Koershou met Hennie

Met trots geborg deur Toyota SA.

Dans-dans op die rubber wat klou

Estimated reading time: 4 minutes

Die plaaskantoor is in November gewoonlik ‘n jolige plek, want die ooie gaan amper lam en die landerye bars uit hulle nate. Vanjaar was die gemoedere egter stil, so in die doodsnikke van die lente. Gesprekke was gedemp en almal was katvoet om Mbali, ons kwaai kantoorbestuurder en regte egte Zoeloeprinses.

Kantore is soos die huis – as ma gelukkig is, is almal gelukkig. In ons beknopte plaaskantoortjie is Mbali die ma en die rede vir haar donker gemoed was haar geliefde Hachi-Roku wat ten einde laaste die gees gegee het.

Hachi roku beteken ‘agt-ses’ in Japannees. Die nommers verwys nie na die moderne Toyota 86-tweesitplek waarvan Mbali daagliks droom nie, maar ‘n ingeduikte TRD Liftback wat al verskeie ongelukke oorleef het sedert Toyota hierdie AE86-model in 1984 in Suid-Afrika bekendgestel het.

Dis ’n dans!

Mbali het plaaslik roem verwerf in haar paneelklopper-neef se Liftback, toe sy die skares met haar uitstekende beheer tydens drifting– en spinning-kompetisies beïndruk het. Ons almal het al ’n paar van hierdie gewilde byeenkomste bygewoon om ons kantoorprinses te ondersteun. By elke wedren was dit duidelik uit die aanhangers se entoesiasme, waarom spinning as Suid-Afrika se vinnigsgroeiende motorsport beskou word.

Volgens my bly ‘n tydren egter die suiwerste vorm van motorsport en selfs daar is Mbali glad nie lui nie. Ek het haar een slag gevra hoekom sy dan verkies om in stadige sirkels te tol eerder as om teen die spoed van lig oor ’n smal baan te jaag. “Dit gaan nie net oor stadig in die rondte spin nie,” het sy verduidelik. “Dis eerder dat ek saam met my kar dans as die rubber so op hul nate aan die pad vasklou. Niks kan daai gevoel klop nie.”

Haar tollende dansmaat lok al skares na motorsportbyeenkomste sedert Toyota die AE86 in die 1980s vrygestel het. In Japan het die Trueno-model vinnig roem verwerf as ’n ekonomiese tydrenmotor wat goed presteer het op renbane en kronkelende bergpasse, ten spyte van minder krag en luukshede.

Die bestuurders van die A86 het nie omgegee nie, want behalwe vir bekostigbaarheid, het die kar perfekte balans gebied. Die ingenieurswerk het gesorg dat elke bietjie krag in elke rat tel en daarmee saam is alles aangedryf deur ’n hoë-revolusie enjin wat eenvoudig gesmeek het om tot by 7 600rpm gedruk te word.

’n Gevoel en ‘n half

Wat ‘n openbaring as jy eers agterkom hoe om met hierdie 900kg-voertuig in ’n draai in te drift terwyl jy met die hak en toon oorskakel na ’n laer rat … dis waarskynlik die naaste wat baie aspirant-jaers aan renhemel kan kom. Dis ‘n gevoel wat jy nie sommer vergeet nie en daarom verteenwoordig enige lopende AE86-model vandag ‘n gewilde, nostalgiese rit onder Gen X-versamelaars.

‘n Trueno wat in ‘n goeie toestand is – een wat nie te erg geroes is nie en met pop-up hoofligte wat steeds opspring – se lysprys is sowat US$40 000 op die menigte AE86 Corollas-forums. Dis baie geld, maar die 50-plussers is nie skaam om hiervoor hand in die sak te steek nie.

Ongelukkig is ‘goeie toestand’ nie ‘n akkurate beskrywing van die Liftback waarin Mbali haar danspassies uitgevoer het nie. Die plaaslike spinners ding met skrapse begrotings in hul skôrokôros mee en spandeer eerder hul geld op bande, brandstof en vering. Om geboë panele te vervang ná die hoë-revolusie pret, is nie hoog op hul prioriteitslys nie.

‘n Viking-begrafnis

En dit is dan waarom almal in die kantoor saggies om Mbali sluip. Die erg verrinneweerde raam van haar 41-jarige renperd het sy laaste asem uitgeblaas en sy was besig om ‘n grafrede vir haar Hachi-Roku se teraardebestelling te skryf. Dit sou ‘n Viking-begrafnis wees – Mbali het gevoel dit is ‘n meer gepaste einde vir haar legendariese ryding as om dit vir onderdele te stroop.

Gert, ons plaaswerktuigkundige, het haar probeer oortuig om nié haar ou Corolla aan die brand te steek nie – onderdele vir die TRD Liftback is so skaars soos hoendertande en boonop peperduur, het hy gesê. Maar sy was vasbeslote. Haar grafrede was ‘n eenvoudige haikoe: “My skôrokôro, dansend op die rand van rubber, die vlam van herinnering sal in my bly brand.”