Brahmantelers fokus op genetiese vordering

Estimated reading time: 4 minutes

Die Suid-Afrikaanse Brahman-telersgenootskap (Brahman SA) het onlangs sy jaarvergadering in KwaZulu-Natal gehou waar dit verskeie belangrike sake aangespreek het. Sytze Smit, die genootskap se rasdirekteur, het gesê dat die genootskap tans by verskeie opwindende projekte betrokke is wat die ras se toekoms sal verbeter. “Ons het tans 375 lede met sowat 57 000 ingeskrewe diere. Ons het die afgelope vier jaar 20 000 meer diere ingeskryf. Ons het ook weer na ons hulpstamboek gekyk en ou, afgekeurde koeie, na inspeksie, teruggebring op die hulpstamboek. Dit het baie voordele vir die genootskap ingehou.”

Die genootskap fokus ook sterk op die invordering van prestasiedata om genetiese vordering te maak.

“Dit is krities om meer datagedrewe te word omdat genotipering, wat die toonaangewende tegnologie gaan word, slegs akkuraat aangewend kan word as die insameling van fenotipiese data effektief is. Dit sluit nie net die tradisionele data soos 200, 400 en 600 dae gewigte in nie, maar ook eienskappe wat moeilik is om te meet soos dae tot kalwing, vleissagtheid, testesvorm en oogspieroppervlakte. Dit alles dra dan by tot die waarde wat ons uit die genotipiese analises kan kry.”

Brahman SA werk aan genetiese verbetering en internasionale vergelyking

Brahman SA het, saam met hulle eweknieë in Namibië, sewe jaar gelede aan die eerste rondte van die Vleisbees Genotiperingsprojek (BGP1) deelgeneem, waarvolgens hulle ‘n verwysingspopulasie begin bymekaarmaak het. Dit het hulle in staat gestel om nou gereed te wees om binne die volgende week of twee hopelik hulle eerste “single-step”-analises vanaf die Agricultural Business Research Institute (ABRI) terug te kry.

‘n “Single-step” analise kombineer fenotipiese data en stamboominligting met genomiese verwantskappe in ‘n toetspopulasie, wat dit dan moontlik maak om teelwaardes vir genomies ongetoetste diere te voorspel.

Hierdie proses, verduidelik Sytze, sal hulle in staat stel om die generasie-interval te verkort en vinniger genetiese vordering te maak.

“Ons groot uitdaging nou,” sê hy, “is om genetiese ontledings uit Amerika, wat die moederbron van die Brahmanbees is omdat die ras daar ontwikkel is, versoenbaar met ons eie ontledings te maak, omdat Amerika van ‘n ander genetiese ontledingstelsel gebruik maak. Ons verwag egter dat ons binne die volgende drie na vier jaar ‘n internasionale genetiese evaluassiestelsel sal hê wat die Brahman wêreldwyd met mekaar kan vergelyk. Dit sal ‘n reuse deurbraak vir die ras wees.”

Die Brahman se vleissagtheid

Sytze erken dat daar ‘n persepsie bestaan dat Brahmanvleis nie noodwendig van die sagste is nie. Brahman SA neem dit baie ernstig op en het wetenskaplike toetse laat doen om die persepsie te toets. Die persepsie lui dat beeste met skowwe taaier vleis het as beeste daarsonder.

“Ons het twee jaar gelede 51 suiwer Brahman bulletjies geslag en hulle vleis deur die Universiteit van die Vrystaat laat evalueer. Ons het ook skofmetings gedoen. Die hele groep het sagte vleis gehad volgens die Warner-Bratzler sagtheidskaal. Ons het dieselfde toets met ‘n ander groep uit KwaZulu-Natal gedoen. Hier was die resultate gemeng, met een derde sagte vleis en twee derde taaier vleis.”

Kyk saam na die Brahman SA-insetsel oor vleisgehalte hier.

Die voordeel van hierdie tipe van toetse met suiwer Brahmanbeeste, is dat daar ‘n direkte verwysing na beide die vaar en die moeder is, wat beteken dat die bulle wat sagter vleis teel geïdentifiseer kan word. Die mikpunt is om op ‘n punt te kom dat hulle met die trek van ‘n sterthaar die nageslag van bulle met sagte vleis kan identifiseer. 

“Omdat stres so ‘n groot rol by vleiskwaliteit speel, het Brahman SA ‘n makheidsmeting (docility score) in ons evaluasieproses ingewerk. Aan die een kant is dit so dat ‘n makker bul sagter vleis sal produseer as gevolg van laer stresvlakke, maar aan die ander kant identifiseer ons ook daardie bulle wat geneties sagter vleis het. Ons analises kon geen direkte verband tussen skofgrootte en sagtheidsgraad identifiseer nie.” – Izak Hofmeyr, Plaas Media