Rohan en Venessa Meintjes (kopers), en Louisa Prinsloo en Wors Prinsloo (verkopers).
Kopers en verkopers van die duurste bul is, van links, Rohan en Venessa Meintjes (kopers), en Louisa Prinsloo en Wors Prinsloo (verkopers).

Vroulike diere het ook goeie pryse behaal met die dragtige vers PRB 220018 Britney van Keith Peinke wat die duurste vroulike dier op die veiling was. Sy is vir R450 000 aan Jarren en Simeon Hurwitz van Hurwitz Farming van Ermelo verkoop. Die duurste dragtige koei was BMK 170018 van Cor Meintjes van Savanna Borane van Brits, wat teen R190 000 deur Louis Neethling van Alfa Borane van Olifantshoek gekoop is.

Richard Horton van Boran WP van Clanwilliam se WPB 21-0049 Lucky Magic het die hoogste prys van R350 000 vir ’n dragtige koei-met-kalf (3-in-1) behaal. Paul de Wet van Green Valley Borane van Kestell was die koper. Green Valley Borane het ook die duurste koei-en-kalf, W 14-0560, teen R300 000 gekoop. Die verkoper was Deon Stegmann van Steggies Borane van Cradock.

Goeie gemiddelde pryse is op die veiling behaal met tien bulle wat teen ’n gemiddelde prys van R190 300 verkoop is. Van die vroulike diere wat aangebied is, is altesaam 57 dragtige verse teen gemiddeld R98 210 verkoop. Dragtige koeie is teen ’n gemiddelde prys van R100 000, en koeie met ’n kalf  teen ’n gemiddelde prys van R133 571 verkoop.

Die dragtige koeie met ’n kalf (3-in-1) is teen ’n gemiddelde prys van R149 000 verkoop. Nege embrio’s het ’n gemiddelde prys van R10 000 behaal. Die afslaer was Johan van der Nest.

Vir meer inligting, besoek die Boran-genootskap se webtuiste of kontak 051 410 0951. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Prickly pears as a grazing crop

Estimated reading time: 8 minutes The first prickly pears arrived in South Africa shortly after...

’n Belegging in prestasietoetsing verseker volhoubare kuddeverbetering

Estimated reading time: 4 minutes Diere se prestasie word bepaal deur hul genetiese samestelling sowel...

Pak die lente- en groenweidingsuitdagings trompop

Estimated reading time: 4 minutes Die lenteseisoen in Suid-Afrika se somerreënvalgebiede kan om verskeie redes...

Unlocking production potential, one step at a time

Estimated reading time: 8 minutes Unlocking the full production potential of the livestock industry –...