Estimated reading time: 5 minutes
Koffiebome in Lutzville – sowat 30km wes van Vredendal en 25km oos van die Weskus – klink dalk heeltemal onwaarskynlik, maar Riaan en Shantelle Engelbrecht het presies dié uitdaging met oortuiging aangepak. Ondanks negatiewe opmerkings werk hulle vandag hard om van hul koffieproduksie ’n groot sukses te maak. Só het Namaqua Coffee ontstaan.
Die begin van ’n koffie-uitdaging
Riaan is eintlik ’n elektrisiën van beroep en het vroeër jare vir ’n Duitse maatskappy in Durban gewerk, maar sy werk het beteken dat hy sy gesin min gesien het. Omdat sy gesin vir hom baie belangrik is, het hy en Shantelle besluit om terug te keer na Lutzville, waar sy pa ’n druiweprodusent is.
Riaan is egter lief vir uitdagings en wou iets anders doen as om met druiwe te boer. Sy belangstelling in koffiebome het begin toe hulle twee boompies in Natal gekoop het.
“Die boompies het omtrent 1m hoog geword en ek het begin wonder wat die volgende stap is. Hoe gemaak wanneer die boompies begin dra? Hoe rooster ’n mens die bone? Ons het baie navorsing gedoen en besluit om ’n koffieplantasie in Lutzville te vestig. Mense het ons daarteen gewaarsku, aangesien koffiebome ’n tropiese klimaat verkies en die hoogte bo seespieël nie in ons guns tel nie. Die groot temperatuurverskille waaraan ons gewoond is, is iets wat die koffiebome nie verdra nie. Ten spyte van al hierdie faktore het ons 100 boompies aangeskaf en in 2019 hier kom plant. Die helfte van die boompies het egter gevrek nog voordat ons hulle kon plant, maar die ander helfte is nou omtrent 2m meter hoog. Verlede jaar het ons ’n goeie oes gehad,” vertel hy.
Sovêr bekend is hulle die enigste mense in die Wes-Kaap wat koffiebome aanplant en ook die mees suidelike koffieprodusente ter wêreld.
Die eerste 50 boompies is oor ’n klein area geplant en onder nette geplaas. Intussen het hulle nog sowat 450 boompies geplant in ’n area wat bietjie hoër geleë is, maar hierdie keer sonder die nette. Hulle wil eers sien hoe die boompies vaar sonder dié ekstra beskerming.
“Ons uiteindelike ideaal is om 30 000 bome oor ’n area van 12ha te plant. Die bome neem nie so baie plek nie, en as dit goed beplan word kan ’n mens heelwat produksie daaruit kry.”
Eksklusiewe koffie is die mikpunt
Hy vertel dat hulle eerste werklike oes eers in 2025 gekom het, en hy en Shantelle het sommer van die begin af besluit dat hulle eksklusiewe koffie wil produseer.
“Ons het op die Arabica-koffie besluit. Dit is ’n unieke variëteit wat nie in massa soos Robusta geproduseer word nie, maar ons het gevind dat Arabica ’n beter gehalte koffie lewer. Die bome is ook selfbestuiwend, dus benodig jy nie byekorwe hiervoor nie. Ons doel is nie massaproduksie nie, maar om gehalte koffie vir die mark aan te bied.”
“Om te bepaal of ons nog op die regte pad is, het ons verlede jaar ons eerste klein oes deur ’n Q-gradeerder wat op internasionale standaarde geskoei is, laat evalueer. Volgens die verslae lyk alles baie belowend. Om spesialiteitskoffie te produseer moet jou cupping score meer as 80 wees en ons het met die eerste probeerslag reeds 79,5 behaal. Daar is dus goeie kans dat ons uiteindelik spesialiteitskoffie gaan produseer,” vertel hy opgewonde.
Bemarking en produksie
Riaan en Shantelle het ook besluit om die bemarking van hul koffie op ’n hoë vlak aan te pak. Buiten hul aanlynwinkel en proelokaal op die plaas, het hulle ’n sleepwa ingerig met van die beste koffiemasjiene wat hulle na skoue en groot geleenthede neem.
Te oordeel aan die hoeveelheid mense wat hul sleepwa besoek, is dit duidelik dat hierdie Namaqua Coffee groot aanvraag geniet. Aangesien hul eerste koffie-oes nog nie massaproduksie kan lewer nie, koop hulle nog koffiebone uit Brasilië, Colombia, Tanzanië en Burundi, wat Riaan self rooster. Hulle glo egter dat hulle binne die volgende tien jaar slegs hul eie koffiebone gaan gebruik.
“Die geheim lê eintlik in die rooster van die koffie. Baie faktore bepaal of jou koffie onder die bestes gaan eindig. Vir ons is dit belangrik dat hierdie proses goed verloop, sodat ons gehalte koffie aan ons kliënte kan bedien.”
Eerste suksesse reeds behaal
Om hulself teen ander koffieprodusente te meet, het Riaan en Shantelle hul produk by twee kompetisies ingeskryf en het onder meer die SA Food and Beverage-goue toekenning sowel as die Auraura International Taste Challenge-goue toekenning ontvang.
Hulle het van die ou wastoor op die plaas ’n pragtige proelokaal gemaak, waar hulle proegeleenthede aanbied en ook die bone rooster. Riaan vertel dat baie mense hul lokaal besoek, en daar het hy reeds verskeie privaatresepte gerooster wat sekere koffiewinkels gebruik.
Vir Riaan en Shantelle is dit ’n opwindende projek wat hulle met groot passie aanpak. Hulle het nog groot planne vir die toekoms om die beste koffie in die land te produseer. Natuurlik is die uiteindelike oogmerk ’n smaaklike nalatenskap vir hul drie dogters. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel Riaan Engelbrecht by 082 411 1758 of besoek www.namaquacoffee.co.za